Lees:
Jes. 2:1-5
Gedagte vir kinders: Die Here
roep ons om in sy Lig te lewe.
Oorsig: Die profeet Jesaja het opgetree in ’n tyd (rondom 700 v.C.)
toe die noordelike stamme van Israel gevang, gedood en in ballingskap gegaan
het. Ook in die Suide het baie mense in Juda en Jerusalem die Here verlaat. Jesaja
het hulle gewaarsku dat God hulle sou straf, maar dat Hy ook weer goeie dinge sou
doen aan die wat oorgebly het. Daarom het Jesaja by tye ook gewys waarop dit
alles sou uitloop en wat die groter prentjie van alles is. Hier gee Jesaja vir
ons so ’n prentjie. Jesaja praat oor wat aan die einde van die dae sal gebeur.
Dit wys op die dae van die einde van die Ou Testament en die dae waarin die
Messias sou kom.
Jesaja praat dan met hulle deur
beelde wat vir hulle bekend was om iets te sê van wat in die toekoms sou
gebeur. Berge word dikwels gesien as plekke waar mense die naaste aan die hemel
is en God kan ontmoet. Maar Jesaja wys daarop dat Huis van die Here en die berg
Sion waarop dit gebou was, al was dit nie die hoogste nie, sou uitstaan bo
almal. Meer nog, die nasies wat vroeër gewoond was aan hulle eie plekke van afgod-aanbidding,
sal letterlik stroom - toestroom (skynbaar opwaarts) - na die huis van die Here
(v.1-2). Ook Miga (4:1-3) sou later hierdie woorde gebruik en Maleagi (1:11)
sou ook reeds praat daarvan dat God se Naam groot sou wees onder die heidene.
Hierdie beelde is vervul in die bediening van die Here Jesus en wys heen na die
Kerk wat die stad op ’n berg geword het, oral waar gemeentes op aarde ontstaan
het (vgl. Mat. 5:14-16; Handelinge). Want ná die Here Jesus se kruisoffer
het die evangelie dan ook na die heidene begin uitgaan (vgl. Mat. 28:18-20).
Jesaja profeteer dat nie net
enkelinge nie, maar volke, baie volke, sal heengaan en mekaar aanmoedig om na daardie
berg te gaan waar die huis van die God van Jakob is. Hulle doel was sodat hulle
(1) die Here se paaie kan leer ken en dat hulle dit nie net sal ken nie, maar (2)
daarin sal wandel. Want vandaar sou die Wet en die Woord van die Here uitgaan
na al die volke toe (v.3). Die Here sal ook deur sy Woord oordeel tussen die
nasies en regspreek. Die gevolg daarvan sal wees dat hulle nie meer teen mekaar
oorlog sal voer nie. Daarom sal hulle van hulle swaarde eerder pikke maak om
die grond te bewerk en van hulle spiese snoeimesse. Die nasies sal nie meer
wapens soos swaarde teen mekaar lig en nie meer leer om oorlog te voer nie
(v.4). En dan roep die profeet die volk op, die huis van Jakob, om te wandel in
die lig van die Here (v.5). Sy lig gee verlossing en leiding (Num. 6:25; Ps.
27:1; Ps. 43:3; Ps. 119:105).
Besprekingsvraag: Wat is die verband tussen Gen. 12:1-5 en Jesaja 2:1-5?
Insig: Jesaja leef in ’n tyd waarin baie mense afvallig was. In die eerste deel hoor ons van dit wat God gaan doen, maar in die tweede deel hoor ons waarmee die mense besig was en wat ’n spieël voor hulle en ook ons ophang:
(1) Hulle verwagting was vol van wat die Ooste
aanbied, (2) hulle model was die Filistyne en (3) hulle assosiasies was met
vreemdes buite Juda (2:6). (4) Hulle waardes
het gegaan oor goud, silwer, en skatte en (5) hulle sekuriteit was in perde en
strydwaens (2:7). En (6) die land was vol afgode en die het hulle met toewyding
vereer (v.8). Die afgode was egter net skynbaar van waarde, en die naam afgod het
letterlik nietigheid beteken (kyk ook na die woord: af-god). Afgode beledig die
eer van God, en vlei mens in hulle hoogmoed, totdat God optree (v.9-22). Kortom,
die verbondsvolk wou soos die hele wêreld rondom hulle wees en vernuftig in eie
krag die lewe vir hulleself oopbreek.
Midde
hierdie toestand gee Jesaja die ware visie wat bou op God se beloftes wat reeds
aan Abraham gegee is: “In jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”
(Gen. 12:3; Gal. 3:8,14). God se beloftes sal waar word, en in Christus het die
verlossing en seën ook reeds na al die nasies gekom. Die Here Jesus het ook sy
Kerk beveel om al die nasies (of volke – let op die kollektiewe woorde soos
hier) sy dissipels te maak (Mat. 28:18-20). Daarom behoort ons te werk vir ’n
gemenebes van Christelike volke en vir ’n tweede reformerende Christendom. Die
Kerk as ’n baken in hierdie wêreld het al baie sout en lig gebring en hoewel
dit tans lyk of dit kwyn, behoort die patrone van die Skrif en van die
kerkgeskiedenis ons te verseker dat dit slegs tydelik is. En soos wat volkere
weer gekersten word, ook waar dit ontkersten het, kan ons verwag dat God se
Woord en Wet sodanige invloed in daardie kulture mag uitoefen, dat oorloë sal
verminder omdat die mense se harte en weë op God gerig sal word.
Dit bring
ons by die vraag na hoe ons dan leef vanuit God se beloftes en na hierdie visie
toe wat eenmaal in sy volheid waar sal wees. In vers 5 lees ons dat die verbondsvolk
opgeroep word om te wandel in die lig van die Here. Dit is tog wat Kersfees
beteken (“kerstfees” = “Christ feast” = Christusfees). Die lig wat skyn in die
duisternis bring genade en waarheid en jubelende blydskap (Ps. 43:3-4; Joh.
1:14). Daarom word die ondenkbare vervul: Heidenvolke verlang om die weë van
die Here te leer ken en daarin te wandel. Verbondskinders behoort mos nie te
wag tot hulle ons eers jaloers maak nie (vgl. Rom.11:14). Ons behoort eerder so
in sy lig te wandel dat ander daarvan kennis neem en ons Vader wat in die
hemele is, verheerlik.
Werke geraadpleeg:
Tim
Chester, Isaiah for You.
J. Alec
Motyer, Isaiah, Tyndale Old Testament Commentaries
John N Oswalt,
NIV Application.
John
Bergsma, The Word of the Lord. Year A.
Matthew
Henry.