Lees: Mt. 21:33-46
Gedagte vir kinders: Elkeen
wat Jesus nie erken as God se Seun nie, sal verpletter word.
Oorsig: Die Here Jesus het daar by die tempel in die laaste week
voordat Hy gekruisig is, ná sy gelykenis oor twee verskillende seuns in ’n wingerd, nog
’n gelykenis oor ’n wingerd vertel. Daar was ’n sekere eienaar (huisheer) wat
’n wingerd geplant het. Hierdie eienaar het baie gedoen om die wingerd te
beskerm en op te bou. Hy het ’n heining daarom gesit, en ook ’n parskuip
gegrawe waar die wyn gepers kon word, en ook ’n wagtoring sodat dit bewaak kon
word. En toe het hy dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan (vgl. Jes. 5; Ps.
80:8-20; Hoogl. 8:11-12). En toe kom die oestyd van die vrugte nader en hy het
sy diensknegte gestuur na die landbouers om sy deel van die vrugte te ontvang
(v.33-34). Die landbouers het egter iets baie vreemd gedoen. Hulle het die een geslaan
en ’n ander doodgemaak, en ’n ander gestenig (vgl. 1 Kon. 18:13; 22:27; 2 Kr. 24:20
e.v.; 36:16; Jes. 66:5; Jer. 20:2; 26:11; Op. 16:6). Toe hy meer diensknegte
stuur, moontlik om groter gesag daaraan te gee, het hulle steeds so gemaak
(v.35-36). Laaste het Hy sy eie seun gestuur en gesê dat hulle hom darem sou uitlos
en respekteer. Maar selfs toe het hulle eerder geredeneer dat dit die erfgenaam
is en hulle hom net moet doodmaak en so die erfdeel self sal kry. Hulle het toe
die seun buite die wingerd gegooi (uitgewerp) en doodgemaak (v.37-39). Hy het hulle
toe gevra wat die eienaar sou doen. Hulle het geantwoord dat hy die slegte
mense ’n slegte dood sou laat sterwe en die wingerd aan ander sou verhuur wat
die vrugte op die regte tyd sal gee (v.40-41).
En toe het die Here Jesus na die Woord van God in Ps. 118:22-23
gewys waar daar staan dat die steen wat die bouers verwerp het, ’n hoeksteen
geword het, dat dit van die Here gekom het en wonderbaar was in gelowiges se oë.
Toe het Hy vir hulle verduidelik dat die gelykenis en hulle oordeel op hulleself
van toepassing is. Die Koninkryk van God sou van Israel se leiers weggeneem en
aan ’n volk gegee word wat die vrugte daarvan sou dra (v.42-43). Elke ongelowige
wat op hierdie steen van God val, sal verpletter word, maar elke valse leier op
wie hierdie steen val, sou vermorsel word. Die owerpriesters en Fariseërs het
duidelik verstaan dat Hy van hulle praat. Hulle was egter nie in die hart daardeur
tot bekering getref nie. Hulle het eerder gesoek na hoe om Hom in hulle mag te
kry. Maar hulle was bang vir wat die skare kon doen omdat die skare die Here
Jesus as profeet gesien het (v.44-46).
Besprekingsvraag: Wat
leer ons daaruit dat God selfs sy Seun gee ná die profete?
Insig: Hierdie gelykenis toon aan ons God se verstommende liefde en sorg en verdraagsaamheid aan die een kant, en mense se verbasende kwaadwilligheid aan die ander kant. God se sorg kom duidelik na vore in die vyf handelinge in vers 33 wat toon hoeveel moeite Hy met sy werk maak (plant, omhein, verwerk, bewaar en vertrou sy werk toe). Hy stuur ook geduldig weer en weer wanneer mense sy reg en profete verag. Wie is ’n God soos Hy wat vergewe en barmhartig en genadig en lankmoedig en vol troue liefde is? (vgl. Ex. 34:6; Ps. 86:15; Miga 7:18). En tog moes Israel in die Ou Testament reeds weet dat hulle so hul oordeel swaarder kon maak.
Die hele Ou
Testament is reeds vol van profete wat waarsku dat God uiteindelik sal kom en
Israel en Jerusalem en die tempel sou verwoes. Uiteindelik gebeur dit en daar
word pertinent gewys op die oorsaak: Die veragting van die profete (2 Kr.
36:16).
En dan doen God iets ongekend. Hy
stuur sy eie Seun. Hier plaas Jesus Christus uitdruklik Homself in ’n ander kategorie
as die ander profete. Maar so word ook die goedheid van God en die slegtheid
van mense na nuwe hoogtes en laagtes geneem. Kan God dit waag? Maar die
teenantwoord is sekerlik ook: Kan mense wel so belaglik redeneer dat hulle
hierdie God van sy Seun en sy koninkryk kan beroof? So kom aan die lig dat die mens
God se plek wil inneem en tot die ergste denkbare daad, of eerder poging
daartoe, sal oorgaan: Godmoord (Engels: Deicide). Dit gebeur hier onder
die leiers, die voortreflike weergawes van menswees, om te bevestig dat dit is
wat mense doen wanneer hulle met harte van klip in magsposisies beland. Die binnekringe
(inner rings) van die vernames is maklik plekke waar die onheil woel en
waar saamgespan word teen die Here en sy Gesalfde Seun. Diegene wat dink hulle
kan God se Seun se eise afwerp, moet weet dat die koninkryk van Hulle weggeneem
sal word (v. 43; vgl. Ps. 2).
Tog verneem ons hier ook van ’n ander
volk wat wel die vrugte van die Koninkryk dra: die Kerk, die liggaam van Jesus
Christus, wat glo in die Seun en dat Hy erfbesit van die nasies het, en die
ware Hoeksteen is waarop die lewende tempel van God gebou word. Owerpriesters
en Fariseërs het saam met Herodes (Edomiet) aan die tweede glansryke tempel gewerk
(in 66 n.C. voltooi, in 70 n.C. verwoes; vgl. ook Jes. 8:14-15; Dan. 2:34-35).
Hulle het met Christus gedoen wat die nasies met Israel en met Dawid gedoen het
- Hom verwerp. Tog het Israel, Dawid en later die Messias self deur die
verwerping heen uiteindelik die hoeksteen geword. Hoe? Deur die Here se toedoen
(Ps. 118). Deur die kruisiging en opstanding heen, het Christus die Hoeksteen geword
vir alle tye. Daarom kan die Kerk tot aan die voleinding vrug dra vir Hom wat deur
sy versoening van ons mede-erfgename gemaak het en met ons op pad is.
Werke geraadpleeg
John
Bergsma, The Word of the Lord. Year A.
Frederick
D Bruner, Matthew: A Commentary.
Lawrence R Farley, The Gospel of
Matthew: Torah for the Church.
Leithart, P.L. Matthew
Matthew Henry
John Gill