Geagte BA en NGOS dosente en studente
Hier waar ons
byna op die vooraand van Goeie Vrydag is, staan ons stil by Jes.
26:20: "Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou
toe, verberg jou vir ‘n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan."
Jesaja
verwys na God se oordeel in sy tyd wat die inwoners van die aarde geregtigheid
sou leer. Dit klink baie toepaslik, maar om dit hier, net voor Goeie Vrydag en
in die virus-tyd, vir ons toe te pas in die lig van die hele Bybel, moet ons op
twee sake let: 1. Skuiling in tye van God se oordeel en 2. Skuiling by die plek
wat God aangedui het.
1. Skuiling
in tye van God se oordeel
Die patroon van
oordeel en skuiling vir gelowiges is duidelik in die Bybel. God bring sy
oordeel, en Noag gaan skuil in die Ark. God bring sy oordeel oor Egipte, en die
Israeliete gaan skuil in die huise met bloedbestrykte kosyne. God bring oordeel
oor Jerigo, en Ragab en haar huis skuil in die huis met die rooi tou wat sterk
herinner aan die vroeëre huise met rooi deurposte. Ook in Jesaja se tyd lees
ons daarvan. Dit herinner sterk aan die verlede, maar wys ook heen na die toekoms,
want die volk word hier spesifiek opgeroep word om in hul binnekamers te gaan.
Die Here Jesus verwys waarskynlik ook hierna wanneer Hy in die bergpredikasie
in Mt. 6:6 ons oproep om na die binnekamer te gaan vir gebed. En dit sluit
natuurlik ook aan by die Psalms waar die Here soveel keer aangeroep word as
Rots, Skuilplek of Bergvesting. En soos die bekende Spreuke 18:10 dit stel:
“Die Naam van die HERE is ‘n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en
word beskut.” Vriende, laat ons dan in hierdie tyd onthou dat daar in tye van
oordeel altyd ’n besondere skuilplek in die Naam van die Here is, in besonder
daar in ons binnekamers waar ons Hom aanroep. As daar een ding is waarvoor ons
die inperkingstyd kan gebruik, is dit hiervoor.
2. Skuiling
by die plek wat God aangedui het.
Die gedeelte in Jesaja is ook duidelik ’n terugverwysing en die besondere toepassing vir ons, veral hier op die vooraand van Goeie Vrydag, is die skuiling wat die Israeliete gehad het tydens die Paasfees met die dood van die eersgeborenes in Egipte. Die HERE sou met sy oordeel by huise verbygaan, net as hy die bloed van die paaslam aan die deurposte sien (Ex.12:13,22-23). Niks anders sou die oordeel weghou nie – nie die sogenaamde karakter van die mense wat binne was, of die sterkte van die huis, of die sogenaamde geneesmiddels wat mense gebruik het nie, want dit alles was steeds met sonde bevlek.
Alleen die bloed van die paaslam kon veiligheid en sekerheid bring en dit was natuurlik ’n vooruitskouing van wat sou kom: Alleen die dood van díé Paaslam, Jesus Christus in óns plek, kan ons van die ewige oordeel bevry (vgl. 1 Kor. 5:7). Ons kan dalk hierdie rondte die virus vryspring, maar niemand van ons gaan die finale oordeel van God vryspring nie. En soos die Israeliete destyds geskuil het in God se aangeduide skuilplek, so is dit belangrik dat ons skuiling vind by die plek wat God vir ons aangedui het en waarvan Goeie Vrydag getuig: Die kruisdood van Jesus Christus en sy bloed wat ons reinig van alle sonde. Wat ’n geleentheid om in hierdie tyd van die Corona-plaag aan ons kinders van die afweer van die grootste plaag te vertel. Dit is asof die Here dit so bestem het om ons aandag te rig op die grootste oordeel waarvoor daar reeds ’n geneesmiddel is.Vriende, laat
ons dan die toevlug te neem tot die Naam van Jesus Christus wat gekom het om
ons op daardie Goeie Vrydag van God se oordeel te bevry. Laat ons ook spesifiek
in sy Naam bid in ons huise en in binnekamers in hierdie tyd vir beskerming
teen die virus. Maar meer nog, laat ons juig dat die evangelie van Goeie
Vrydag genoeg is om ook van Corona-19 ’n poort tot die heerlikheid te maak as
God dit so bestem het. Daar sal nooit ’n beter teenmiddel teen COVID-19 of
watter bedreiging ook al wees as geloof in die boodskap van Goeie Vrydag nie.
Gebed: Here ons dank U vir u geliefde Seun, ons Here Jesus wat deur sy dood en opstanding seker gemaak het dat u oordeel by ons verbygaan. Leer ons wat dit is om onder alle omstandighede, ook nou, in Hom te skuil. Ons bid dat U vir ons ’n geseënde Paasfees sal gee. In Jesus se Naam. Amen.