2024/09/19

Here, kom my ongeloof te hulp!

Lees: Mark. 9:14-29

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus kom mense te hulp wat Hom in hulle swakheid aanroep. 

Oorsig: Nadat die Here Jesus verheerlik is op die berg en drie van sy dissipels dit gesien het, het Hy saam met hulle teruggekeer na sy dissipels. Daar het ’n groot klomp mense om die dissipels vergader en daar was ook skrifgeleerdes wat met die dissipels argumenteer het. Die skare was dadelik, toe hulle Hom sien, verbaas en het na Hom gehardloop en gegroet (v.14-15). Hy het die skrifgeleerdes toe gevra waarom hulle met die dissipels argumenteer (redetwis). Een uit die skare het toe geantwoord: Meester, ek het my seun met ’n stomme gees na U gebring. En waar die gees die seun ook aangryp, (1) skeur hy hom en (2) hy kry skuim in die mond en (3) hy kners met sy tande en (4) word styf. En ek het u dissipels gevra om hom uit te dryf, en hulle kon nie.” (v.16-18). Normaalweg kon hulle, maar nie hier nie.    

Die Here Jesus het hom toe geantwoord: “O, ongelowige geslag, hoe lank sal ek by julle wees, hoe lank sal ek julle verdra? Bring hom na my toe.”(v.19). Hulle het die seun toe na Jesus gebring en toe die seun Hom sien, (1) laat die gees hom stuiptrekkings kry, en (2) hy val op die grond neer en (3) rol rond met skuim in die mond (v.20). Die Here Jesus vra toe vir die pa hoe lank dit al is wat dit die seun oorgekom het. Hy het toe geantwoord dat dit van sy kinderdae af was. Hy het uitgebrei en vertel dat die gees die seun selfs dikwels in die vuur en die water gegooi het om hom dood te maak. En toe voeg die man by: “Maar as U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons.” (v.21-22). Die Here Jesus het toe gesê: “’Wat dit betref – as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo.” Die vader van die kind het toe dadelik met trane uitgeroep: “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!” (v.23-24).

Toe die Here Jesus sien dat ’n skare saamstroom het Hy die onreine gees bestraf en gesê: “Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou, gaan uit hom uit en kom nooit weer in hom nie.” Nadat die gees (1) deur die seun geskreeu het, het hy hom (2) baie stuiptrekkings laat kry en toe (3) het hy uitgegaan. Die seun het gelyk (4) of hy dood is en die mense het ook gesê dat hy dood is. Maar die Here Jesus het hom (1) by die hand gegryp en (2) hom opgerig. En toe (3) het die seun opgestaan. (v.25-27). Toe die Here in die huis kom, vra sy dissipels Hom afsonderlik waarom hulle die gees nie kon uitdrywe nie. Die Here Jesus het toe gesê: Hierdie geslag (genos: KJV:soort) kan deur niks anders uitgaan as deur gebed (en vas – 53 vertaling) nie (v.28-29).  

Besprekingsvraag: Watter basiese patroon vir bediening kan ons uit hierdie gedeelte aflei? 

Insig: Ons vind die samehang van heerlike bergtop-ervarings met groot uitdagings in die dale, meermale in die Woord van God. Dink aan Moses wat van die berg afkom en die goue kalf onder die volk vind. Dink aan Die Here Jesus wat na sy doop en die stem uit die hemel, net daarna in die woestyn die satan moet trotseer. Hier is Hy pas verheerlik op die berg en die stem uit die hemel bevestig weer eens dat Hy groter is as dienaars uit die Ou en Nuwe Testament. Maar net hierna is daar die laaste genoemde groot demoniese uitdaging in Markus voor sy kruisiging. Laat ons daarom bedag wees op uitdagings na besondere hoogtepunte, maar laat ons ook Hom raaksien wat nou reeds verheerlik is in ons skynbaar hopelose situasies. Ons lees hier van uiterste gebrokenheid - ’n seun wat van kinds af verskeurd en doodsoekend is, en ’n kragtelose Kerk met twis met ander leiers in hul kragteloosheid. Kortom, hier is sprake van diegene wat die verheerlikte Christus moet verdra: ’n ongelowige geslag. Die goeie nuus is dat Hy ons wel verdra, en dat Hy selfs sy lewe oorgegee het sodat ons nie net verdra kan word nie, maar kinders van God wat groei in hulle geloof. Daarom word ons ook opgeroep om nie maar net te bly waar ons is nie, maar om hier ag te gee op sy antwoord en sy openbaring sodat ons geloof versterk kan word.

Die goeie nuus is dat Hy wat verheerlik is, steeds ook in ons midde is. Daarom moet ons nooit die afstandskoot, die wyehoeklens verloor nie. En ons moet telkens weer leer om ons situasies, soos hier, na Christus te bring vir hantering. Deel van die oproep is om onsself te ondersoek daaroor of ons ook dalk in ons radeloosheid en moedeloosheid, begin toegee aan uitsprake soos: “As U iets kan doen.” Laat ons daarom opnuut hoor: Die vraag is nooit of Hy kan nie. Hy is die een vir wie niks te wonderbaar is nie en wat soos hier, moeiteloos kan doen waartoe ons eenvoudig nie in staat is nie. Die vraag is eerder of ons kan glo, met ander woorde, nog ’n openheid het vir Hom wat iets kan doen. Die murmurerende Israeliete in die woestyn is te maklik ook ons tipering in elke nuwe uitdaging: Ons leef asof God nie werklik iets kan doen in bepaalde situasies nie. Maar die man in trane gee ons soveel hoop deur sy woorde van wankelende geloof. Ook by ons is daar in sy genade wel geloof, maar so dikwels vermeng met soveel swakheid en ongeloof. Die man wys ons wat om daarmee te maak. Gaan daarmee na Jesus Christus. Hy kom dit tegemoet en kan dit uitsorteer. Gee die eerste tree in die krag van sy Gees en laat Hy jou suiwer en help en sterk maak. Die Woord leer hier dat Christus sulke mense nie afwys nie (vgl. ook Joh. 6:37). Onthou, om Hom in jou wankelende geloof aan te roep, is alreeds geloof, al is dit ook hoe klein (vgl. Rom. 10:14). En as Hy dan antwoord en ons geloof versterk, moet ons dan leer om sterker te word, en ook onthou om Hom vir sy antwoord te eer (vgl. Ps. 50:15).    

Laat ons ook na hierdie gedeelte kyk vanuit die perspektief van kragtelose leiers in die Kerk. Die KJV vertaal dit dat sekere tipe bose geeste soos hierdie soort nie uitgaan behalwe deur gebed en vas nie. Dit beteken nie dat gebed en vas gesien moet word as tipe formules vir sukses wat in hulself krag dra nie, maar dat dit maniere is om die gemeenskap met God te verinnig en seker te maak om nie uit eie krag op te tree nie. Ons kan maklik iewers langs die pad ons verbondenheid aan God en ons diepe afhanklikheid van Hom begin loslaat en selfs op ons sogenaamde piëteit begin vertrou. Die geestelike dissiplines kan ons hierin help wanneer dit met die regte doel gebruik word. En laat ons ook weer die basiese patroon van bediening aan liggaam en gees waardeer wat hier na vore tree (vgl. Healy): Vra ‘n vraag of twee om die aard van die probleem te bepaal (v. 21); Bring die persoon na Christus (v.19); nooi die persoon uit tot geloof in Jesus Christus(v.23); Bid en vas wanneer moontlik (v.29); en volhard in verwagtende geloof, ook wanneer dit lyk of daar net stuiptrekkings en dood is en alles faal (v.26). Op hierdie weg het baie al die lewende teenwoordigheid en mag van Christus leer ken in baie uitdagende situasies.           

Werke geraadpleeg:

Mary Healy, The Gospel of Mark.

Ben Witherington, The Gospel of Mark.  

Michael Card, The Gospel of Passion.

Matthew Henry