2021/06/11

Boekbespreking: Science, Politics and Gnosticism: Two Essays [1960] 2012, deur Eric Voegelin (1)



Ons is almal nou Gnostieke. Dit is die vangfrase wat onlangs in 'n podsending gebruik is toe die metafisiese uitkyk van ons tyd ter sprake was. Een van die verwysings wat die stelling moes staaf, was hierdie kern-werk van Eric Voegelin wat nagenoeg 100 bladsye beslaan en wat dateer uit 1959-60.

By die herlees van hierdie werk kom die uitlokkend polities korrekte spot by 'n mens op. Dit is dat 'n blonde man drie keer vir 'n grap lag - wanneer hy dit hoor, wanneer hy dit oorvertel, en wanneer hy dit verstaan. Voegelin se werk maak van die meeste van ons, in elk geval van hierdie bekendsteller, blonde mans. Vergun my daarom om oor te vertel, sodat ook ek kan snap. Volgens Voegelin is Gnostisisme die essensie van modernisme. Die stelling behoort aandag te trek, aangesien hierdie bondige werk van Voegelin beskou word as ’n klassieke werk in moderne politieke teorie volgens Ellis Sandoz wat die voorwoord geskryf het. Sandoz wys daarop dat hierdie werk van Voegelin ongeveer agt jaar na sy publikasie, The New Science of Politics (1952), verskyn het en dat hierdie later werk die tweede gedeelte van die genoemde publikasie verdiep.

Moet ook nie die fout maak om te reken dat selfs hierdie stelling in vandag se post-wêreld agterhaald is nie. Ons is mos, so reken baie, darem nou lankal uit die modernisme uit en in die post-postmodernisme in. By die lees van Voegelin word dit egter duidelik dat Voegelin ook vaders van die post-gedagtes  - soos Nietzsche, soos Joachim van Fiore - insluit. Om die waarheid te sê, Voegelin sou vandag waarskynlik sê dat die skadu van Gnostiekeland bloot duideliker en donkerder geword het. En deel van die dilemma is, sê Voegelin oorgeklank, dat ons steeds met gnostiese konsepte probeer om uit te klim uit die gnostiese gat wat ons vir onsself gegrawe het. Wat moet dan gebeur?

In twee essays streef Voegelin om hierop eerste-rondtes-antwoorde te gee.

Wetenskap, Politiek en Gnostisisme

In die eerste referaat genaamd Science, Politics and Gnosticism, begin Voegelin deur daarop te wys dat daar ’n verskil is tussen opinies en werklike ondersoek na die strukture van die werklikheid.  Voegelin is nog van mening dat politieke filosofie kan raak aan objektiewe werklikheid buitekant die self en dat dit daarom selfs kan help met geestelike terapie vir ’n samelewing wat in wanorde verval. Hy wys egter ook daarop dat hierdie moontlikheid begin afneem wanneer ’n samelewing opinie (doxa) vir filosofie verruil. Die raakpunte van sy kritiek met vandag se retoriek van dekolonisering en dekonstruksie is ontstellend wanneer Voegelin in sy eie tyd, oorvertaal, só spreek oor die dekonstruksioniste van sy tyd: “[Dit word] werklik radikaal en gevaarlik ... wanneer filosofiese bevraagtekening self in twyfel getrek word, wanneer doxa die voorkoms van filosofie aanneem, as dit die naam van die wetenskap vir homself toeëien en die wetenskap as onwetenskap verbied.” Dit is duidelik dat Voegelin hierdie tipe dekonstruksie reeds in sy tyd aan die gnostiese gees verbind.

 Waaroor gaan hierdie laat-moderne Gnostisisme dan? Dit gaan oor 'n gevoel van vervreemding van die werklikheid. Op sigself sou dit natuurlik nie 'n probleem vir Christene wees nie. Sê die Skrif (1 Pt. 2:11) dan nie dat Christene vreemdelinge en bywoners op aarde is nie? Dit is egter die wyse waarop die vervreemding verwoord word wat die probleem is. Hiervolgens lê die probleem nie in die sonde nie, maar in strukturele werklikhede waarin die mens gewerp is. Klasse (Marx) en rasse (Hitler) is maar net onlangse weergawes van die werklikhede wat oorkom moet word. Die vervreemde gees van Hegel en die geworpenheid van Heidegger suggereer volgens Voegelin ook steeds hierdie gnostiese gees wat politieke uitdrukking gevind het in allerhande ismes van ons tyd. Hoe dit ook al verwoord word, sê Doktor Voegelin, die doel is altyd vernietiging van die ou wêreld en die oorgang na die nuwe. Die struktuur van die werklikheid verander egter nie bloot omdat ons dit so wil hê nie. Voegelin wys daarom as stoere Augustiniaan met waardering vir Plato en Aristoteles, van meet af aan op die alternatief - dat die wêreld eerder vernuwe word deur liefdevolle aksie en, om Plato se uitdrukking te gebruik, ernstige spel. Vir Voegelin beteken dit Christenskap.

Verlossing in die moderne Gnostisisme vind plaas wanneer ons die voleinding anderkant die graf, nou reeds binnekant hierdie lewe, ’n volle 'n werklikheid wil maak (immanentizing the eschaton). Daarom is daar nie meer 'n liefde vir wysheid soos by die ou filosowe wat tastend wou trag om in lyn te kom met die werklikheid nie. Nee, die werklikheid moet verander word na die beeld van Utopia waar alle werklikhede oorstyg en omvorm word. Dit beteken onder meer, en dit is hier waar die gnostiese kleure al duideliker wys, dat ons ook die sogenaamde God-konsep soos wat ons dit ken, moet raaksien vir wat dit is: 'n blote konstruk of kruk wat ons nou moet oorstyg. So kan ons begin om outentiek te lewe en verantwoordelikheid vir onsself te neem. Voegelin wys daarop dat dit neerkom op ontkenning van God en die werklikheid soos God dit geskape het. En omdat hierdie ontkenning hardnekkig volgehou word, moet dit noodwendig daartoe lei dat bevraagtekening nie meer geduld kan word nie.

Voegelin toon met verwysing na Marx, Nietzsche, Comte, en Hitler aan dat die verbod op bevraagtekening van ver kom. Ons sou hieruit kon aflei dat die kanselleerkultuur eintlik al baie oud en bekend is. Die waarde van Voegelin in hierdie verband, is dat hy drie-fases onderskei waarin hierdie moedswillige onderdrukking van bevraagtekening vererger word. In die eerste fase is daar volgens hom nog sprake van ’n verkeerde oordeel wat mag voortspruit uit ’n ander motief, al sou dit reeds misleiding genoem kon word. In die tweede fase word die denker egter bewus van die onwaarheid van die stelling en die spekulasie, maar volhard daarin ten spyte van die bewustheid daarvan. Nou word dit bewuste misleiding en intellektuele swendelary. In die derde fase word die opstand teen God geopenbaar en uitgeken as die eintlike motief vir die swendelary. So word die misleiding nou ook demoniese leuenagtigheid.

Daar is hoop

Voegelin gee egter ook hoop. Dit is nie asof ons met iets nuut gekonfronteer word nie. Hy wys daarop dat die lang geskiedenis van post-klassieke Westerse Gnostisisme eintlik maar net die voortgang is van Westerse sektarisme. Die betowering hiervan moet eerstens in elkeen van ons afsonderlik deurbreek  word. Hy is selfs van mening dat politieke wetenskap, gegrond op transendente verwysingspunte, kan help om hierdie demone uit te dryf. Wanneer ’n samelewing nog gewillig is om hierdie tipe politieke filosofie as terapie te ontvang, behoort daar hoop te wees. Wanneer gemeenskapsuniversiteite nog gewillig is om hierdie tipe filosofie te leer en te lewe, is daar nog hoop. Voegelin is van mening dat daar duidelike motiewe, simbole en denkpatrone van die gnostiese massabewegings is en dat die uitkenning en beswering hiervan op teoretiese vlak reeds baie kan help. In ’n volgende aflewering sal daar verder hierop ingegaan word.