Lees: Mt. 22:1-14
Gedagte vir kinders: ’n Mens
kan nie met jou vuil klere by God se fees opdaag nie.
Oorsig: Die Here Jesus het in die laaste week voor sy kruisiging,
daar by die tempel, nadat Hy dit gereinig het, drie gelykenisse vertel. Daarin
het Hy hulle geleer oor God se koninkryk en wie Hy daarin is. Na twee
gelykenisse oor ’n wingerd het hy toe een vertel van die koninkryk wat is soos
’n koning wat ’n bruilof vir sy seun berei het (v.1-2). Hierdie koning het sy
dienaars uitgestuur om die genooides na die bruilof te roep, maar hulle wou nie
(let wel) kom nie. Die koning was egter so besonders dat hy weer ander dienaars
uitgestuur het met ’n boodskap wat dit nog duideliker uitspel: “Kyk, my ete het
ek berei en my beeste en vetgemaakte diere is geslag en alles is nou gereed.
Kom na die bruilof.” (v.3-4; vgl. Jes. 25:6-10).
Maar die genooides het egter baie vreemd teenoor die koning
se diensknegte opgetree. Hulle het hulle nie aan die boodskap gesteur nie en weggegaan,
die een na sy eie stuk land en ’n ander na sy besigheid (handelsaak). Erger
nog, die wat nie weggegaan het nie, het die diensknegte gegryp en mishandel en
doodgemaak (v.5-6). Toe die koning dit hoor, het hy kwaad geword en sy manskappe
gestuur en daardie moordenaars doodgemaak en hulle stad aan die brand gesteek
(v.7). En toe het hy vir sy diensknegte gesê: Die bruilof is wel gereed, maar
die genooides was dit nie werd nie. Gaan dan nou op die kruispaaie (waar baie
mense verby beweeg) en nooi almal wat julle mag vind na die bruilof
(v.8-9).
Die dienaars het toe
uitgegaan op die paaie en almal bymekaar gemaak wat hulle gevind het, die slegtes
sowel as die goeies, en so het die saal van die bruilof vol gaste geword het
(v.10). Maar ook daar het iets gebeur wat nie reg was nie. Want toe die koning
ingaan om na die gaste te kyk, sien hy een wat nie soos die ander gaste bruilofsklere
aan het nie (v.11). Dit het glad nie gepas nie. Die koning het die man selfs
toe eers vriend genoem en gevra wat fout is en hoe hy kon inkom by die saal
sonder ’n bruilofskleed. Die man kon egter niks antwoord nie, want hy was
skuldig. Toe het die koning vir sy dienaars gesê om sy hande en voete te bind
en dat hy weggeneem moes word en in die buitenste donker (duisternis) gegooi
moes word. Die Here Jesus het toe verder sy bekende waarskuwende woorde oor
spyt wat te laat kom, hierby gevoeg: “Daar sal geween wees en gekners van die
tande.” En toe het Hy ook ander woorde bygevoeg wat Hy al voorheen uitgespreek
het om mense te vermaan om seker te maak dat hulle hoor, maar ook glo en doen:
Baie is geroep, maar min is uitverkies (v.12-14).
Besprekingsvraag: Watter
verskillende soorte afwysings van die Koninkryk vind ons hier?
Insig: Hierdie derde gelykenis sluit by die voriges aan om ons te leer oor die Koninkryk van God. Ons het reeds verneem dat dit werk in die wingerd en vrugdra beteken. Dit beteken hier ook feestelikheid by God se bruilof, en dat mense die diepste blydskap en innige gemeenskap met God en sy Seun deur sy Gees mag ken.
Van die begin van die
wêreld af het God sy diensknegte uitgestuur, herhaaldelik, en so sy liefde,
oorvloed en lankmoedigheid betoon. In die Ou Testament lees ons van vier
geleenthede waar konings uit die geslag van Dawid ’n fees by op Sion hou vir
die volk (2 Sam. 6; 1 Kon. 8; 2 Kr. 30, 35; vgl. Jes. 25:6-10). En dan kom
Jesus Christus, en Hy stel die groot fees in op grond van sy liggaam en bloed
wat Hy vir ons gee (Lk. 22). Eenmaal sal dit in volle glorie vaardig wees, maar
intussen word ons reeds gereeld gevoed by hierdie fees met sy Woord en die
voedsel en drank van die ewige lewe. Die wêreld stuur af op Bruilof, nie ’n
begrafnis nie. Die koninkryk van God is ’n koninkryk van blydskap.
Die roeping tot hierdie Koninkryk beteken
wegdraai van dit wat ons weghou, slegte of goeie dinge. Die vreemde reaksies
van mense op die uitnodiging is steeds relevant. Daar is (1) diegene wat nie wil
nie en nie omgee nie, en so hulself nie waardig ag nie. Hul prioriteite is
anders. Dit wat hulle aandag opeis is nie op sigself sleg nie, maar dit het
hulle lewe oorgeneem. Hulle het óf ’n valse gevoel van tevredenheid
met wat hul het, óf ’n begeerte na meer (Bengel). Land en besigheid toon ook
dat beide die platteland en die stad sy eie versoekings het (Henry). Dan is
daar (2) hulle wat nie wil nie en die boodskappers aktief teenstaan en as
gevaar vir die volk beskou. Israel se leiers en valse profete het dit dikwels
gedoen, ook toe Christus self opgetree het. Sulke leiers met hul magsisteme
mishandel en maak dood, omdat hulle afgunstig is en reken dat dit ter wille van
die sg. groter saak is.
En dan is daar (3) diegene wat deel
van die koninkryk wil word, maar op eie voorwaardes, sonder ’n bruilofskleed.
Die ononderhandelbare bruilofskleed is God se geregtigheid in Christus wat ons
reinig en heilig (vgl. Jes. 61:10; Op. 19:7-8). Almal wat God se Koninkryk en
blydskap en bruilofskleed afwys, moet weet dat hulle die soort oordeel oor
Jerusalem tydens die ballingskap, en weer in 70n.C., sal leer ken, en
uiteindelik die buitenste duisternis saam met selfverwyt oor verspeelde uitnodigings. Maar
God sit sy werk voort in die geskiedenis en die uitnodiging word ná Christus nog groter en gaan nou
na alle kruispaaie en nasies toe uit, na goeies en slegtes (vgl. v.10; Hand 10,
17:4; 1 Kor. 6:11) Kom, en trek jou bruilofskleed aan!
Werke geraadpleeg
John
Bergsma, The Word of the Lord. Year A.
Frederick
D Bruner, Matthew: A Commentary.
Catholic Bible Study New Testament
Lawrence R Farley, The Gospel of
Matthew: Torah for the Church.
Leithart, P.L. Matthew
Matthew Henry
John Gill