Lees:
Mt. 16:21-28
Gedagte vir kinders: Ons
vind ons volle lewe wanneer ons dit weggee vir die Here.
Oorsig: Dit is een ding om te erken dat die Jesus die Christus is.
Dit is iets anders om ook te erken hoe Hy die Messias is en wat dit beteken vir
elkeen wat Hom volg. In hierdie gedeelte kry ons met twee definitiewe dele te
make. Ons hoor eers hoe die Here Jesus vir Petrus bestraf oor sy siening van
sukses (v.21-23). Daarna verneem ons van die Here Jesus se roeping tot dissipelskap
(v.24-28).
Net nadat Petrus die wonderlike belydenis gemaak het dat
Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God, het Hy vir hulle gesê dat
hulle vir niemand moes sê nie. Mense het Hom
net gesien as ’n aardse koning. Van toe af het die Here duideliker vir
hulle begin wys dat Hy in Jerusalem onder die erkende leiers, die ouderlinge ,
die owerpriesters en die skrifgeleerdes sou ly. Hy sou selfs gedood word en op
die derde dag opgewek word (v.21). Petrus het die Here Jesus hieroor eenkant
toe geneem en dit selfs gewaag om die Here teen te gaan oor sy woorde: “’Mag
God dit keer Here, dit sal U nooit oorkom nie” (v.22). Die Here Jesus het egter
omgedraai en vir die dieselfde Petrus wat Hy pas van tevore bemoedig het oor sy
belydenis oor die Christus, gesê: “Gaan weg agter my satan! Jy is vir my ’n
struikelblok omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die
mense.” (v.23)
Die Here het daarna vir sy dissipels sy pad verduidelik en
wat dit vir sy navolgers sou beteken. Hy het gesê dat as iemand agter Hom wil
aankom, hy (1) homself moet verloën, (2) sy kruis opneem en (3) Hom moet volg
(v.24). Die rede is dat elkeen wat sy lewe ten alle koste wou red, dit sal
verloor, maar dat elkeen wat bereid is om sy lewe ter wille van Jesus te
verloor, dit sal vind (v.25). Die Here het bygevoeg dat dit tog niks baat om
die hele wêreld te win as jy aan jou siel skade ly nie (v.26). Hy het ook ’n
tweede retoriese vraag gevra: Wat kan tog groot of belangrik genoeg wees om jou
siel los te koop? Die antwoord is dat daar niks is wat groot genoeg is nie.
Jesus het toe daarop gewys dat Hy, die Seun van die Mens, gereed is om met sy
engele in die heerlikheid van sy Vader te kom en dan elkeen sal vergeld volgens
sy dade en dit beteken spesifiek of hulle Jesus Christus gevolg het (v.27). Toe
het Hy gesê dat sommige onder hulle nie sou doodgaan voordat hulle Hom in sy
koninkryk sien kom het nie. Dit het ook gebeur, reeds by die verheerliking op
die berg daarna, en later met Hemelvaart en op Pinksterdag (v.28; vgl. Dan.
7:13-14; Hand. 1-2).
Besprekingsvraag: Kan ons
verwagtinge oor die Messias vandag steeds die punt mis?
Insig: Terwyl Petrus in die
voorafgaande gedeelte dien tot bemoediging oor die Kerk as kragtige instrumente
en ons as deel daarvan, dien hy hier ook as vermaning aan die Kerk om nie
instrumente in die hand van die satan te word nie. Die kerkgeskiedenis dui ook
op slegte voorbeelde hiervan en ons behoort ook in ons persoonlike lewens op
ons hoede daarvoor te wees, veral na ’n geestelike hoogtepunt. Die feit dat jy
instrument was beteken nie dat jy nie weer later vermaan moet word nie (vgl. Hand.
2; Gal. 2:11-21).
Hoe gebeur dit? Uit die gedeelte is
dit duidelik dat twee dinge nie dig by mekaar gehou word nie. Ons moet enersyds
erken dat Jesus Christus wel die Seun van die lewende God is. Ons moet andersyds
ook duidelikheid hê oor hoe Hy die Christus is en wat dit vir ons lewens
beteken. Want die weg van die Christus loop langs die weg van vernedering en
die kruis na die verhoging. Ons praat maklik van die aardse Messias-verwagtinge
van destyds wat nie sin kon maak van ’n kruis as deel van die oorwinning nie,
maar ons kan steeds so maklik daarin vasval. Dit hang ook by ons steeds saam met
ons visie van die suksesvolle lewe. Ons het steeds moeite om dit in verband te
bring met die nederige weg waarin ons sekere dinge bewustelik opsê om self ook
kruisvormige Christene te word, verbonde aan Hom wat gekom het om die kruisweg
te stap en ons te verlos van waan-idees oor die suksesvolle lewe.
Wat beteken dit in praktyk? Ons
gelese gedeelte verduidelik dieselfde met drie beskrywings. Die lewende
Christus roep jou om (1) jouself te verloën en (2) jou kruis op te neem, en (3)
om Jesus Christus te volg. Dit is ’n oproep tot egte dissipelskap en vereis definitiewe
keuses. Dit spel in unieke terme uit wat dit beteken om in Jesus te bly (vgl.
Joh. 15:5) en in Christus te wees (vgl. Gal. 6:15). In die sentrum daarvan
staan die gekruisigde lewe wat net deur verbondenheid aan Christus in ons lewe
waar kan word. Dit is ’n lewe waarin daar afgesien word van die self ter wille
van Christus, om selfs in die openbaar verguising en onregverdige behandeling
te verduur. Dit beteken dat ons teen die kultuur ingaan as dit nodig is en
selfs bereid om die uiterste prys van die dood om Christus ontwil te betaal. Tog
is dit ook die weg waarop ons nou reeds die lewe vind. Ons vind in elk geval die
ware lewe wanneer ons nie so hardnekkig vasklou dat ons nie waag nie (vgl.
dapperheid in oorlog), maar dit geld hier in besonder met betrekking tot Jesus
Christus wat ook as Regter eenmaal die laaste oordeel sal fel. Die keuse en die
vind van LEWE en avontuur in Hom begin egter reeds hier.
Werke geraadpleeg
John
Bergsma, The Word of the Lord. Year A.
Frederick D Bruner, Matthew: A Commentary.