Die bekende evangeliserende Biskop op sosiale media, Robert Barron, was onlangs in gesprek met die Iranees-Amerikaanse joernalis en opkomende konserwatiewe intellektueel, Sohrab Ahmari. Dit het gehandel oor Ahmari se nuwe publikasie, The Unbroken Thread: Discovering the Wisdom of Tradition in an Age of Chaos. Jared Zimmerer, die Senior Direkteur van die Word on Fire Instituut, het die gesprek gelei.
Daar is by bepaalde temas van Ahmari se boek stilgestaan, maar die tema waaroor dit hier gaan, kan gevind word vanaf die 20ste minuut tot en met ongeveer die 38ste minuut. Dit is die tema wat Zimmerer beskrywe as 'n kulturele verlies, 'n geestelike verlies, ja selfs 'n metafisiese verlies. Indien iemand nog wonder, dit gaan oor die Sabbat, of die Dag van die Here, of soos hoofstuk drie van Ahmari se publikasie dit stel, "waarom sou God wou hê dat jy 'n dag af moet neem?
Zimmerer se verband wat hy trek met 'n metafisiese verlies is insiggewend.
Dit spruit voort uit Biskop Barron se opmerking net vantevore dat al ons
standpunte voortvloei uit ons metafisika, of ons daarvan bewus is of nie. In
pronter Afrikaans gestel: Alles vloei voort uit ons visie op die werklikheid,
wat ook die werklikheid anderkant ons sintuie insluit. Al ons standpunte spruit
met ander woorde voort uit ons wêreldbeskouing, of om dit nog meer deftig uit
te druk, uit ons metafisiese aannames. Dit sluit jou beskouing van, benadering tot en deelname aan Sondag in.
Ahmari verwys na rabbi Abraham Joshua Heschel wat 'n bekende intellektueel uit
Pole in die middel van die vorige eeu was. In Pole was die Sabbat volgens Ahmari
toe nog gesien as die sentrale hegstuk van die lewe. Heschel het daarop gewys
dat dit wat lyk na beperking, inderwaarheid bevryding was. Ja, die Sabbat was
die bron van innerlike vryheid. Dit was die wyse waarop die geopolitieke en kommersiële
ryk van ruimte verruil is vir die ryksgebied van tyd. Dit was die tydsruimte
waar intenser bewuswording van God plaasvind - die God wat nie van enige
gebeurlikhede afhanklik is nie, wat ewig is, en waar intieme tyd met Hom
spandeer kon word. Dit het daarom ook verder gegaan oor 'n sabbatsvisie waar mense gewaardeer is
vir wie hulle is en nie bloot vir wat hulle doen nie.
Dit is hierdie sabbatsvisie, sê Ahmari, wat verloor is in die naam van vryheid. Hy staan selfs op die standpunt dat die sogenaamde “blue laws” van Sondagswetgewing herstel moet word. Is dit nie outoritêr nie? Volgens Ahmari is die antwoord nee en hy wys daarop dat die VSA met sy protestantse DNA maar eers in die laaste drie tot vier geslagte begin het om aan hierdie ou tradisie weg te kalwe en die resultaat daarvan formuleer hy op treffende wyse: Die vryheid van die Sabbat is verruil vir die vryheid van die markte. Ons het dit verloor, se Ahmari en skielik is alles nou oop op Sondag.
Barron sluit hom daarom by Ahmari aan en stel dat ons die Dag van die Here,
bedoelende Sondag, moet terugeis (reclaim).
Zimmerer wys in hierdie verband op die bekende werk van Josef Pieper oor vrye
tyd wat die basis van kultuur is (Leisure:The Basis of Culture). Hy wys daarop dat dit 'n tipe aktiewe vrye tyd
verteenwoordig waarin die verstand groei en gedy. Ahmari wys aansluitend hierby
ook daarop dat die vryheid om die Sabbat te vier saamhang met politieke vryheid,
ja dit eintlik vooraf versimboliseer. Met treffende woorde wat hy ook in sy
boek neergepen het, wys hy daarop dat God nie geëis het dat sy volk moet trek
sodat hulle hul eie land kan kry nie, maar eerder sodat hulle Hom kan
dien.
Hierna gaan die gesprek oor na die rituele aspek wat in Sabbat of Sondagviering
inbegrepe is. Dit is natuurlik veral binne die klimaat van 'n Rooms Katolieke
gesprek onafwendbaar, maar dit maak Protestante bewus van 'n element van
Sondagsviering wat ook nie by ons verby moet gaan nie. Ook hier is die vraag
nie of nie, maar hoe. Almal het ritmes en rituele in hulle leefstyl. Die
enigste vraag is hoe dit daar uitsien, ook op Sondag. Daar word in die gesprek verder gewys op oorgangsrites en die waarde daarvan om identiteit te verleen en jou
roeping vas te maak. Die bied ook die moontlikheid om meer bewustelik die
misterieuse ruimte te betree. Waar dit nie gebeur nie, ontstaan verarmde
spiritualiteit, geprivatiseerde spiritualiteit, en word allerhande armsalige
surrogate soos Dooie See baddens gekies. Die feit is egter dat langs die weg
van pure rasionalisme en kommersialisering, rituele maklik as belaglik
beskou word.
Barron wys dan op die woorde van Thomas Merton wat die beeld gebruik het
van ballet om liturgie te verduidelik en dat dit wel dwaas sal lyk vir 'n blote
rasionalistiese bewussyn. En tog bied dit die geleentheid om in te tree in die
verlokkende misterie deur middel van geordende bewegings. Die Sabbatdag en die meedoen
daaraan, is die groot inwerkingtreding van 'n lieflike, lyflike, spelende "nutteloosheid". Nutteloosheid word hier natuurlik bedoel as nutteloosheid in terme van kommersialisering. Wanneer dit verloor word, verloor die kultuur sy hart. Dan is
die kultuur soos afgeplukte blomme. Uitgehaal uit die grond van rite, van
sabbatserkenning, verlep die blomme mettertyd. Barron wys daarop dat baie
vandag hulself beskou as vry van die rituele bewussyn en dit as primitief
beskou. Sy antwoord daarop is dat dit nie die waarheid is nie, maar eerder as psigologies
en geestelik gesofistikeerd verdedig kan word en dat dit outonomie en radikale
gelykstelling beveg.
Zimmerer wys dan op die werk van Leonard Sax wat daarop wys dat jongmanne
hulself juis vind in rituele waarin diens aan die gemeenskap bewys word. Barron
se antwoord hierop is dat die VSA 'n hele land het van ongeïnisieerde manne. Hy
verbind dit onder meer aan die verlies aan inisiasie-rituele. Hy wys op die natuurlike oorgangsrites
waarin mense voorheen verbind is aan hul families, die gemeenskap, die natuur
en aan hul God, en hoe dit hulle gehelp het om hulle bydrae te maak en gerig te
wees op dit wat groter is as hulself. Voor alles natuurlik op God en sy wil vir
hul lewe. As dit nie gebeur nie, sê Barron, kry ons te make met die fenomeen wat
genoem word 35 jarige seuns. Hy verwys na die bekende film, Fight Club, wat iets hiervan illustreer
wanneer manlikheid nie effektief gekanaliseer word nie. 'n Klomp eksistensiële
angs weens gebrek aan identiteit word dan opgehoop en wat op allerhande vreemde
maniere uiting kry.
Dit is natuurlik nodig om iewers weer te vra wat dit alles met Sabbat of Sondagviering te make het. Dit hang waarskynlik saam met Heschel se genoemde beroemde woorde oor die Sabbat waarop Ahmari gewys het - dat die Sabbat die moontlikheid bied om heilige gebied te betree, nie van ruimte nie, maar van tyd. Dit gebeur langs die weg van ritmes waarby die liggaam betrokke is en waardeur die volle mens gerig word op God. Van hier af kan die sprong dan beter begryp word na ander rituele wat ook help om die identiteit te vorm. Die Sabbat, of dan Christelik verruim - die Sondag - is hierin bo-aan die lys en Ahmari se besorgdheid is dat sy kinders nie hierin sal deel nie en so nie in hul volle identiteit leef nie. Stof tot nadenke, soos hulle sê. Ons dink nie altyd aan Sondag in terme van die liggaamlike ritmes wat 'n ander idee van vryheid simboliseer nie. Ons dink nie altyd daaraan dat dit 'n belangrike teenvoeter is teen die tirannie van kommersialisering en die algehele vryheid van die markte nie. Dit help ons beslis om te dink aan ’n dieper tipe vryheid en identiteit. Dit help ons om te besef dat ook Sondagvisie alles te make het met ons metafisika.