Lees:
Luk. 23:27-46
Gedagte vir kinders: Ons word
geroep om Jesus Christus te antwoord oor sy kruis.
Oorsig: Die Here Jesus is weggelei na waar Hy gekruisig sou word en baie
mense het Hom gevolg en die vroue het erg gehuil en getreur (v.27). Die Here
Jesus het toe omgedraai en vir hulle gesê dat hulle eerder oor hulle kinders
moes huil. Die rede was dat daar dae van oordeel sou kom waar mense met kinders
baie swaar sou kry (v.28-29). Soos in die tyd van die ballingskap (Hos. 10:8) toe
die wrede soldate die mense afgemaai het, sou ook hulle uitroep dat die berge hulle
sal bedek as God se oordeel kom. Want as hulle gedoen het wat hulle doen aan
die groen hout (Hy die onskuldige in rustiger tye), moes hulle weet wat sou
gebeur as die oordeel kom oor die droë hout (sondige mense en hul kinders in
oorlog. Vgl. v.30-31). Saam met Jesus is daar ook twee kwaaddoeners weggelei om
gekruisig (“tereggestel”) te word.
By die plek wat Hoofskedel genoem
word (Lukas gebruik nie die Aramese woord Golgotha nie, om dit vir die heidene
te beskrywe), het hulle die Here Jesus en die kwaaddoeners gekruisig, een aan
sy regterkant en een aan sy linkerkant. Jesus het toe daar aan die kruis gesê: “Vader,
vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Hulle het toe sy klere
verdeel en die lot daaroor gewerp oor wie wat moet kry (v.33-34). En die volk
het alles net bekyk en die leiers het met Hom gespot: “Hy kon ander verlos,
maar laat Hy nou Homself verlos as Hy die Messias, die uitverkorene van God is.”
Ook die soldate het gespot en vir hom asyn gebring en gesê dat as Hy die Koning
van die Jode was, soos wat in die bekende tale - Grieks, Romeins en Hebreeus -
bo sy kop geskrywe is, Hy Homself moes verlos (v.35-38).
Een van die kwaaddoeners het ook gespot
en gesê dat as Hy die Messias was, Hy Homself en hulle moes verlos. Maar die
ander een het (1) hom bestraf en gevra of ook hy God nie vrees terwyl hyself in
die oordeel was. Hy het (2) daarop gewys dat hulle hul verdiende loon gekry
het, maar dat Jesus niks verkeerd gedoen het nie. Toe het hy (3) vir Jesus
gevra om aan Hom te dink wanneer Hy in sy koninkryk kom. En die Here Jesus het
geantwoord dat die man sommer daardie dag saam met Hom in die Paradys, (plek by
God. Vgl. Op.2:7) sal wees (v.39-43). En toe, in die middel van die dag, om 12 uur
(die sesde uur), het daar duisternis oor die hele aarde gekom vir drie uur
lank. En die son is verduister en die voorhangsel van die tempel het middeldeur
geskeur. Toe het die Here Jesus met ’n groot stem uitgeroep en gesê: “Vader, in
u hande gee ek my gees oor!” En toe het Hy sy laaste asem uitgeblaas (v.44-46;
vgl. Ps.31:5).
Besprekingsvraag: Is die geredde kwaaddoener die uitsondering of ’n
model vir elke sondaar?
Insig: In die sentrum van die evangelie staan die boodskap van die kruis. Aan die einde van ’n jaar is dit goed om weer die kern van alles voor oë te hou. Daar was geen ander weg nie, want ons kan net vrede met God verkry deur die bloed van die kruis (vgl. Kol. 1:20).
Net Christus se volmaakte
offer in ons plek kon hierdie vrede met God bring. Die groot versoendag van die
Jode (Lev. 16) is vervul in die groot versoendag op Golgotha. Daar het Christus
Homself volledig oorgee om ons verlossing te bewerk. Die hele Nuwe Testament is
in ’n sekere sin ’n verdere uitwerking van die gevolge van dit wat Christus gedoen
het deur sy kruisiging en opstanding. So kon vergifnis en ware reiniging uit
genade vir elke sondaar moontlik geword.
Die geredde
kwaaddoener aan die kruis is hier vir elke gelowige die model. Hy wys nie soseer
vir ons dat sommige mense tog wel nog op die laaste gered kan word nie. Nee, hy
vergestalt eerder die verhaal van elke verloste sondaar. Want hy verdien sy
straf, maar ons hoor ook van Godsvrees wat verder lei tot erkenning, belydenis
en aanroeping. Daar is erkenning van skuld, asook dat Christus regverdig is. Daar
is ook belydenis en aanroeping van Christus. En ons hoor die wonderlike belofte
wat steeds geld vir elkeen wat bid dat Christus aan hulle sal dink. In ’n sin
is dit ook reeds ’n eerste geseënde antwoord op Christus se eerste kruisbede,
want die kwaaddoener het ook eers saam gelaster, maar nou vind hy vergifnis (Mt.
27:44).
Ons hoor en
sien ook hoe God in Christus nou met ons praat deur hierdie gebeure. Kyk byvoorbeeld
na die selflose optrede van Christus. Hy fokus nie op sy eie smart nie, maar op
hulle wie se oordeel en verskriklike verwoesting op pad is binne 40 jaar. En
wanneer Hy gekruisig word, is sy eerste woorde, biddende woorde wat intree. Hy
ly en Hy waarsku en Hy bid vir sy vyande. (vgl. Mat. 5:44; Hd. 7:60). En by die
eerste egte toenadering gee Christus redding, ook daar aan die kruis. Hy word gespot
dat Hy Homself nie kan red nie, maar die ironie is dat Hy nie wou
nie, om juis so die verlossing vir ons te bring. En God praat ook saam deur sy
skepping. Hy wat eenmaal gesê dat daar lig sal wees, laat dit nou donker word.
Want ons moet besef watter verskriklike gevolge die sonde het dat God sy eie Seun
moes gee om dit dra. En tog die goeie nuus: Die voorhangsel by die tempel skeur,
want deur die versoening wat Christus bewerk, is die pad vir altyd oop na die
Vader. En te midde van die smart, gee Christus in triomf (met ’n groot stem) sy
gees oor aan die Vader. En so word ons nou saam met die omstanders by die kruis
geroep tot reaksie. Hier kan niemand toeskouer bly nie.
Werke geraadpleeg:
Bergsma, J.
The Word of the Lord. Year C.
Bock, D.L.
Luke: NIV Application Commentary.
France,
R.T. Luke: Teach the Text Series.
Sproul,
R.C. Luke: An Expositional Commentary.