Lees: Hebr. 3:12-19
Gedagte vir kinders: In moeilike tye, leef in die geloof en
hou vas aan God se beloftes.
Oorsig: In die voorafgaande gedeelte het
die Hebreërskrywer gefokus op die onoortreflike heerlikheid van Christus as
Gestuurde en Hoëpriester van ons belydenis (3:1). Hy
het spesifiek daarop gewys dat Christus soveel voortrefliker is as Moses, die
middelaar van die ou verbond. Moses was maar net ’n dienskneg van die huis,
maar Christus is die Seun en Bouer van die huis wat God oprig (3:3-4; 5-6). En
nou wys die Hebreër-skrywer verder op wat God in Psalm 95:7-11 gesê het van
mense van die ou verbond wat ongelowig en ongehoorsaam was aan God nadat hulle
reeds soveel van God beleef het.
Die Hebreër-skrywer
pas hierdie gebeure met mense van die ou verbond nou toe op die gelowiges van
die nuwe verbond. Hulle het soveel meer as Moses. Hulle het die enigste Hoëpriester
en Seun van God as hulle Middelaar. Hulle loop die gevaar om in dieselfde
toestand te beland as die volk van die ou verbond. Hulle het die Here se
kragtige werke gesien, dit selfs gesmaak en geproe. En tog, by die eerste
hindernis en weerstand in die woestyn, toe daar geen water was om drink in die woestyn Sin, daar by Massa en Meriba nie
(Vgl. Eks. 17:1-7; Ps. 95:8), het hulle met Moses getwis en gewonder of die
Here wel in hulle midde is. Die Psalmis van Psalm 95 kyk later terug na daardie
gebeure en roep ’n nuwe “vandag” uit waar die volk nie weer so moet maak soos
die volk in die woestyn nie.
Die Hebreër-skrywer sluit hierby aan om daarop te wys dat die volk van die nuwe verbond let op Jesus Christus, hulle ook nie so moet maak nie. Daarom vermaan hy die gelowiges om daarvoor te sorg dat daar nie ’n bose en afvallige hart is wat wegval van die lewende God nie (v.12). Dit gaan hier oor 'n bose hart wat moedswillig afvallig word wanneer omstandighede moeilik raak, teen die getuienis van God in. Hulle moet mekaar eerder elke dag vermaan solank die geleentheid nog daar is om nie deur die verleiding van die sonde hard te word nie. Hulle het reeds deel geword van die nuwe verbond en moet net hieraan tot die einde vashou. Hy vra dan drie vrae oor die gebeure destyds om hulle deur die antwoorde te wys watter toepassings dit steeds vir hulle het.
(1) Wie was dit wat gehoor het? Antwoord: Almal wat onder Moses uit Egipte verlos is (v.16). (2) Op wie was God 40 jaar vertoornd? Antwoord: Die verlostes wat in die woestyn gesondig het (v.17). (3) Aan wie is gesweer dat hulle God se rus nie sou ingaan nie? Antwoord: Die ongehoorsames (v.18). Hy sluit dan af deur daarop te wys dat hierdie ongehoorsaamheid deur ongeloof ontstaan het (v. 19).Besprekingsvraag: Kan mense in die nuwe verbond die rus in
God mis?
Insig: Die vermaning hier kom tot mense
wat deel van die nuwe verbond en die hemelse roeping geword het (3:1) en het
daarom ’n besondere toepassing op kerkmense. Mense van die ou verbond wat te
midde van soveel voorregte God vertoorn het, is hierin vir ons ’n waarskuwing.
Die gebeure by Massa en Meriba verwys na iets wat pas na die uittog plaasgevind
het (Eks. 17), maar ’n toonaard geword het vir 40 jaar in die woestyn (vgl.
Num. 14:21-23). Telkens, by elke skynbare hindernis, word daar nie in geloof
gewandel nie, maar word daar getwis en word God versoek om Homself nou te bewys,
so asof Hy nie reeds oor en oor bevestig het wie Hy is nie. Is dit hoe ons optree
by elke nuwe uitdaging?
Laat ons
egter nie mis van wie daar weggedrywe kan word nie - die lewende God. Dit beteken in wese dat daar een of ander
afgod is waarnatoe daar beweeg word asof dit die lewe verteenwoordig. Afgode is
egter dood en dodelik (vgl. Ps. 115:5-8).
In ons dag is die afgode veral denk-beelde van ware lewe wat die beelde
verteenwoordig. In Hebr. 3 staan die alternatief per implikasie teenoor die
lewende God wat ’n ewige huis bou en sy Seun as Hoëpriester stuur. Dit is
spesifiek van Hom wat hulle nou afvallig wou raak as gevolg van vervolging, na
soveel wonderlike voorregte waarvan hulle deel geword het. In ons dag is een
van die dreigende idees wat kan lei tot vervolging, die idee dat ons era
post-Christelik is en dat die uniekheid van Christus in die naam van “inklusiwiteit”
nou prysgegee moet word. Maar net Jesus
Christus is ons ewige Hoëpriester wat
steeds vir ons intree en net Hy is die weg na ware en volle lewe asook die
ewige rus. Net in Hom kan ons ook die ewige rus nou reeds begin smaak.
Wat beteken
dit dan om nie afvallig te raak nie? Dit beteken dat ons die pad van geloof sal
bly stap, ook wanneer die hindernisse daar is. En ons moet besef dat ongehoorsaamheid
aan God ten diepste plaasvind deur ongeloof (v.18-19). Geloof is die leë hande
en menslike openheid vir die lewende God om met sy woorde en dade jou lewe te bestraal.
Ook as die werklikheid klink of dit daarteen skreeu. Dit is ’n mosie van
vertroue in God en dit wat Hy openbaar het. Die Kerk is nie veronderstel om soos
Israel in die woestyn telkens te murmureer wanneer uitdagings kom nie. Ons word
hier gewys op God se rus wat gelowiges van die ou en nuwe verbond nie sal ken
as hulle telkens van spoor af gebring word nie. Die lewe van die verbond is dinamies
en roep ons telkens op om die begin van ons vertroue vas te hou (v.14). Dit
beteken dat God se beloftes telkens weer toegeëien moet word en ons geleentheid
in elke verleentheid vind om aan God vas te kleef. Psalm 95 waaruit aangehaal
word, begin met die positiewe kant daarvan deur te fokus op wie die lewende God
is en op te roep tot aanbidding en lofsang. Hierdie aanbidding voed ons geloof vir
die uitdagings en avonture wat voorlê.
Geraadpleegde
werke:
John Gill
Jammieson-Fausset-Brown Bible Commentary
Matthew Henry
NT Wright: Hebrews for everyone
Andrew Murray: Holiest of All: A commentary on the
Book of Hebrews.
John Owen: A Commentary on Hebrews.