Gedagte vir kinders: Hulle wat in Jesus glo,
sonder dat hulle Hom gesien het, is baie gelukkig.
Oorsig: Die Here Jesus het uit die dood opgestaan op
die eerste dag van die week. Op daardie dag, in die aand, het die dissipels
bymekaar gekom en die deure gesluit uit vrees vir die Jode. Maar Jesus het
skielik in hulle midde gestaan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” Daarna het
Hy sy hande en sy gewys om te bevestig dat dit Hy was, en toe was die dissipels
verskriklik bly (v. 19-20). Die Here Jesus het toe weer vir ’n tweede keer vir hulle
gesê: “Vrede vir julle!” En Hy het hulle toe ’n opdrag gegee: “Soos die Vader
My gestuur het, stuur ek julle ook.” Daarna het Hy op hulle geblaas en gesê:
“Ontvang die Heilige Gees.” (v.21-22). Hy het vir hulle gesê dat as hulle die
mense hulle sondes vergewe, dan sou dit vergewe word, en as hulle die mense se
sondes teen hulle hou, sou dit teen hulle gehou word (v.23; vgl. Mt. 16:19).
Thomas, wat
een van die 12 apostels was en Didimus (tweeling) genoem is, was nie saam daar
toe dit gebeur het nie. Toe die ander hom vertel dat hulle die Here gesien het,
het hy in ongeloof geantwoord dat as hy nie die merke van die spykers en die
spies sien aan sy hande en sy sien en daaraan raak nie, sal hy nooit glo nie
(v.24-25). En toe kom die Here Jesus Thomas se ongeloof sowaar tegemoet. Want
agt dae daarna (sewe dae in ons taal, want die Jode het die dag wat dit gebeur
het saamgetel), met ander woorde weer op die eerste dag van die week, het dit weer
gebeur. Die dissipels was saam met Thomas binne met die deure gesluit. En Jesus
het gekom en in hul midde gestaan en weer gesê: “Vrede vir julle!” (v.26).
Daarna het
Hy vir Thomas gesê om sy vinger te bring en in sy hande te kyk, en om sy hand
in sy sy te steek. En Hy het hom opgeroep om nie ongelowig te wees nie, maar
gelowig. Thomas het Hom geantwoord (let wel, nie maar bloot ’n uitroep in die
lug gegee nie): My Here en my God! (v.27-28). Daarmee het hy bely dat Jesus God
is, soos Johannes reeds in die eerste hoofstuk gesê het (1:1). Hy het daarmee ook
bely dat Jesus sy persoonlike (“’my”) Here en God is. Die Here Jesus het toe
vir Thomas gesê dat hy geglo het omdat hy gesien het, en toe ’n saligspreking uitgespreek:
Salig is elkeen wat Hom nie gesien het nie en tog geglo het (v.29). So het Hy
’n saligspreking uitgespreek oor elkeen, ook ons, wat nog sou glo. Johannes
gaan dan voort en vertel dat die Here Jesus nog baie ander wonders (“tekens”)
gedoen het wat hy nie vertel het nie. Dit wat hy wel vertel het, se doel is dat
die lesers kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat ons deur
te glo, die lewe kan hê in sy Naam (v.30-31).
Besprekingsvraag: Watter waarde het die ongelowige Thomas vir ons?
Insig: Die Here Jesus verskyn twee keer op die eerste dag van die week aan die dissipels, in hulle midde. So vestig Hy ’n beeld van wanneer, waar en hoe die Here Jesus Homself steeds besonders openbaar:
Die (1) samekoms van gelowiges
op (2) die eerste dag van die week met (3) Jesus Christus in die sentrum
daarvan. Laat ons hoor dat Thomas dit die eerste keer ontbeer. Ons kan dankbaar
oor Thomas wees, want so hoor ons dat die Here Jesus diegene wat eerlik twyfel,
tegemoet kom. Thomas “Tweeling” wys op ’n ongemaklike tweeling van geloof en
ongeloof wat ook in ons kan woed. En tog bevestig Jesus Christus ook aan Thomas
as apostel dat Hy lewe en Hy roep hom en ons wat nie gesien het nie, om te glo,
en met die wonderlike belofte van sy laaste saligspreking (vgl. 1 Pt. 1:8). Onthou
ook: Ons het dit wat hulle nog nie gehad het nie: Die volle Woord,
geloofwaardige getuies, die sakramente, die Heilige Gees, en die konsepte en
kategorieë wat die Kerk oor duisende jare ontwikkel het om ons te help om sin
te maak hoe Jesus die dood kon oorwin. Want Hy wat merke het aan sy verheerlikte
liggaam, is ook God. Sodat ons Hom net soos die Vader kan eer (vgl. Joh. 5:23).
Let op die groot genade hier: Wanneer die Here Jesus verskyn, is sy
eerste woord, vrede. Hy neem nie kwalik nie, maar spreek vrede uit wat Hy
bewerkstellig het deur sy kruis. Ons mag God se guns en seën beleef omdat
Christus vir ons gesterf het. Hy herhaal die vrede om te bevestig hoe vas dit
is. En dan stuur Hy hulle, sy Kerk, uit net soos wat die Vader Hom gestuur het.
As God dus die wêreld so lief gehad het dat Hy sy Seun gegee het, beteken dit nou
dat Hy ook sy Kerk as liggaam van Christus vir die wêreld uitstuur. En dadelik
word sy Kerk weer omvou deur die genade, want Hy blaas op sy Kerk sodat hulle
die Heilige Gees se nuwe werking kan ontvang op grond van sy kruisdood (vgl.
Gen. 2:7; Es. 37:9). So bevestig Hy dat die Kerk se taak bekragtig word deur
die Heilige Gees self en so omvou Hy ons in sy genade.
Dit is ook veelseggend om te hoor hoe die Kerk se taak verder beskrywe
word. Dit gaan ten diepste daaroor of ons sonde hanteer word in Jesus Christus
of nie (v.23). Die grondliggende boodskap van die Kerk gaan oor verlossing van
sonde en waar sonde nie in Christus afgelê word nie, het die Kerk as liggaam
van Christus die mag om deur die sleutels van die hemelryk die koninkryk toe te
sluit (vgl. HK 31). Die positiewe kant is egter dat mense deur Christus vergewe
mag word, en die genade mag beleef wat hierdie dissipels omvou. Ja, ons kan deel
hê aan Christus se vrede, sy Gees, en sy bekragtiging vir getuienis in hierdie wêreld.
Werke geraadpleeg
Matthew Henry
Ignatius Catholic Study Bible, New Testament.
John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.
Frederick
Dale Bruner, The Gospel of John: Pillar New Testament Commentary.
PS:
Bruner verwys na die volgende treffende aanhaling van Westcott om sin te maak
van die verband tussen die ontvangs van die Heilige Gees in Johannes met
Pinksterdag: “The relation of the Paschal to the
Pentecostal gift is therefore the relation of quickening to endowing (of
Baptism to Confirmation). The one answers to the power of the Resurrection and
the other to the power of the Ascension (Godet); the one to victory and the
other to sovereignty.”