Lees:
Luk. 20:27-40
Gedagte vir kinders: Die Here
Jesus leer ons dat daar lewe na die dood by Hom is.
Oorsig: Voordat die Here Jesus gevange geneem is en gekruisig sou
word, het sekere mense alreeds probeer om Hom uit te vang oor iets sodat óf die regering óf die mense teen Hom sou
draai. Die owerstes en Skrifgeleerdes het alreeds probeer om Hom uit vang oor belasting-geld
en net hierna het die Sadduseërs ook probeer oor ’n ander saak. Die Sadduseërs
was ’n belangrike priesters onder die volk met sterk sienings oor sekere sake.
Hulle het net die eerste vyf boek van die Ou Testament (Pentateug) as gesagvol
aanvaar. En hulle was van mening dat daar nie engele of ’n opstanding uit die
dode is nie (vgl. v.27). Hulle was ook van mening dat ’n eenvoudige voorbeeld
dit bewys en het die Here Jesus hiermee probeer vasvra.
Hulle het die Here gewys op Deuteronomium
25:5 waar Moses dit vir hulle volk
voorgeskrywe het dat as iemand se getroude broer sterf sonder kinders, sy (ongetroude)
broer die vrou neem en vir sy broer kinders verwek (v.28). Die Sadduseërs gee
dan ’n voorbeeld, en dit is nie duidelik of dit ’n werklike geval was nie, van
sewe broers. Elkeen van hulle het ’n sekere vrou as vrou geneem nadat die
vorige broer kinderloos gesterf het, tot by die laaste een (v.29-31). Laaste
het ook die vrou gesterwe en nou was die vraag van die Sadduseërs wie se vrou
sy sal wees in die opstanding uit die dode, aangesien al sewe haar as vrou
gehad het (v.32-33).
Die Here Jesus het hulle eerstens
geantwoord dat dit net in hierdie lewe is waarin mense met mekaar trou. Maar
die wat waardig geag word om daardie wêreld en die opstanding uit die dode te
verkry, trou nie meer nie (v.34-35). Sulke mense kan ook nie meer sterwe nie,
want hulle is in hierdie sin onsterflik soos die engele (let wel: soos, en nie self
ook engele nie), en kinders van God en kinders van die opstanding (v.36). Hy
het hulle ook gewys uit die gedeelte van die Bybel wat hulle wel aanvaar het
(die Pentateug), dat God daar alreeds vir Moses (vgl. Ex. 3:6) gesê het dat Hy
die God van Abraham en Isak en Jakob is (v. 37). Hy het hierdie woorde vir
hulle verklaar en gesê dat God tog nie ’n God van dooies is nie, maar van
lewendes, aangesien almal vir Hom leef (v.38). Sommige skrifgeleerdes,
waarskynlik hulle wat Fariseërs was en wel aan die opstanding geglo het, het
toe geantwoord dat Jesus goed gespreek het. Daarna het niemand Hom meer iets
durf vra nie (v.39-40).
Besprekingsvraag: Wat antwoord ons hulle wat sê dat godsdiens die opium
van die volk is?
Insig: Die vrae waarmee die leiers probeer het om die Here Jesus in Jerusalem uit te vang, verteenwoordig belangrike sake wat vandag nog beantwoord moet word. Die vraag oor belasting handel oor die gelowige se verhouding tot die staat en die vraag van die Sadduseërs gaan oor ’n sentrale saak in die evangelie – dat ons glo aan die opstanding van die dooies. Marxiste sê maklik dat die geloof aan die lewe hierna opium vir die volk is om nie dinge hier op aarde grondig te verander nie, maar die eerste antwoord is dat dit juis ’n ligter gesindheid in die hart gee om met groter vryheid in Christus te hervorm in die hede. ’n Tweede antwoord is dat die opium-bordjies teenoor Marxmannetjies ook verhang kan word.
Dit is makliker om mense te intimideer wat dink (die opium geneem het) dat
hierdie lewe al is waaroor dit gaan, want sulke mense is nie so maklik bereid
om te sterf vir die waarheid nie. Hulle is ook makliker bereid om die staat te
aanvaar as die verlosser wat in hierdie lewe vir alles moet sorg.
Die Sadduseërs het gedwaal omdat
hulle nie die Skrif geken het nie, en ook nie krag van God nie (Mat. 22:27). Die
Ou Testament verwys wel soms na die opstanding uit die dode (vgl. Job. 14:14;
19:25-27; Ps. 73:24; Dan. 12:2), maar die Here Jesus wys daarop dat ons reeds ’n
afleiding daaroor uit Eks. 3:6-7 mag maak oor dit wat implisiet daar staan. As God
Homself die God van Abraham, Isak en Jakob noem, moet ons hoor hoe kragtig sy
beloftes en sy verbond is. Want Hy praat nie asof hulle dooies is nie. Sy beloftes
geld vir tyd en ewigheid (1 Tim. 4:8). God se Woord word eksplisiet ook duideliker
soos wat die Openbaring ontvou. In die sentrum daarvan is Jesus Christus wat
uit die dood opgewek word, om dan op te vaar tot by die regterhand van God,
vanwaar Hy ook vir ons intree. En Hy kom weer om te oordeel en die wat waardig
geag word, te beklee met heerlikheid. Daarom weeg die huidige nie op teen die
ewige nie en is die sterwe wins (Rom. 8:18; 2 Kor. 4:17; Fil. 1:21). As
Christus nie opgewek is nie, is daar nie ’n opstanding nie, maar nou is Hy
opgewek (1 Kor. 15:13-21), en daarom vier ons die opstanding elke week. Deur Hom
word ons waardig vir die toekomstige lewe.
Die Sadduseërs het ook die krag van
God nie geken nie. Hulle het wel geglo in die krag van die elite om met ’n
soort net-vir-hierdie -lewe -godsdiens te regeer. Hulle was die moderniste en
rasionaliste van destyds en kon nie eens die bestaan van engele aanvaar nie.
Christus bevestig egter die engele sowel as die opstanding uit die dode. Die
wat in die lewende God en sy krag glo, aanvaar dit gemaklik en met verwondering.
Dit is slegs ’n klein siening van God wat jou nie toelaat om die heerlike
waarheid nie te glo nie. Die lewende God
het egter deur sy Seun die hemel vir ons kom oopsluit sodat ons in die ruimtes
en in die toekoms mag wandel.
Werke geraadpleeg:
Bergsma, J.
The Word of the Lord. Year C.
Bock, D.L.
Luke: NIV Application Commentary.
France,
R.T. Luke: Teach the Text Series.
Sproul,
R.C. Luke: An Expositional Commentary.
Alistair
Roberts oor Lukas 20 en oor die leviraatshuwelik.
GotQuestions.org
oor die leviraatshuwelik.
Charles Jackson oor leviraatshuwelik: https://www.christianstudylibrary.org/article/ruth-3-levirate-laws.
Waardevolle bron om die swaershuwelik in die Bybel beter te verstaan in die lig van Christus.
Aansluitende kwessie verder wat ook help om die kosbare naam van ons Verlosser opnuut te waardeer: "In the Bible a name refers to the total person, and it has far-reaching implications in Old Testament literature. A name represents the whole of who someone is theologically. This is why we are told to pray in Jesus’ name. We pray to him and all that he is as our Lord and Savior.
When we are baptized, we are baptized into his name. We are, as such, placed in union with the name of our God — Father, Son, and Holy Spirit: “But as many as received Him, to them He gave the right to become children of God, to those who believe in His name” (John 1:12)."