Gedagte vir kinders: Jesus
Christus gaan eendag oor almal oordeel.
Oorsig: Die Here Jesus het net voor
sy kruisiging die mense in sy profetiese rede geleer dat ons voorbereid moes
wees op sy wederkoms deur die gelykenis van die tien maagde (25:1-13). Hy het
ook geleer dat ons die geleenthede en gawes wat die Here gegee het, moet
gebruik vir sy koninkryk totdat Hy weer kom deur die gelykenis van die talente
(25:14-30). In hierdie gedeelte, sy laaste profetiese rede, leer Hy wat eenmaal
aan die einde sal gebeur as Hy die hele wêreld oordeel.
Wanneer Hy, die Seun van die mens, in sy heerlikheid kom en die heilige engele saam met
Hom, sal Hy op sy heerlike troon gaan sit (v.31). Wat ’n gesig sal dit nie wees
nie! Dink net: Jesus Christus in al sy heerlikheid met die oordeel wat die
Vader in sy hande gegee het. Boonop al die heilige engele saam met Hom en Hy op
sy heerlike troon. Geen aardse heerlikheid kan ooit daarmee vergelyk word nie,
en die hele wêreld sal almal sal buig voor Hom. Voor Hom sal al die nasies
versamel word en hy sal hulle van mekaar afskei soos wat die herder skape (aan
sy regterhand) en bokke (aan sy linkerhand) van mekaar afskei (v.32-33). Dan
sal die Koning vir die aan sy regterhand sê: Kom, geseëndes van my Vader, beërf
die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. Hy
sal hulle dan daarop wys dat hulle aan Hom barmhartigheid bewys het: Kos en drinkgoed,
huisvesting en klere, en besoeke tydens siekte en gevangenisskap (v.34-36). Die
regverdiges sal dan verbaas vra waar hulle dit gedoen het en die Koning sal
antwoord: Voorwaar Ek se vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van my
geringste broeders, het julle dit aan My gedoen (v.37-40).
Dan sal Hy ook aan die aan sy linkerhand sê om van Hom weg te
gaan, as vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy
engele. En dan sal Hy hulle wys op hulle gebrek aan barmhartigheid teenoor die
geringes wat aan Hom behoort: Geen kos of drinkgoed, huisvesting of klere, of
besoeke tydens siekte of gevangenisskap nie (v.41-43). Hierdie mense sal verbaas
vra waar hulle dit nie gedoen het nie en die Koning sal dan antwoord: Voorwaar
Ek se vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van die geringstes
nie, het julle dit aan My ook nie gedoen het nie. Die Here Jesus het toe verder
gegaan en gesê dat sulke mense sal weggaan in die ewige straf, maar die
regverdiges in die ewige lewe (v.44-46).
Besprekingsvraag: Waarom
is geseëndes en vervloektes hier beide onbewus van hul dade?
Insig: Ons het hier die laaste boodskap van Jesus Christus voordat Hy gevange geneem is om gekruisig te word. Hy wys ons op die einde en dit wat berei is van die grondlegging van die wêreld af. Die gesig is onvergeetlik: Eenmaal sal Jesus Christus in al sy heerlikheid kom en op sy heerlike troon gaan sit voor die oë van al die nasies. Laat hierdie beeld helder voor ons gees bly. Hy is die sin en doel van die geskiedenis - die Een op wie alles uitloop. Dan sal daar net twee groepe uit al die nasies voor Hom wees: geseëndes en vervloektes.
Reeds aan Abraham is die belofte gemaak dat hulle geseënd sal wees wat Abraham seën
en die vervloek sal wees wat Abraham vervloek. In Christus word dit vervul (Gen.
12:1-3; Gal. 3:13-14). Hy bring die seën omdat Hy vir ons 'n vloek geword en ons sonde gedra het. Wie nie in Hom glo nie, verwerp daarmee alle seëninge in Christus en moet self die vloek dra van hulle wat God se wet nie onderhou het nie. En tog is die seën in Hom so groot dat elkeen wat maar een van die geringstes van sy broeders
en susters geseën en met barmhartigheid behandel het, geag word asof hulle dit
aan Hom gedoen het (vgl. Mat. 10:42; Hd. 9:4).
Die toepassing is op twee vlakke:
Eerstens sal die nasies geoordeel word op grond van wat hulle met die Christus
en sy liggaam, die Kerk, gedoen het. Niemand sal loskom wat die oogappel van
die Here aanraak nie (Sag. 2:8). Die genade is enersyds groot. Elkeen wat maar
net ’n beker koue water aan iemand gee omdat hulle aan Christus behoort, sal
hul loon sekerlik nie verloor nie. Andersyds is die waarskuwing groot. Moenie
die geringstes wat aan Christus behoort (of sal behoort) minag nie. Tweedens moet
ons let op watter groot rol barmhartigheid aan die noodlydendes hier speel. Die
Here wil barmhartigheid hê en nie offerandes nie (vgl. Jes. 58:6-8; Hos. 6:6;
Mat. 9:13; 12:7). Die Ou Testament is vol van die Here se sorg vir randfigure soos die wees, die
weduwee en die vreemdeling en almal wat neergeboë is (Deut. 10:18; 24:10; Ps.
145:14, 18-19; Es. 22:7). Dit is ’n toetspunt van liefde.
Pascal het dit treffend saamgevat:
Die uitverkorenes is hier onbewus van hul deugde en die uitgeworpenes van hul
sonde. Watter geweldige verskil maak Christus se verlossing nie! Om onbewus van
jou deugde te wees is iets wat net Christus deur sy Gees vir ons kan doen (vgl.
Luk 6:43-46). God berei dit voor uit genade vanaf die grondlegging van die wêreld,
maar die genade word ook sigbaar in goeie werke (vgl. Tit. 2:11-14; Ef. 8-10).
Ons word opgeroep om doeners van liefde tot in die kleine te wees. Die Kerk
word ook opgeroep om die diakenamp te laat herleef in bedienings van voeding,
huisvesting en besoeke en ondersteuning, in Christus, aan hulle wat fisies en geestelik
ongesteld is. Teenoor elkeen wat ons pad kruis. Elkeen wat die Here se hart self
leer ken het, doen dit makliker, selfs onbewus, aan ander.
Werke geraadpleeg
John Bergsma,
The Word of the Lord. Year A.
Frederick
D Bruner, Matthew: A Commentary.
Lawrence R Farley, The Gospel of
Matthew: Torah for the Church.
Matthew Henry