Gedagte vir kinders: Kerkleiers het gesag, maar kan ook dien soos die Here Jesus.
Oorsig: Nadat die leiers opgehou het
om die Here Jesus in sy laaste week voor sy kruisiging met woorde uit te vang,
het Hy swaar woorde van oordeel oor valse godsdienstige leiers en valse
godsdiens uitgespreek tesame met sewe wee-uitsprake. Aan die begin van Mattheus
leer die Here ons in ons in die bergpredikasie hoe om te leef. Nou sluit Hy sy
aardse bediening af deur te waarsku hoe ons nie moet leef nie. Ons lees dat hy
spesifiek met sy dissipels gepraat het oor die skrifgeleerdes (hulle wat
aangestel is om die mense God se wet te leer) en die Fariseërs (hulle wat die God
se Woord ernstig opgeneem, maar tog hul eie tradisies swaarder as die Woord
laat weeg het). Hierdie mense het op die stoel van Moses gesit en dit beteken
dat hulle sy gesagsposisie ingeneem het oor wat God se wil en dit wat Hy beveel (v.1-2).
Die Here Jesus het gesê dat hulle alles moes doen wat die
leiers sê, maar dat mense nie soos hulle net moes praat, maar nie doen nie
(v.3). Hulle het die wet swaar en moeilik gemaak en op mense se skouers
geplaas, maar dit self nie eens met hulle vingers aangeraak nie (v.4). Hulle
het al hul werke ook eintlik net gedoen om deur die mense gesien te word.
Daarom het hulle gedenkseëls (gebedsboksies en bande) breed gemaak en groot
some vir hulle klere wat moes wys dat hulle met die Here wandel (vgl. Ex.
13:9,16; Dt. 6:8). Hulle wou dus uitstaan deur uiterlike kenmerke (v.5). Hulle
het ook gehou van die voorste plekke by die maaltye en voorste sitplekke in die
sinagoges (v.6). Verder het hulle ook van die begroetinge op die markte gehou
en om deur die mense rabbi, rabbi (my grote, my grote) genoem te word (v.7).
Die Here Jesus het toe vir sy dissipels geleer om heeltemal
’n ander gesindheid uit te leef. Hulle moes nie daarin belangstel om hulself met
’n titel soos rabbi te laat noem nie, omdat Christus hulle enigste Leermeester
is en hulle almal broeders. Hulle moes ook niemand op die aarde hulle
geestelike vader noem nie, want daar is net een en dit is die Vader in die
hemele. Hulle moes hulle ook nie leermeesters (kathegetes: persoonlike
gids/meester) laat noem nie, omdat net Jesus Christus dit is. Daarteenoor moes
die grootste onder hulle eerder die dienaar van almal wees. Wie homself daarom
wou verhoog sou verneder word en wie homself verneder, sou verhoog word.
Besprekingsvraag: Hoe kan
leiers tegelyk gesagvol, maar ook diensbaar wees?
Insig: Die Here Jesus lei sy sewe wee-uitsprake teenoor die valse kerk en sy leiers hier in met ’n basiese kontras: valse teenoor egte godsdienstige leiers.
Diegene wat in die Naam van God, soos Moses, vir mense op die Woord wys en dit uitlê, het ’n belangrike werk en die gesag daarvan word nie hier betwis nie. Maar dit hang saam met sekere kenmerke. Daarom het ons hier vir alle tye ’n waarskuwing aan die Kerk en haar teologiese gesag. Leiers en leermeesters moet weet dat hulle ’n swaarder oordeel sal ontvang (vgl. Jak. 3:1; vgl. ook Ps. 35:4-6; 109:6-19; Jes. 10:5-19; Jer. 23:1-2; Es. 34:1-7, 9-10). Reeds in Rigters 18-21 verneem ons hoe mislukking in leiding onder die Leviete gelei het tot die volk se ondergang. Ook hier sou dit lei tot 70 n.C. toe Jerusalem en die tempel verwoes is. ’n Kerk wat lewend wil bly en wil beleef dat die arbeid van hul hande nie tevergeefs is nie, moet dit te harte neem.Ons verneem hier (1) van ’n
diskonneksie wat ontstaan tussen leer en doen. Ortodoksie en ortopraksie is
gewoon twee kante van die dieselfde munt. Anders het ons op die minste blinde
kolle en op sy ergste totale geestelike blindheid. Aan die ander kant is daar
min dinge wat geestelike insig so verhelder soos gehoorsaamheid aan die Woord. Dit
is (2) ook duidelik dat hierdie geestelike leiers nie vol genade en
barmhartigheid teenoor die mense is nie en heers oor die kudde (vgl. 1 Pet. 5:3).
Hiermee hang saam dat hulle graag (3) nommer een wil wees en aansien hê oor
hulle godsdienstige voortreflikheid. Hulle lei aan ’n grootheidsmanie (Bruner)
en dit is uiters tragies wanneer ons mense deur ons godsdienstige toewyding wil
beïndruk. In ’n sekulêre wêreld is die teenhanger hiervan die deugpronkery (virtue
signalling).
Wat is die alternatief waartoe
Christus oproep? Leiers moet self (1) uit die genade lewe sodat hulle nie harde
leermeesters is nie. Dit kan net gebeur wanneer ons self by ons groot
Leermeester gaan sit het sy sagte juk leer ken het en beleef het dat Hy
sagmoedig en nederig van hart is (Mat.
11:29-30). Net in Hom word ons van binne uit vol genade en waarheid. Dit vra ook
(2) deugdelike leierskap waarin ons deur diens ons ware grootheid vind en nie
deur erkenning en klere en sitplekke en titels nie. Die hele konsep van
deugdelike leierskap wat gesaghebbend vir God spreek, maar ook terselfdertyd almal
dien, is uit en uit ’n Christelike konsep. Sonder Christus word hartlike diensbaarheid
onmoontlik. Hierdie weg loop (3) langs ’n pad waar ons onsself verneder en dit
aan God oorlaat om ons te verhoog op sy tyd en sy manier (vgl. v.12; 1 Pt. 5:6;
Fil. 2:5-11). Dit is net moontlik in Christus wat Homself ter wille van ons verneder
het, maar ook verhoog is. Deur sy diensbaarheid sit ons reeds in die hemel en
kan ons as knegte met koningsgesag diensbaar aan ander wees.
Werke geraadpleeg
John
Bergsma, The Word of the Lord. Year A.
Frederick
D Bruner, Matthew: A Commentary.
Lawrence R Farley, The Gospel of
Matthew: Torah for the Church.