Lees:
Mt. 16:13-20
Gedagte vir kinders: Jesus
Christus is die waarlik die Messias van die wêreld.
Oorsig: Die Here Jesus se bediening in Galilea in die noorde was naby
aan die einde daarvan. Hy kom toe met sy dissipels in die streke van ’n stad daar
wat vernoem is na die keiser en na Filippus, die seun van Herodes, wat dit
opgebou het: Cesarea-Filippi. Dit was op die grens tussen Israel en die heidenwêreld
en in die stad was daar ook bekende afgodsbeelde van Baal (van die Siriërs) en Pan
(van die Grieke. Moderne naam: Baniyas) en met die Keiser in die stadsnaam self
wat ook as goddelik beskou is. Naby hierdie groot godsdienste vra die Here
Jesus toe: Wie sê die mense dat Hy, die Seun van die mens is. Daarmee het Hy
eintlik reeds te kenne gegee dat Hy Koning en toekomstige wêreldregter is (v.
13; vgl. Dan 7:13-14).
Die dissipels het geantwoord dat sommige gesê het dat Hy
Johannes die Doper was (uit die dood opgestaan of tipe). Ander het gesê dat Hy
Elia was. Ander het weer gesê die profeet Jeremia (wat baie hoog onder die
profete geag is) of een van die ander groot profete van die Bybel (v.14). En
toe het die Here die vraag na hulle toe laat gaan: Maar julle, wie sê julle is
ek? Simon Petrus het toe gesê: “U is die Christus, die Seun van die lewende
God.” (v.15-16). Hierop het die Here geantwoord: “Salig (geseënd) is jy, Simon
Bar-Jona (seun van Jona), aangesien die antwoord (openbaring) nie van gebroke
mense (vlees en bloed) gekom het nie, maar van sy Vader (let op die persoonlike
beskrywing) wat in die hemele is (v.17).
Hierna het die Here Jesus ’n groot uitspraak gemaak. Hy het
vir hom gesê dat sy naam Petrus is (klein rotsie). Sy naam staan vir iets
groter: Op hierdie rots, bedoelende, (1) op wie Christus is, en (2) op die belydenis van en geloof in Christus, en (3) vanuit die amp vir Christus, sal Jesus sy gemeente (Kerk:
Ekklesia) bou. Dit sal so kragtig wees dat die selfs die poorte van die doderyk
(Hades) dit nie sal oorweldig nie (v.18). Dit beteken die poort van dreiging en magte en waar lewe en
dood vir altyd plekke verruil, sal nie die Kerk kan oorwin nie. Die Here Jesus
het hierna bygevoeg dat Hy die sleutels van die koninkryk van die hemele aan Peterus as verteenwoordiger van die Kerk sal
gee. Dit sou beteken dat wat Petrus as deel van die kerklike ampte doen met
hulle verkondiging oor Christus, tot in di ehemel sal weerklink: Dit wat die Kerk op die aarde bind, word ook in die hemele gebind, en dit wat op die aarde ontbind word, word ook in die hemel ontbind (v.19). Hierna het Hy egter vir die sy dissipels
bevel gegee dat hulle vir niemand moes se dat Hy die Christus is nie (v.20).
Die rede het later duideliker geword. Hulle hulle moes nog leer dat Hy die Christus sou wees deur sy kruisiging.
Besprekingsvraag: Wat
beteken dit dat die Kerk die sleutels van die koninkryk het?
Insig: In ’n pluralistiese wêreld word die uniekheid van Christene tussen ander gelowe voortdurend bevraagteken. Die belangrike vraag bly egter: Wie sê die mense dat Jesus, die Seun van die mens is?
Ook destyds word dit reeds op die grens van Israel, in ’n Griekse stad, en
midde ander gode en gelowe gevra. Ook daar wissel die antwoorde tussen bygeloof
of een of ander vorm van analogie met groot profete (selfs terugkeer uit die
dood). Daar is duidelik verskillende opinies en antwoorde wat selfs beïndruk is
op een of ander vlak, maar tog die punt mis. Hier is die eerste leidraad reeds belangrik
- dat Christus na Homself as Seun van die Mens verwys. Dit beteken Hy is die
ewige Koning (vgl. Dan. 7:13-14). Dit kon Hy net wees as God Hom aangestel het omdat
Hy Hom opgewek het uit die dood (vgl. Hand. 17:31).
Petrus se antwoord het blootstelling
aan Christus as agtergrond. Hulle het Christus ontmoet en iets van sy heerlikheid
beleef. Sy antwoord spruit voort uit egte kontak met Christus (vgl. Mat. 15:26-33).
Ons kan hieruit leer om nie antwoorde uit mense te forseer nie, maar eerder om
’n egte ontmoeting te fasiliteer. Uiteindelik kan vlees en bloed Christus nie
aan ons openbaar nie, maar net die Vader wat self trek (Joh. 6:37,44,65). Die
goeie nuus is dat Hy dit doen en sy Kerk as liggaam oproep om geloofwaardige, aantreklike
beelddraers te wees. Die ware antwoord oor wie Jesus is, bly egter die enigste
antwoord van die Kerk van die eeue. Hy is die ware Gesalfde uit die geslag van
Dawid wat gekom het om ons enigste Priester, ons ewige Koning en ons hoogste Profeet
(HK 12) te wees. Die Koning is dikwels Seun van God genoem, maar hierdie
Christus is inderdaad Seun van die lewende God, anders as dooie afgode. Hy is
ook anders as Petrus wat net seun van Jona is, self ook God. Hy is eenvoudig
onvergelyklik. Elkeen wat gewillig is om God se wil te doen, sal dit uitvind
(vgl. Joh. 7:17).
Die belofte van Christus aan sy Kerk
is dat niks, dood of magte, kan sy Kerk kan oorwin nie. Want die Kerk is gebou
op Christus wat die dood oorwin het, die ware rots. Hy is die rede vir die rotsvaste
belydenis asook rotsvaste ampte. Boonop is die werk van die Kerk vol
ewigheidsbetekenis. Die Kerk ontvang die sleutelmag (vgl. Jes. 22:15-25) om in die
Naam van Christus reeds op aarde oop en toe te sluit (vgl. Mat. 23:13), om te
bind en los te maak. Dit sluit aan by die seën of vloek wat van die begin af
ter sprake was met betrekking tot God se weg deur Abraham en later Israel
totdat die Messias gekom het (vgl. Gen. 12:3; Lk. 10:16; Mt. 21:43). In die
lewende Christus geld die weg van seën en vloek nie minder nie, maar meer.
Werke geraadpleeg
John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.
Lawrence, R Farley, The Gospel of Matthew:
Torah for the Church.
Frederick D Bruner, Matthew: A Commentary.