2023/10/26

Ons is gemaak om lief te hê

Lees: Mt. 22:34-46

Gedagte vir kinders: Die Here het ons gemaak om Hom baie lief te hê en ook ons medemens.

Oorsig: Nadat die Here Jesus die tempel gereinig het en die volgende dag die volk weer deur gelykenisse geleer het, het die leiers van die volk Hom probeer vang met sy eie woorde. Hulle het drie vrae (soos satan aan die begin) vir Hom gevra: oor (1) die verhouding met die regering (v.15-22), (2) die lewe na die dood (v.23-33), en (3) die grootste gebod in die wet (v.34-40). Daarna het Hy hulle die belangrike vraag gevra oor die identiteit van die ware Messias (v.41-46). Hier fokus ons op hulle derde groot vraag en daarna sy belangrike opvolgvraag.

Die Fariseërs (Bruner: die suiweres) het gehoor dat die Here Jesus die Sadduseërs (Bruner: die gesofistikeerdes) se monde gesnoer het en toe almal saam teen Hom vergader. Een van hulle wat ’n wetgeleerde was, het Hom toe met ’n vraag probeer vastrek: Hy het gevra: Meester, wat is die grootste gebod in die wet? (v.34-36). Hierop het die Here Jesus die wetgeleerde geantwoord dat jy die Here jou God (let wel) moet liefhê met jou hele hart (die setel van jou menswees) en met jou hele siel (jou diepste menswees) en met jou hele verstand (jou denkende menswees). Dit is die eerste en groot gebod. Die tweede wat hiermee gelykstaan is dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself. Hiermee het die Here Jesus gebruik gemaak van Deut. 6:45 en Lev. 18b. Hy het toe gesê dat aan hierdie twee gebooie die hele wet (die eerste deel van die Ou Testament) en die profete (die tweede deel van die Ou Testament) hang (v.37-40). Dit beteken dat die hele Bybel van hierdie liefde tot God en jou naaste afhang.

En toe die Fariseërs saamgekom het, het die Here Jesus ook vir hulle ’n vraag gevra. Daarmee het Hy vir hulle ook gesê dat hulle die belangrikste vraag nog nie gevra het nie. Hy het hulle gevra wat hulle van die Messias (Grieks: Christus) dink en spesifiek wie se seun die Messias is. Hulle het geantwoord dat die Messias uit Dawid is (v.41-42). En toe vra Hy vir hulle waarom Dawid dan in Ps. 110: 1 in die Gees hierdie Messias Here noem as hy sê: Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ’n voetbank van u voete? (v.43-44) Hy het dit verder verduidelik en gevra dat as Dawid die Messias dan Here noem, hoe kan hierdie Messias bloot sy seun (nageslag) wees. Niemand kon Hom daaroor antwoord nie (vandag weet ons dat dit was omdat Jesus ook God is). Hulle het toe ook nie meer gewaag om Hom vrae te stel voordat Hy gevange geneem is nie (v.45-46).

Besprekingsvraag: Wat beteken dit dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself?

Insig: Die Here Jesus verdiep en gee fokus aan die eenvoud van God se wil vir ons lewe. Ons is gemaak om geliefd te wees en lief te hê. Maar dan moet hierdie liefde reg begryp en begrond word. Die fokus op God staan sentraal (m.b.t tot die staat en dood vooraf en hier m.b.t. die naaste). Naasteliefde raak gou sentimenteel wanneer dit nie in God begrond bly nie. Die tien gebooie (God se wil) bly daarom ook die konkretisering van die liefdesgebod (Prof. Paul De Bruyn). Maar die liefde tot God hang ook nie in die lug nie. Die liefde tot die naaste is (1) die geleentheid, (2) die toets en (3) die voertuig van die liefde tot God wat in ons lewens oorloop (vgl. 1 Joh. 4:20). Vertikale en horisontale liefde veronderstel mekaar altyd.

Die oproep om jou naaste lief te hê “soos jouself”, leer ons dat selfliefde ook vooraf begrond moet word in God. Daarom is die self nie goddelik onaantasbaar nie, maar ook nie minderwaardig nie. God gee deur sy skepping en versoening oneindig waarde, nie net aan ander nie, maar ook aan my (vgl. HK 7, vr. 21). Daarom beteken “soos jouself” nou ook dat ons kreatief en verbeeldingryk kan omgaan met betoning van liefde teenoor die naaste, ook jou vyand (Luk. 6:27), in die groot en die klein dinge (soos bepaalde maniere volgens Wilson). Die liefde het nie skuiwergate nie. Die Here Jesus gee hiermee dus vir ons ’n basiese etiek en hermeneutiek oor hoe om die Bybel te verstaan en die lewe teenoor ander te leef. Mense wat sterk gerig is op stelsels en beginsels moet die liefdesgebod ter harte neem, en mense wat sentimenteel oor liefde kan raak, moet hoor dat dit gerond is God en hoe Hy Homself openbaar het.   

Hierdie liefde tot God is omvattend. Die hele hart, siel en verstand word in beslag geneem. Ons kan dit nie uit onsself opdiep nie (vgl. HK 2). Daarom moet ons hoor dat dit hier gaan oor die Here “jou God”. Dit verwys na die God wat altyd eerste optree, besluit het om jou God te word wat jou uit die slawehuis van Egipte en die sonde te voordat Hy tot liefde oproep (vgl. Ex. 20:1 e.v.). Ons het lief omdat Hy ons eerste lief gehad het, met sy hart sy siel en verstand. Die bewys daarvan? So lief dat Hy sy eniggebore Seun as offer gegee het vir ons sonde (1 Joh. 4:9). Daarom is die leestradisie wat hierdie derde vraag aan Christus saamlees met sy laaste vraag aan hulle, so gepas. Wie is Hy wat Homself hier aanmatig om die Skrif saam te vat? Hy is ook die Messias wie Dawid in die Gees Here noem (vgl. Ps. 110; vgl. Nicea-Chalcedon). Sodat die eenvoud van die lewe vir ons deur die geloof in Hom kan oopgaan: Om die Here jou God lief te hê wat jou eerste liefgehad het en om die medemens wat jou pad kruis te koester.

Werke geraadpleeg

John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.

Frederick D Bruner, Matthew: A Commentary.  

Notas vanuit Bruner:

Hierdie boodskap se insig leen besonder aan op gedagtes uit Bruner, soos die volgende wat hierbo in eie woorde genoem is en word hier vir deursigtigheid en met ekstra erkenning vermeld:

Christus se samevatting verdiep en gee fokus en wys oo die eenvoud van God se wil vir ons lewe; die naaste is die toets en die voertuig van die liefde tot God wat in ons lewens oorloop; die self is nie goddelik onaantasbaar nie, maar ook nie minderwaardig nie;  “soos jouself” beteken dat ons verbeeldingryk kan omgaan met betoning van liefde teenoor die naaste; Christus gee  vir ons ’n basiese etiek en hermeneutiek oor hoe om die Bybel te verstaan; dit gaan hier oor die Here “jou God”. Dit verwys na die God wat altyd eerste optree, besluit het om jou God te word wat jou uit die slawehuis van Egipte en die sonde te voordat Hy tot liefde oproep; die leestradisie wat hierdie derde vraag aan Christus saamlees met sy laaste vraag aan hulle, is so gepas. Nicea-Chalcedon; die doel van elke mense: om die Here jou God lief te hê wat jou eerste liefgehad het en om die medemens wat jou pad kruis te koester. 

1.  Bruner wys op die volgende belangrike ander tekste oor samevattings van die Bybel: Ps. 15; Jes. 33:15; Miga 6:8; Jes. 56:1; Amos 5:4; Hab. 2:4.

2. Bruner wys ook aan die hand van Boring daarop dat Ps. 110 die meeste na verwys of daarop gesinspeel word in die NT. Volgens sy berekening 37 keer. Dit word ook aan die hand van Swete gestel dat Ps. 110 by die sg. subapostoliese skrywers die mees gebruikte teks is.

Lawrence R Farley, The Gospel of Matthew: Torah for the Church.