Lees: Mt. 18:21-28
Gedagte vir kinders: Ons moet
soos die Here Jesus met mense werk wat sonde doen.
Oorsig: Die dissipels het pas vantevore vir die Here Jesus gevra wie
die grootste in die koninkryk van die hemele is. Die Here het die geleentheid
toe gebruik om met sy dissipels te praat oor hoe belangrik dit is om nederig,
kinderlik en eensgesind te wees (vgl. Mt. 18:1-14). Daarna het Hy voortgegaan
en hulle geleer wat om te doen as ’n mede-dissipel die eenheid verbreek deur sonde.
Dit gaan hier oor enige sonde wat duidelik teen God se Woord is en wat gebeur tussen
persone as broeders en susters en as deel van die dieselfde gemeente. Die Here Jesus
het hieroor gewys op drie basiese stappe.
’n Mens moet eerstens die persoon gaan vermaan tussen jou en
hom alleen, en as die persoon luister is die saak uitgeklaar en die mede-broeder
(of suster) teruggewen vir die Here (v.15). As die persoon egter nie luister
nie, moet die volgende stap geneem word. Jy moet een of twee met jou saamneem
as getuies sodat dit kan gebeur wat in die Bybel staan – dat in die monde van
twee of drie getuies elke woord kan vasstaan (v.16; vgl. Dt. 19:15). As die persoon
ook na hulle nie luister nie, word dit aan die hele gemeente gesê en as hy
daarna steeds nie luister nie, moet die persoon vir jou wees soos die heiden en
die tollenaar (v.17). Dit beteken nie dat alle kontak vir altyd verbreek word
nie, maar hulle word nou hanteer as mense wat buite die koninkryk staan en nog
tot bekering moet kom.
Die Here Jesus het toe sy vroeëre woorde aan Petrus (Mt. 16:18-19),
nou vir al die dissipels en daarmee vir sy hele Kerk herhaal: Alles wat hulle op
die aarde bind (gebind aan hul sonde), sal in die hemel gebonde wees; en alles
wat hulle op die aarde ontbind (deur vry te spreek), sal in die hemel ontbonde
wees (v.18). Hy het dit toe op ’n ander manier herhaal en ons moet onthou om
dit in die eerste plek toe te pas op kerklike tug: As twee dissipels saamstem
op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, sal hulle verhoor word deur sy
Vader wat in die hemele is (v.19). Die Here het toe die rede vir hierdie
kragtige belofte gegee: Daar waar twee of drie in sy Naam vergader, daar is Hy
self in hulle midde (v.20). Let daarop dat die Here Jesus nie gesê het dat Hy
dan in hulle midde sal wees nie, maar dat Hy reeds daar is waar hulle in sy
Naam vergader is. So het Hy ook bevestig dat Hy God is. Daarom mag elke klein
groepie wat opreg in sy Naam bymekaar is om Hom te erken, reken op die kragtige
teenwoordigheid en verhoring van gelowiges se gebede, veral by egte vermaning
in die gemeente.
Besprekingsvraag: Waarom
het ons makliker konflik met die mense wat naby aan ons is?
Insig: Ons luister hier na die klassieke teksgedeelte oor kerklike tug, wat ook genoem word die Magna Carta van konfrontasie (Bruner). Alle instellings het dissiplinêre kodes, maar die Kerk van Christus het besondere opdragte en besondere beloftes wat in die hemel hieroor eggo en behoort die toon aan te gee. Ons Here is baie duidelik oor die wyse, die proses en die doel.
Ons behoort dit met ’n nederige, kinderlike gesindheid te doen (v.1-4) en te werk soos met familie (vgl. v. 15). In die Kerk is ons almal gedoop in dieselfde Naam en het deel aan Hom en met mekaar deur genade alleen (Mat. 12:47-50). Daarom kan ons nie uit die hoogte met mekaar omgaan nie, maar eerder met selfondersoek en ’n gees van sagmoedigheid (Gal. 6:1), terwyl ons geduldig eers deur sagter prosesse werk met die een groot doel om ’n broeder of suster terug te wen vir die Here (v.15). Die Kerkvader, Augustinus, het dit treffend opgesom: Ons kan nie die sonde goedpraat of nalaat om dit te hanteer of hoogmoedig hanteer nie.Familie maak dit ook moeiliker. Ons
diepste verskille ontstaan dikwels juis met die mense naaste aan ons omdat ons
diepste weefsels geraak word. Dink maar aan Kain en Abel, Esau en Jakob, Israel
en Juda. Die hele Ou Testament is vol broedertwis. Uiteindelik hoor ons van die
(verlore) oudste en die verlore jongste seun. Die goeie nuus is dat ons ouer
Broer, Jesus Christus, Homself vir ons gegee het om ons met Hom en mekaar te
versoen (Hebr. 2:11). In hierdie Gees werk ons dan met afvallige broeders en
susters. Selfs wanneer iemand later soos die heiden en tollenaar hanteer moet word,
onthou ons hoe Christus met hulle omgegaan het. As deel van sy Kerk moet iemand
hoor dat hardnekkige sonde nie pas nie. Ná afsnyding moet iemand hoor dat Christus
steeds red as jy jou bekeer en Hom aanroep (Leithart).
Maar eers moet ons met die gesindheid
van Christus deeglik deur die prosesse werk. Jy mag en moet eers alleen na ’n
broeder gaan wat teen jou sondig (vgl. Lev. 19:17). Eers daarna kan meerdere
getuies betrek word, by implikasie opgeleide en wyse ampsdraers. Dit gee ook
groter objektiwiteit en oorredingskrag. By hardnekkige onbekeerlikheid kan later
die hele gemeente betrek word. Die Kerk het die besondere belofte van Christus (nie
net Petrus nie) wat haar besluite in sy Naam bevestig. Die Kerk is daarom besondere
instrument in die hand van Christus, in teenstelling met valse profete van die
staat. Net Christus kan dit waar maak. Daarvoor het Hy kruis toe gegaan en sy
Gees uitgestort. Daarom kan die Kerk vir die wêreld wys hoe egte bemiddeling
lyk en in Christus dit uitleef. So word ware dissipelskap gekweek.
Werke geraadpleeg
John
Bergsma, The Word of the Lord. Year A.
Frederick
D Bruner, Matthew: A Commentary. Bruner maak die volgende veelseggende toepassings: Wat was
die Kerk se rol onder die Nazi’s en onder die ou bedeling in Suid-Afrika? ’n
Mens sou kon byvoeg ter wille van ewewigtigheid en konsekwentheid: “ook in die nuwe bedeling in Suid-Afrika? Hy
wys ook daarop dat ons in Mattheus enersyds leer om enersyds lankmoedig met
almal te wees (Mat. 13:24-30) en andersyds tog ook soos hier die sonde nederig
dog ferm te konfronteer. Ons faal wanneer ons nie beide sake bymekaar hou nie.
En tog is dit die unieke weg van Christene.
Peter Leithart, The Gospel of Matthew
Through New Eyes.
Lawrence R Farley, The Gospel of
Matthew: Torah for the Church.