Lees: Mt. 22:15-22
Gedagte vir kinders: Wees
gehoorsaam aan die regering, maar nog meer aan jou God.
Oorsig: Nadat die Here Jesus die
tempel gereinig het en die volgende dag die volk weer deur gelykenisse geleer
het, het die leiers van die volk Hom probeer vang met sy eie woorde. Hulle het
drie vrae vir hom gevra en daarna het Hy aan hulle een vraag gevra. Hierdie
vier sake is vandag nog belangrik. Dit gaan oor (1) ons verhouding met die
regering (v.15-22), (2) die lewe na die dood (v.23-33), (3) die belangrikste
sake in God se wet (v.34-40), en (4) die identiteit van die ware Messias (v.
41-46). Hier fokus ons op die eerste saak in vers 15 tot 22.
Die Fariseërs, die mense wat streng volgens hulle tradisie,
die mense aan die wet van God gehou het, het by mekaar gekom (saam raad gehou).
Hulle het saam beplan hoe hulle dIe Here Jesus met sy eie woorde kon vasvang in
’n slagyster (verstrik; v.15). Toe het hulle hul dissipels (let wel) met ’n
plan na die Here Jesus gestuur, saam met Herodiane. Die Herodiane was mense wat
die koningskap van Herodes gesteun het, alhoewel Herodes eintlik ’n koning uit
die geslag van Esau (Edomiet) was en nie uit die geslag van Dawid nie. Herodiane
het met die Romeinse regering saamgewerk en meer na hul eie mag gekyk as na die
Woord van God. Nou het hierdie twee verskillende groepe, Fariseërs en Herodiane
wat eintlik min met mekaar saamgestem het, ’n gemeenskaplike teenstander gehad.
Die skrikwekkende was dat hulle saamgespan het in hulle vyandigheid teen die
Here Jesus (vgl. Ps. 2). Hulle het toe saam na Christus gegaan en begin met
vleitaal. Hulle het Hom Meester genoem en gesê dat hulle weet dat Hy (1)
waaragtig is en (2) die weg van God in waarheid leer, (3) en Hom aan niemand
steur nie, omdat Hy (4) nie die persoon van mense aansien nie (v. 15-16). En
toe kom hulle strikvraag: Wat dink U: Is dit reg om aan die keiser belasting te
betaal of nie (v.17).
Die Here het egter hulle boosheid (let wel) bemerk (v.18) en
vir hulle gesê: “ Julle skynheiliges, waarom versoek julle my? Wys vir my die belastingmunt.”
Hulle het toe vir Hom ’n penning gebring (v.19) en toe het Hy vir hulle gevra wie
se beeld en opskrif op die geldstuk is (v.20). Hulle het geantwoord dat dit die
van die keiser was. Daarop het Hy vir hulle gesê: Betaal dan aan die keiser wat
die keiser toekom, en aan God wat God toekom (v.21). Toe die mense dit hoor,
was hulle verbaas en het Hom verlaat en weggegaan (v.22).
Besprekingsvraag: Watter twee
sake moet ons oor die regering gelyktydig handhaaf?
Insig: Die verhouding tussen Kerk en staat is iets waaroor Christene hulself telkens moet verantwoord. Op briljant eenvoudige wyse leer ons Here ons hier twee basiese dinge oor die staat, ook die heidense staat. Hou ingedagte dat dit hier spesifiek gaan oor kolonisering en die gekoloniseerdes en al die emosie oor belasting wat daarmee saamgaan. Wanneer ons bepaalde voordele gebruik wat die owerheid daarstel, kom (1) sekere belasting hulle toe. Andersyds het hulle (2) bepaalde beperkings.
Dit wat God
toekom, kan nie aan die staat toegesê word nie. Die keiser se beeld is op die
geld, maar God se beeld is op die mens self geplaas. Aan die Here kom toe al
ons aanbidding en toewyding, nie die staat nie. Daarom is daar grense van
gehoorsaamheid aan die staat is (vgl. Hand. 5:29). Onthou ook dat ons selfs in
’n ideale regering uiteindelik gaan sterwe en voor God gaan staan (vgl. Luk
12:5). Die goeie nuus is dat Jesus Christus juis gekom het om Homself oor te
gee onder ’n slegte owerheid en leiers, om ons los te koop van die vrees vir
die dood asook vrees vir bose regerings.
Die Nuwe Testament gee basiese riglyne oor die
ongelowige staat (vgl. v. 21; Hand. 5:29; Rom. 13:1-7; 1 Tim. 2:1-7; Titus 3:
1-2; 1 Pt. 2:13-17; Openbaring 13, 18). Ons moet egter in navolging van NGB 36 ook
riglyne onthou vir ’n gelowige regering. Teopolitiek word daarom nie net uit
die Nuwe Testament afgelei nie. Ons lees saam met die Reformatore die hele
Bybel as ’n eenheid in Christus. Daarom maak ons ook afleidings oor altaar en
troon wanneer ons in die Ou Testament lees oor priester, profeet en koning.
Beide Kerk en staat moet uiteindelik onder heerskappy van die Seun staan (Ps.
2). Ook die owerheid moet gekersten (verchristelik) word deur die suurdeeg van
die evangelie. So ontwaak die staat ook uit die bose droom dat hy God is (Van Ruler).
Andersins word die staat so maklik ondier en Leviatan.
In Christus mag ons bou aan ’n vrye
samelewing wat heenwys na die nuwe Jerusalem. Ons mag daarna strewe om ’n
Christelike owerheid te hê (NGB 36), en selfs ’n gemenebes van nasies onder
Christus. Maar altyd so dat die owerheid haar (1) voorregte maar ook (2) beperkinge
ken. Hoe kom ons daarby uit? Deur juis die tipe lewe te lei wat die vleiers (vgl.
Ps. 12:3-4) aan Christus toegedig het: Leef opreg voor God. Moenie vra wie of
wat belangrik is in wêreldse opinies nie,
maar vra na God se wil (vgl. v.16). Daar is Een wat reeds hierdie weg volmaak
gestap het om ons vry te koop vir so ’n lewe. Moet daarom nie strategies
probeer lewe tussen die magte om posisies te behou nie. Leef eerder konsekwent,
soos Daniel, binne en buite die leeukuil sodat ons voor konings en regerings
vir Hom mag getuig. En mag wens dat hulle soos ons is: Gedoop en onderworpe aan
sy Woord (D. Wilson; vgl. Hand. 26:29).
Werke geraadpleeg
John
Bergsma, The Word of the Lord. Year A.
Frederick
D Bruner, Matthew: A Commentary. (Bruner wys op die
volgende belangrike bronne oor Kerk in Staat: By Calvyn Inst. 4:20, en by
Luther se werke, LW, deel 44-47).
Lawrence R Farley, The Gospel of
Matthew: Torah for the Church.