2022/11/11

Die tempel, die einde en die verheerlikte Christus

Lees: Luk. 21:5-28

Gedagte vir kinders: Mense wat aanhou om teen Jesus te staan sal swaar gestraf word.

Oorsig: Die Here Jesus was reeds in Jerusalem waar Hy gekruisig sou word. Terwyl Hy in die tempel was, het mense gepraat oor die indrukwekkende tempel met sy groot en mooi klippe en versierings (v.5). Die tempel was in daardie tyd bekend as een van die wonders van die tyd. En tog het die Here Jesus vir hulle gesê dat daar dae sou kom wat elke groot klip daarvan afgebreek sou word (v.6). En toe die mense hom vra wanneer dit sou gebeur en wat die teken sou wees, het Hy hulle as die groot Profeet geantwoord. Hy het vir hulle daarop gewys dat alles nie dadelik sal plaasvind nie. Daar sal mense wees wat maak asof hulle in sy Naam kom en daar sou oorloë en opstande wees, maar dit sou nie dadelik die einde wees nie (v.7-9).

Daar sou wel oorlog en groot aardbewings en hongersnode en pessiektes en groot tekens van die hemel wees. Maar hulle sou eers vervolg word en oorgelewer word in sinagoges en tronke en voor konings en goewerneurs gebring word ter wille van sy Naam – en tog ’n geleentheid om te getuig (v.10-13). Hulle moes ook nie bekommerd wees wat om te sê nie, want Christus sou woorde en wysheid gee wat niemand sou kon teenstaan nie (v.14-15). Selfs hulle naaste mense sou hulle oorgee en hulle sou gehaat wees ter wille van sy Naam (v.16-17). En tog sou hulle geen werklike skade ly nie en moes hulle deur volharding hul lewe in besit kry (v.18-19).

Hulle moes wel weet dat wanneer Jerusalem omsingel is, dat die verwoesting naby was. Dan moes hulle wegvlug uit die stad en na die berge. Dit sou dan die dae van wraak wees oor Israel wat sy Messias verwerp het en die Skrif sou vervul word (v.20-22). 

Swanger vroue en die met klein kindertjies sal baie swaar kry, soos wat dit gaan wanneer die toorn van God oor die volk kom. Hulle sou deur die swaard sterwe en as krygsgevangenes weggevoer word na al die nasies. Jerusalem sal vertrap word deur al die nasies totdat die nasies se tyd vervul is (v.23-24). Daar sal dan tekens wees in die hemel en op aarde (son, maan, sterre, see, branders), soos wat gebeur wanneer God oordeel (v.25; vgl. Jes. 13:10). Mense se harte sal van vrees beswyk wanneer die kragte van die hemel geskud word (v.26). En dan sal die mense Christus sien kom met krag en heerlikheid (v.27; vgl. Dan. 7:13). Dit beteken dat Jesus bevestig word as die Koning en dat Hy ’n nuwe era inlei aan die regterhand van God. Die mense moes dan moed kry en hulle koppe optel, omdat dit bewys dat hulle verlossing naby is en dat Christus die Messias is en sy oordele gekom het oor hulle wat Hom nie wou erken nie.   

Besprekingsvraag: Wat het die tempelverwoesting en die wederkoms met mekaar te doen?

Insig: Ons lees hier Lukas se weergawe van Christus se Olyfberg-profesie (vgl. Mat. 24-25; Mk. 13). Dit gaan oor die vernietiging van die tempel in 70n.C. wat heenwys na die voleinding van die wêreld. Die tempel was vir Israel die hart en siel van hulle aanbidding, en is ook beskou as ’n mikro-kosmos van die heelal. Die magtige tempel wat Herodes die Grote gebou het vanaf 20.v.C. tot 64n.C., is ook beskou as een van die wonders van die antieke wêreld. Jerusalem is gesien as die sentrum van die aarde en die tempel die nawel van die heelal. Dit wat daarom met die tempel gebeur, sou ’n tipe wees van wat in die hele kosmos sou gebeur (John Bergsma). Christus se profesie fokus op dit wat sou gebeur voordat daardie geslag (binne 40 jaar) verby was. Dit het ook so gebeur in 70 n.C. Josefus se boek oor die Joodse oorloë bevestig ook die verskriklike dinge wat gebeur het tydens die vernietiging van die tempel.

Hierdie vernietiging word beskrywe as God se wraak (v. 22) omdat hulle die Messias verwerp het. Daarmee het die bedeling van die Ou Testament ook finaal tot ’n einde gekom. Christus word hier voor sy kruisdood reeds as die Seun van die mens in sy heerlikheid beskrywe en die band met Dan. 7:13 is hierin duidelik. Dit gaan oor die verhoogde Christus wat in heerlikheid “’kom” (v.27), nie net eenmaal nie, maar ook in tyd. Dink maar aan sy verheerliking op die berg, sy opstanding uit die dood en Hemelvaart, Pinksterdag, en hier die wraak en totale vernietiging van die indrukwekkende tempel waaraan jare gebou is. Die kragte van die hemel wat geskud word, dui dikwels op God wat oordeel, ook in die geskiedenis (vgl. Jes. 5:13-14; 13:6-16; 19:2; Jer. 4:13-22; 14:12; 21:6-7; Es. 14:21; Hg. 2:6-7; Sag. 14:4). Van toe af brei die Kerk van Christus uit tot aan die uiterste van die aarde. En die patrone van vervolging en oordeel herhaal hulleself, nie net in die voleinding nie, maar ook in die geskiedenis. En dit staan alles reeds in die teken van die voleinding: So sal in ons tyd, en eenmaal, almal vergaan wat die tyd van genade en geleentheid om Christus as Verlosser te ken, verwerp het.

Gelowiges word egter opgeroep om moed te hou en te volhard in die tussentye. Voor die tempel vernietig is, is die vroeë kerk oorgelewer aan sinagoges en tronke en voor regter en konings gebring (vgl. Handelinge). Christus beloof egter om intiem betrokke te wees en selfs woorde en wysheid in die mond te gee (v. 15). Die teenstand kan so sleg wees dat naaste familie jou oorlewer en haat (v.16-17) wanneer jy die bekende orde bedreig. Dit impliseer ook dat Christene nie passief is teenoor goddeloosheid en valse idees nie, maar met hul leer en lewe getuig vir die waarheid. Ons word opgeroep om die deug van dapperheid te beoefen wat hier beteken volharding ter wille van Christus onder moeilike omstandighede. Die goeie nuus is dat dit die goeie stryd is vir hulle wat leef vanuit die oorwinning in Christus.

Werke geraadpleeg:

Bergsma, J. The Word of the Lord. Year C.

Bock, D.L. Luke: NIV Application Commentary.

France, R.T. Luke: Teach the Text Series.

Sproul, R.C. Luke: An Expositional Commentary.