Lees: Mat. 15:21-28
Gedagte vir kinders: Ons hoef
nooit moedeloos te word om vir die Here se genade te vra nie.
Oorsig: Net voor hierdie gedeelte hoor ons van tradisies (oorlewering van die ou
mense) en rituele, bygevoeg by die Ou Testament, wat in die pad van Christus se
innerlike reiniging kan staan en die bevrydende Woord (sola scriptura en
solus Christus) ontken. In hierdie gedeelte hoor ons hoe geloof in Christus
(sola fide) die belangrikste is en hoe ons so gereinig word en genesing mag
ken (vgl. Hand. 15:9). Die Here Jesus het vanaf Galilea
in die Noorde, saam met sy dissipels nog verder noord gegaan, tot selfs buite
die grense van Israel in die heidengebiede naby Tirus en Sidon (v. 1. Vgl. Luk.
4:26). Hulle wou moontlik rus en ook die mense laat nadink oor wat die beteken
as Christus weg is (vgl. Mat. 10:14). Daar het 'n Kananese vrou ('n Griekse
vrou van Siro-Fenisiese afkoms volgens Mk. 7:26) na Hom geroep met grootse
woorde.
Sy het Jesus respekvol as Here en
as Messias (Seun van Dawid) aangespreek en gevra dat Hy barmhartig sal wees. Haar
dogtertjie was erg van die duiwel besete (v.22). Die Here Jesus het haar nie
geantwoord nie. Sy het egter so aangehou dat die dissipels blykbaar ongemaklik
geraak het en Hom gevra het om haar (te help en dan) weg te stuur. Die Here
Jesus het bloot soos vroeër (vgl. Mt. 10:5-6) geantwoord dat Hy gestuur is na die
verlore skape van die volk van Israel. Uit Markus 7 leer ons ons dat Hy daar
iewers in 'n huis gegaan het. Ons kry vanuit Markus die indruk dat sy
daarvan gehoor het, op een of ander manier daar ingekom het, en toe voor sy
voete neergeval (neergebuig) het en weer gevra het: Here, help my! (v. 23-25).
Die Here het haar toe nogeens in
lyn met sy vorige woorde geantwoord en 'n beeld van 'n gesin met kinders en
hondjies gebruik. Sy roeping was in Israel en met sy dissipels. Dit was nie reg
om nou die sorg wat bedoel was hulle wat kinders was deur God se verbond met Israel, nou vir hondjies, bedoelende
heidene buite die verbond, te gee nie (v.26). Die vrou het egter 'n antwoord
van geloof gegee. Sy het in nederigheid erken dat sy nie as kind in die huis
erken kon word nie en dat Israel wel eerste moes kom. En tog het sy die beeld
gebruik om dit verder te voer: Die hondjies kry darem krummels en sy was selfs bereid
vir die krummels wat Israel by die Messias gekry het. Hierop het die Here Jesus
haar antwoord van geloof geëer. Hy het vir haar gesê: “O Vrou, groot is jou
geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê." Sommer so op afstand het
daardie vrou se dogter toe gesond geword, presies van daardie uur af (v. 27-28).
Besprekingsvraag: Hoe rym
ons Mt. 10:5-6 en 15:24 met Mat. 28:18-20?
Insig: Christus herhaal dit in sy bediening dat Hy gestuur is na die verlore skape van Israel (vgl. Mt. 10:5-6; 15:24; Rom. 15:8). Let egter op:
Dit gaan oor sy bediening voor sy kruiswerk. Voor sy
kruising was dit nog die bedeling van die ou verbond waarin God vanaf Abraham
’n besondere pad met Israel gestap het waardeur die Messias en die groot seën
na die wêreld gebring sou word. Christus was daarom juis trou aan God se
besondere beloftes aan Abraham deur Israel (vgl. Gen. 12:1-5; Gal. 3:13-14). Anders
beteken dit dat God se werk in die hele Ou Testament tot leuen gemaak word. En
tog, nadat die nuwe verbond deur Christus se versoening aangebreek het, was die
pad van verlossing oop na die heidene (Ef. 2:13-14). Hier het ons, soos elders
(vgl. Mat. 8:10), reeds eerste tekens en afwagtende inbrake in die ou verbond,
van die wonder van die nuwe verbond in Christus waaraan die heidene ook deel
het.
Tog bly God
se pad deur sy verbond belangrik. Hy gee besondere voorregte op hierdie die weg
wat op sy voorwaardes gesluit word (vgl. Rom. 9:4-5). Ons kan nie sommer net los
van sy verbond, aanspraak maak op sy genade nie. Hierdie vrou word duidelik tot
hierdie erkenning gebring. Drie maal slaan Christus skynbaar nie op haar ag
nie. Ons kan dit op twee vlakke hoor. Enersyds is dit die nederige weg
waarlangs sy (en ons) besef het dat sy baie groot nood het, maar geen aanspraak
nie. Sy kan maar net die Messias van die verbond erken en aanroep: “Wees
barmhartig...Here, help my.” Andersyds kan dit ook wees dat die Here Jesus wat
haar ken, tog ook die nogtans van geloofsworsteling aanwakker. Ons moet ook binne
die verbond leer om te bly pleit, al voel dit soms of daar geen gehoor is nie, en
nie te rus om die Here te herinner aan sy beloftes nie (vgl. Gen. 32:24-31; Jes.
62:6). Hierdie vrou neem nie aanstoot aan Christus se skynbare afwysing nie
(vgl. Job 13:15; 23:6), maar aanvaar God se weg deur Israel en deur sy verbond.
Maar sy lê ook beslag op Christus se eie woorde en pleit selfs vir krummels. So
lê sy reeds beslag op Paasfees waar krummels vir haar en vir ons voedsel word.
Die vrou
is reeds voor die kruisiging ’n simbool van wat waar mag wees van elkeen wat na
die Messias kom vir barmhartigheid. Israel is later hieroor jaloers gemaak. Die
heidene word ingeënt op die tak van Israel se verbond en Israeliete bly buite, maar
niemand kan dit as vanselfsprekend aanvaar nie (Rom. 11:17-22). Die weg tot en
in hierdie verbond is steeds: aanroeping, neerbuig, barmhartigheid vra, hulp
vra, volhardende beslag lê op Jesus Christus. Dit is die weg van seën in die
nuwe verbond in Christus vir al die geslagte van die aarde.
Werke geraadpleeg
NT Wright, Matthew for Everyone.
John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.
Lawrence, R Farley, The Gospel of Matthew:
Torah for the Church.
Peter J Leithart, The Gospel of Matthew:
Jesus as Israel.
Frederick D Bruner, Matthew: A Commentary.