Lees: Mt. 21:23-32
Gedagte vir kinders: Wees
eerlik voor die Here met wat in jou hart aangaan.
Oorsig: Die Here Jesus het kort voor sy kruisiging die verkopers uit
die tempel gejaag en die mense geleer dat die tempel volgens die Woord van God
’n huis van gebed genoem moet word en nie ’n rowerspelonk nie (v.12-13). Die
volgende dag by die tempel het daar toe owerpriesters en ouderlinge van die
Jode na Hom gekom terwyl Hy besig was om die skare te leer. Hulle het Hom toe
gevra deur watter gesag Hy sy woorde en dade doen en wie hierdie gesag aan Hom
gegee het (v. 23). Die Here het hulle toe met ’n teenvraag geantwoord. Hy het gesê
dat Hy hulle sal vertel as hulle een vraag sou beantwoord (v.24): Of die doop
van Johannes die Doper van God of net uit mense was. Hulle het toe geredeneer
(let wel: nie eerlik probeer antwoord nie) dat as hulle sê dat dit van God (uit die
hemel) was, sou Hy vra waarom hulle dan nie geglo het nie. En as hulle sou sê
dat dit net uit mense was (wat hulle eintlik geglo het), moes hulle oppas vir
die mense wat Johannes as profeet beskou het (v.25-26). Hulle het toe oneerlik geantwoord
dat hulle hulle nie weet nie, en toe het die Here geantwoord dat Hy dan ook aan
nie sou sê deur watter gesag Hy sy dade doen nie (v.27).
Hierna het die Here Jesus vir hulle ’n gelykenis vertel om
hulle te vermaan. Daar was ’n man wat twee kinders gehad het en hy het na die
eerste gegaan en gesê: Kind, gaan werk vandag in my wingerd. Die kind het geantwoord
dat hy nie wil nie, maar was later jammer daaroor (hy het berou gekry) en
gegaan (v.28-29). Toe het die man ook na die tweede een gegaan en dieselfde
gesê. En hierdie kind het geantwoord: Ja, my heer (NAV: Goed Pa), maar hy het
nie gegaan nie. Die Here Jesus het toe gevra wie die wil van die vader gedoen
het en die leiers het toe geantwoord dat dit die eerste een was. En toe het die
Here Jesus vir hulle gesê: Voorwaar Ek sê vir julle, die belastingeisers
(tollenaars) en die prostitute (hoere) gaan julle voor in die koninkryk van God
(v.30-31). Hy het dit toe verduidelik deur weer na Johannes die Doper te wys
wat gekom het in die weg van geregtigheid (NAB: om die regte pad te wys) en dat
hulle hom nie geglo het nie. Die tollenaars en hoere het hom egter wel geglo.
En tog het die leiers, toe hulle hierdie wonderwerk sien van mense wie se lewens
so verander het, tog nie later berou gekry om Johannes wel te glo nie
(v.32). Daarmee het die Here Jesus ook duidelik geantwoord dat Johannes se werk
wel uit God was, en daardeur het Hy eintlik ook aan hulle gewys dat sy eie
gesag en die van Johannes van die selfde plek af, van God self kom.
Besprekingsvraag: Was die
leiers hier opregte waarheidsoekers? Verduidelik jou antwoord.
Insig: Die vraag na waarvandaan die gesag van Jesus Christus kom, en daarmee ook van sy liggaam, die Kerk, is steeds baie relevant. Jesus Christus straal onmiskenbaar gesag uit. Ons verneem duidelik van sy leergesag en dissiplinêre gesag, en hier ook naby die gesagvolle tempel (vgl. Mat. 7:29; 9:6; 18:17-20; 28:18). Hy is óf eg óf baie aanmatigend. ’n Pluralistiese wêreld behoort sy liggaam, die Kerk, ook so te beleef.
Daarom
behoort die Kerk nie terug te deins om geloofwaardig en gesagvol op te tree in
sy Naam nie. In ’n wêreld waar elke waarheidsaanspraak as bedekte magspel
beskou word (postmodernisme), behoort die Kerk in die krag van haar Verlosser
aan te toon dat daar ’n verskil is tussen verskuilde magspel en egte gesag wat steeds
in Jesus Christus gesetel is. En die heerlike bewyskrag hiervan lê daarin dat sy
gesag met soveel genade en opofferende kruisliefde gepaard gaan.
Die antwoord oor Christus se gesag en
daarmee ook van sy Kerk, veronderstel
egter opregte waarheidsoekers. Die leiers weet skynbaar nie, maar húlle is die meesters in
magspel. Hulle is “strategies” en bevrees vir die skare. Op meesterlike wyse
ontbloot Christus hulle oneerlikheid en berekende vraag om Hom in die moeilikheid
te bring by óf die staat (deur ’n uitspraak of teken) óf die massas (deur geen teken
nie). Maar Christus wys terug na God se profetiese werk deur Johannes die Doper.
Die antwoord is eintlik eenvoudig en kom van ver en dit bemoedig ons dat gewone
sondaarmense dit kon uitken. Elke lewe wat verander, getuig ook daarvan (v.32).
Daarom was die salwing van Christus ook geldig en daarom kon hulle ook opgewonde
wees oor Hom. God se werk in Christus is nie duister nie (vgl. Joh. 7:17).
So word ons ook geroep om dit deur
ons lewens te wys. Blote ja sê of erkenning van God wat roep, is nie genoeg
nie. Dit vra om jouself te verloën en aan God te verbind met jou hele lewe
(Calvyn). Die blote leer of blote emosionele ervaring is nie genoeg nie.
Uiteindelik wys dit in lewens van bekering en egte transformasie. Verstommend
genoeg is die mense wat dit hier toon, die tollenaars en hoere. Die uitgeworpenes
wat polities en moreel aanstootlik is, is hier juis ’n kragtige teken, enersyds
van die krag van die evangelie, en andersyds dat dade van egte bekering juis sy
grondslag het in geloof. Drie maal hoor ons in vers 32 dat hierdie mense,
anders die leiers, waarlik geglo het. So word dit duidelik dat ware
geloof noodwendig uitmond in dade. Geloof in Christus verander ons omdat ons so
raak aan Hom wat heerlike gesag het - om ons waarlik te versoen en ons diep, van binne
uit, te verander.
Werke geraadpleeg
John
Bergsma, The Word of the Lord. Year A.
Frederick
D Bruner, Matthew: A Commentary.
Lawrence R Farley, The Gospel of Matthew: Torah for the Church.