Gedagte vir kinders: Die hele Ou testament profeteer van Jesus
Christus wat sou kom.
Oorsig: Op die dag van die Here Jesus se opstanding, was twee van sy dissipels
op pad na ’n dorp met naam van Emmaus wat so 12 kilometer van Jerusalem af was.
Hulle het met mekaar gepraat oor alles wat met Jesus Christus in Jerusalem
gebeur het (v.13-14). Terwyl hulle praat het Jesus self nader gekom en met
hulle saamgeloop. Hulle oë is egter verhinder om Hom te herken (v.15-16). Hy
het hulle toe gevra waaroor hulle praat en waarom hulle hartseer was.
Die een wie se naam Kleopas was, het verbaas gevra of Hy dan ’n vreemdeling
in Jerusalem was. Die Here Jesus het hulle verder uitgevra en hulle het toe
geantwoord dat dit gaan oor wat met Jesus die Nasarener gebeur het wat ’n
profeet was en dit gewys het in sy werk en woord voor God en die hele volk
(v.18-19). En tog is Hy toe deur die owerpriesters en owerstes oorgelewer tot
die doodstraf deur kruisiging. Hulle het bygevoeg dat hulle gehoop het dat Hy
die Een sou wees wat Israel sou verlos. Hulle het daarop gewys dat dit toe al
die derde dag was vandat die kruisiging plaasgevind het, en dat sommige vroue
hulle ontstel het nadat hulle by die graf was. Want hulle het sy liggaam nie
gekry nie, en toe ook ’n gesig gesien van engele wat gesê dat Hy lewe. So het ander
ook na die graf gegaan en dit soos die vroue gevind, maar Hom het hulle nie
gesien nie (v.20-24).
Die Here Jesus het toe geantwoord dat hulle onverstandiges is met harte
wat traag is om alles te glo wat die profete gespreek het. Hy het daarop gewys
dat die Christus juis so moes ly en sy heerlikheid ingaan. Toe het Hy van Moses
af (die eerste vyf boeke) vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op
Hom betrekking het (v.25-27). So het hulle by Emmaus aangekom en die Here het
gemaak of Hy verder wou gaan. Hulle het by Hom aangedring om by hulle te bly
omdat dit amper aand was. Hy het toe ingewillig en aan tafel het Hy gedoen wat
Hy ook by die vermeerdering van brode en by die eerste nagmaal gedoen het. Hy
het die brood geneem, gedank, dit gebreek en aan hulle gegee (v.28-30). Toe het
hulle oë oopgegaan en het hulle Hom erken. Daarop het Hy uit hulle gesig
verdwyn. Hulle het toe erken hoe brandend hulle harte was toe Hy op die pad die
Skrifte vir hulle uitgelê het. Hulle het toe dadelik opgestaan en teruggegaan
na Jerusalem. Daar het die dissipels hulle vertel dat die Here aan Simon
verskyn het. Hulle het toe ook vertel wat op hulle pad gebeur het en hoe die
Here Jesus aan hulle bekend geword het by die breking van die brood (v.31-35).
Besprekingsvraag: Noem gedeeltes uit die Ou Testament wat duidelik heenwys na Christus.
Insig: Ons verneem hier van die eerste wandel en die eerste maaltyd in die nuwe skepping wat Christus deur sy opstanding ingelei het. Adam en Eva wandel met God, maar hulle oë gaan oop vir hul sonde toe hulle eiewillig eet. Hierdie dissipels se oë gaan oop vir die Verlosser nadat hulle met Hom wandel, en deur sy Woord en brood gevoed word.
Die noue samehang tussen
Woord en sakrament as middel waardeur Christus Hom openbaar, bied steeds
belangrike aanduidings van die weg waarop Christus Homself aan ons openbaar en
ons onverstandigheid en harte wat traag is om te glo, te hulp kom. Daarom bly
die liturgie van Woord en sakrament so kosbaar in die erediens. Dit is opmerklik
dat Christus enersyds eers die weg van die Woord gebruik en noodsaaklik ag as
die weg waarin Hy Homself besonders openbaar. Andersyds moet ons kennis daarvan
neem dat die volle openbaring hier eers in gemeenskap met Christus plaasvind by
die tafel wat sterk na die nagmaal heenwys. Woord en sakrament veronderstel
mekaar in Christus.
Watter gedeeltes het die Here Jesus op die pad
uitgelê? Drie voorstelle: Ons kan dink aan die hele beweging van Bybelse
teologie vandag wat verstommende werk al gelewer het oor hoe om die hele Ou Testament
in Christus te lees. Ons sou ook op bekende, dog uiteenlopende beelde uit die
Ou Testament wys wat dui op ’n besondere Saad, Koning, Profeet, Priester (vgl.
ook die offers), Kneg, Seun van die mens wat sou kom (vgl. HK antwoord 19). En
dan hoe Christus al hierdie lyne op verstommende wyse in Homself verenig, saamtrek
en vervul. Miskien is dit die beste om te begin by die OT-tekste wat Lukas
behandel in aanloop tot die kruis en ook daarna in Handelinge (vgl. Luk. 3:4-6;
4:18-19; 13:35, 19:38, 20:42-43; 21:27; Hand. 2:17-21; 2:25-28; 3:25; 13:34-35).
En dan te gaan op ’n heerlike
ontdekkingsreis in die hele Nuwe Testament en van daaruit die patrone en trajekte
vir verdere Skrifontdekking onderneem. Daar is soveel ou en nuwe kosbare bronne
hieroor beskikbaar.
Die volle oopgaan hiervan gebeur egter altyd in
gemeenskap met Christus. Tafelgemeenskap word dikwels in Lukas gevind en dui op
verbond, intimiteit en vriendskap. In Christus kan elke sondaar met Hom versoen
word en die voorreg van ware gemeenskap smaak. Elke nagmaal beleef ons dit
besonders en kyk ons ook vooruit na die heerlike vervulling daarvan. Daar sal
Hy op ’n nuwe wyse by ons wees. Die wonder is dat Hy nou reeds met ons is, en
by die nagmaal ervaar ons dit reeds in die geloof met al ons sintuie. Eendag
sal dit volmaak wees.
Werke geraadpleeg
J.
Bergsma, The Word of the Lord. Sunday Readings for Year A.
Darrell Bock. Luke: NIV Application
Commentary.
R.C. Sproul. Luke: An Expositional
Commentary.
R. T. France: Luke: Teach the Text Commentary Series.