Die literêre denker, Joseph Pearce, skryf gewoonlik meevoerend. Nie te lank gelede nie, het hy in 'n nuusbrief voedsel vir verorbering oor die begrip Weste gegee. Watter Weste? Dit is die tema wat Pearce aan die orde stel. Kategorieë maak saak en Pearce onderskei tussen die ou Weste en dit wat neerkom op die sogenaamde nuwe Weste. Laasgenoemde kom neer op post-Verligting. Die ou Weste kom neer op Athene wat vir Jerusalem ontmoet het. Die word ook Christendom genoem. Pearce wys daarop dat hierdie twee visies op die Weste steeds in 'n titaniese stryd gewikkel is. Dit is nie asof nuut bloot vir oud vervang het nie. Hoewel hy dit nie so uitbeeld nie, is dit eerder twyfelagtige water wat vir algemeen ontwyfelbare wyn probeer vervang. Die stryd duur voort en diegene wat oortuig geraak het van die uitgediende aard van die wyn-weergawe, moet weer besin. Dit was nog altyd tipies van dwaalligte om voor te gee dat die permanente dinge nou uitgedien is. En keer op keer het realiteit teruggeskop en voortgalop.
Afhangende van waar jy staan, sal jy daarom Rusland as of vyand of medestryder van die Weste beskou. Pearce wys daarop dat hoewel
Rusland nie geografies heeltemal Wes gekarteer kan word nie, die invloed van
Marx en Engels die na-Verligtingsera verteenwoordig wat ook op die ouer Rusland
inbreuk gemaak het. Dit beteken dat ou Rusland en die ou Weste saam kan
kampvure hou, maar dat dit anders gesteld is met die Weste van
Post-Verligtingsfaam. Daarom is dit nodig om duidelik te definieer. C.S. Lewis
het homself by geleentheid beskryf as 'n ou dinousourus. Hiermee, so klink
dit my, het hy terugverwys na die oesjaar-Weste. Dit is hierdie Weste wat met
die beste uit die hede bemiddel moet word. Dit mag wees dat ons meer
na-Verligting is as wat ons wil toegee en die bemiddeling sal deeglik, eerlik en deurdag moet
geskied. En so, met behulp van hierdie tipe toe-eiening, behoort ons by
iets te kan uitkom waar ook Rusland meer soos vriend en minder soos vyand sal
lyk.