Gedagte vir kinders: Ons
Koning, die Here Jesus, is sterk en nederig.
Oorsig: Die Here Jesus was op pad na
Jerusalem waar Hy vir ons sonde sou sterf. In daardie laaste week in Jerusalem
sou daar baie gebeur wat uiteindelik sou lei tot sy kruisiging. Hier lees ons
van die besondere manier hoe Hy in Jerusalem ingekom het. Hulle het vanaf
Jerigo se kant opgekom na Jerusalem langs ’n baie steil en opdraande pad. So
het hulle naby Jerusalem gekom by Betfage en Betanie wat by die Olyfberg geleë
was (v. 1; vgl. Sag. 9:9; 14:4-9). Daar het Hy vir hulle gesê om na die dorp
reg voor hulle te gaan (Betfage of Betanie), en dat hulle daar dadelik as hulle
inkom, ’n eselsvul sal vind wat vasgemaak is en waarop niemand nog gesit het
nie (vgl. Num. 19:2; Dt. 21:3; 1 Sam. 6:7; Gen. 49:10-11). Hulle moes die
eselsvul dan losmaak en hom bring, en as iemand vra waarom hulle dit doen, moes
hulle antwoord: Die Here het hom nodig. Dan sou die persoon dadelik die eselsvul
stuur (v.2-3).
Hulle het toe gegaan en die vul net so by ’n deur buite op
die straat gevind en hom losgemaak. Sommige het toe gevra wat hulle maak en
hulle het toe geantwoord soos Jesus beveel het en hulle het hulle toegelaat
(v.4-6). So het hulle toe die vul na die Here Jesus gebring en hulle klere
daarop gelê en Hy het toe op die vul gaan sit. Toe het baie mense hulle klere
op die pad gegooi en ander het takke afgekap van die bome af en dit op die pad
gestrooi (v.7-8). Dit was ’n bekende gebruik wanneer mense erkenning wou gee aan
’n koning wat op pad was (vgl. 2 Kon. 9:13). Die wat voor geloop het en die wat
agter gevolg het, het uitgeroep: Hosanna! (Here red ons nou). Geseënd is Hy wat
kom in die Naam van die Here! Geseënd is die koninkryk wat kom in die Naam van
die Here, die koninkryk van ons vader Dawid! Hosanna in die hoogste hemele! Dit
is woorde wat kom uit Ps. 118:25-26 en wat die mense ook gesing het tydens
Paastyd om die Here se verlossing te herdenk. Hulle het hiermee ook uitgesien
na die finale Koning uit Dawid se nageslag wat die verlossing sou inbring.
En so het die Here Jesus in Jerusalem gekom by die tempel.
Daar het God bepaal dat mense Hom sou ontmoet der offers volgens sy
voorskrifte. Later het die profete uitgesien na die dag wat die aanbidding in Jerusalem
herstel sou wees en al die nasies daar sou aanbid. Nadat die Here Jesus alles
rondom die tempel bekyk het (Net Markus vertel hiervan, iets wat Petrus
blykbaar duidelik bygebly het) en omdat dit al aand was, het Hy met die twaalf
uitgegaan na Betanie.
Besprekingsvraag: Waarom
ry die Here Jesus op ’n eselsvul en nie op ’n mooi perd nie?
Insig: Tydens sy aardse bediening wou die Here Jesus nie dat mense Hom voortydig as Messias of Christus verkondig nie (Mk. 8:29-30). Mense sou te maklik net aan ’n aardse koning en oorwinning dink. Hier, op pad na sy kruisiging, maak Hy Homself nou as die Messias-koning uit Juda bekend (Gen. 49:10-11), uit die geslag van Dawid (v.10). Die dier wat niemand nog gebruik het nie, dui op die heilige doel, hier vir ’n vrede-koning groter as Salomo (vgl. 1 Kon. 1:32-34). Sagaria 9:9 gee ooglopend hier die betekenis:
Daar kan groot blydskap
en juiging wees omdat hierdie Koning kom. Hy is enersyds regverdig en ’n
oorwinnaar. Maar andersyds is Hy ook nederig en ry op ’n pakdier. Dit is hierdie
siening van die Messias wat Israel en ook ons vandag steeds met wêreldse maatstawwe
vir sukses maklik mis. Die Messias-Koning bring die tipe oorwinning en vrede waar
mense nederig word soos die nederige Koning. Daarom gaan ware blydskap ook
gepaard met mense wat van hul hoogmoed en trone afstand doen.
Hierdie Koning kom na Jerusalem en
die tempel, daar waar Abraham eens op die berg Moria vir Isak moes offer, maar waar
die Here het voorsien het (Gen. 22). Die tempel is later daar naby gebou en in
die omgewing daarvan het die Here uiteindelik sy eie Seun nie gespaar nie, maar
Hom vir ons almal oorgelewer (Rom. 8:32). Dit is hierdie Seun wat nou in
Jerusalem inkom om verlossing te bring (Ps. 118:25-26). Hy Kom inderdaad in die
Naam van die Here, maar min besef nog wat dit van Hom sou vra. Tog kom Hy ook
as Koning in geregtigheid en as oorwinnaar en as Hy in Jerusalem bekyk (v.11),
is dit nie uit vrees nie, maar om die terrein te verken waar die konfrontasies
sou afspeel. Ons hoor later van ’n vyeboom wat vervloek word en die tempel wat
gereinig sou word en allerhande konfrontasies met verskillende partye.
Want hierdie grootse tempel was in ’n
toestand van korrupsie en skynheiligheid. Die tempel as sentrum van ware
aanbidding waarvan die profete so kon sing as die plek waarheen die nasies sou saamstroom
om God te aanbid (Ps. 48; Jes. 2:2-3; 60:1-2), was nie gereed nie. Iets moes
nog gebeur en die skare het reeds daarvan gesing. Die finale Dawidseun moes
kom! En hoe genadig dat Christus nie gekom het soos Hy eenmaal wel sal kom nie
- op ’n wit perd om te oordeel (vgl. Op. 6:2; 19:11). Die goeie nuus is dat ons
steeds vrede kan maak en hê deur Hom. Maar dan moet ons sy koms en sy konfrontasies
met Jerusalem hoor. Reiniging deur Hom is nodig en om buite Hom wag vervloeking.
En tog: Hy het gekom dat ons vrygespreek kan word en onsself grootliks mag
verheug dat ons, ook tydens hierdie Kersgety, ons Koning bly mag ontmoet.
Werke geraadpleeg
John
Bergsma, The Word of the Lord. Year B.
Mary
Healy, The Gospel of Mark.
Ben
Witherington, The Gospel of Mark.
Michael Card, The Gospel of Passion.