Gedagte vir kinders: Jesus Christus
red hulle wat sink en na Hom roep.
Oorsig: Nadat die Here Jesus die
skare van duisende (5000 manne met vroue en kinders) gevoed het, het Hy dadelik
sy dissipels gedwing om in die skuit op die see van Galilea oor te vaar na die
oorkant, terwyl Hy die skare weggestuur het. Hy was nie te besig om dit eers
reg af te sluit en te praat met die wat nog wou nie. Daarna het Hy, anders as
ons wat so maklik na ’n hoogtepunt vergeet om daaroor te bid, op die berg geklim om te bid en Hy was daar
alleen toe dit aand geword het (v.22-23). Intussen was die skuit van die dissipels
in die middel van die see van Galilea, wat eintlik ’n meer was en ook die meer
van Genesaret genoem is. Daar kan nogal hewige storms op hierdie meer losbreek as
gevolg van winde naby verskillende bergreekse, en hul boot is erg geteister
deur die golwe, omdat die wind teen hulle was (v.24).
In die vierde nagwaak (tussen 3:00 en 6:00; vgl. ook Ex.
14:25) het die Here Jesus toe na hulle gekom op ’n manier wat ’n mens se asem
wegslaan. Hy het op die see geloop. Toe die dissipels Hom op see in die storm sien
loop, was hulle ontsteld en gesê dat hulle ’n spook sien. Hulle het midde hierdie
verskriklike storm toe geskreeu van vrees (v. 25-26). Die Here Jesus het egter
dadelik (let wel; vgl. Mt. 8:3,7) met hulle gespreek met woorde wat ook ons vandag
nog kan bemoedig: Hou goeie moed! Ek is (Dit is Ek)! Moenie vrees nie! (v.27).
Petrus het toe gevra dat as dit Hy is, Hy Petrus moet beveel om op die water na
Hom te kom. Die Here het toe gesê: Kom! En Petrus het van die skuit afgeklim en
sowaar op die water geloop om na Jesus te gaan (v.28-29). Maar toe sien Petrus
die sterk wind en word bang en toe begin hy sink. Hy roep toe en sê: Here, red
my! Die Here Jesus het dadelik (let wel) sy hand uitgesteek en hom gegryp en
daarna vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy getwyfel? (v.30-31).
Daarna het hulle in die skuit geklim en die wind het gaan lê.
Hulle wat in die boot was, het toe voor die Here Jesus neergeval en gesê:
Waarlik, U is die Seun van God! (v.32-33). Toe het hulle verder oorgevaar en in
die land van Genesaret gekom. Die mense daar het die Here Jesus herken en toe
in die hele omtrek almal wat siek was na Hom toe gebring (v.34-35). En hulle
het Hom gesmeek dat hulle net maar die soom van sy kleed mag aanraak; en almal
wat dit aangeraak het, het gesond geword (v.36).
Besprekingsvraag: Hoe laat
ons aan die letterlike én geestelike betekenis hier reg geskied?
Insig: Daar is ook verhale van loop op water in ander godsdienste en kulture, soos byvoorbeeld by Boeddha en by Homeros se verhaal oor Odysseus. Die saak word dan vinnig net simbolies verstaan en selfs gelowiges wil hierdie gedeelte net psigologiseer. Ons moet egter eers die gedeelte baie letterlik lees.
In die Bybel word die see dikwels voorgestel as
onstuimig en vol bedreiging en as simbool van die heidenwêreld. In die Ou
Testament leer ons egter reeds dat die HERE die Een is wat op die golwe loop en
daaroor beheer het (vgl. Job 9:8; Ps. 77:20; 107:23-32; Jes. 43:2, Hab. 3:15). Hier
hoor ons nou dat ook Jesus Christus op die golwe loop. Dit bevestig dat Hy God
is wat vlees geword het. Christus het mag oor die natuur om ons te voed (Mat.
14:14-21), en te red en te beskerm. Jesus Christus is waarlik God. Daarom kan
ons rustig raak en Hom saam met die dissipels aanbid as die Seun van God.
Hierdie letterlike verstaan open die
weg na verdere betekenis en toepassing vir ons. As Jesus Christus dan wel die
Seun van God is, kan sy woorde aan sy Kerk daar ook nou so vol betekenis wees:
Hou goeie moed! Ek is! Moenie vrees nie! Daar is baie verleenthede op ons pad
waar onstuimige toestande ons wil verlei tot vrees en intimidasie. Hoor dan
vandag hierdie woorde van die lewende Christus ook aan jou. Christus teenoor Petrus
leer ons ook iets van Christus teenoor sy Kerk. Hy roep ons tot grootse dade in
sy krag. Sy roeping gee krag en laat ons toetree. Maar die krag lê nooit in ons
nie. Ons kan maklik teen ons omstandighede vaskyk, en die storms buite in die
hart laat inkom, dat ons sink. Ook dan mag ons uitroep en bid. Hy gee uitkoms,
al sal die vermanende woord, darem eers daarna, nie uitbly nie. Ook ons is
maklik soos Petrus met geloof wat dikwels vermeng is met ongeloof (vgl. Mat. 16;
Gen. 12 en Dawid). Ons kan egter ook ons lesse leer en dan verder groei om verdere
uitdagings beter te hanteer.
Die fokus kan egter nooit op ons en
ons geloof wees nie, maar op die Christus wat sy Kerk te hulp kom, ook wanneer
ons in kleingeloof sink. Hy is die Seun
van God wat heers oor die skepping waarin ons leef. Hy is die Een wat hier in
gemeenskap met sy Vader bly bid, wat wandel op die see, wat roep en wat red.
Omdat Hy roep, kan sy Kerk wonderlike dinge vermag. Omdat Hy selfs dadelik red wanneer
ons in wanhoop sink en Hom aanroep (vgl. Ps. 31:23), het ons hoop. Sy mag en sy
genade en roeping skenk geloof en is groter as ons kleingeloof. Daarom het ons
moed, ook wanneer die Kerk soos hier, in die storms ingestuur word. Ja daarom
het ons moed om dissipels van die onstuimige nasies te maak, omdat Hy met ons
is (vgl. Mat. 28:18-20). Elkeen wat maar net aan Hom raak, sal volkome genees
word. En sy Kerk raak by die nagmaal nie net aan sy soom nie, maar aan sy
liggaam en sy bloed.
Werke geraadpleeg
NT Wright, Matthew for Everyone.
John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.
Lawrence, R Farley, The Gospel of Matthew:
Torah for the Church.
Peter J Leithart, The Gospel of Matthew: Jesus
as Israel.
Frederick D Bruner, Matthew: A Commentary.