2011/11/19

Wat en hoe loop altyd saam

Hierdie gesprek het vir seker ook 'n ander kant, maar ons gaan hier stilstaan by die hand-in-eie-boesem kant. Dit gaan oor hoe mense diegene onder ons beleef wat sterk oortuiginge het. Daar is vir seker dikwels 'n onregverdige en selfs moedswillige karikatuursketsing waaraan Calviniste in sekere situasies onderwerp word, maar dit is nie nou hier die punt nie.

Die punt is: Hoe beleef mense ons wat in die tradisie van Calvyn verder wil stap en op hierdie glorieryke maat nuut wil improviseer vir ons tyd? Ons kan hierdie saak natuurlik ook baie wyer van toepassing maak as net met betrekking tot Calviniste, maar hier is 'n beskrywing wat Calviniste - en natuurlik ook enigiemand anders met sterk oortuigings en optrede - gerus selfondersoekend kan lees. En as jy dit lees en die eerste wat by jou opkom is "ja, maar ...", is dit 'n bewys dat jy nie regtig die punt snap van waaroor dit hier gaan nie.

As ons eerlik is, moet ons erken dat ons almal geneig is om een deurslaggewende maatstaf te gebruik die oomblik dat ons van stryde hoor waaroor ons self te min weet of bloot oningelig is: Ons kyk hoe die verskillende partye hulle in die proses gedra. Ons kyk ook wie so ver moontlik probeer uitbly uit die kloue van die vleeslike kenmerk van skadelike groepvroming en ons-hulle benaderings binne die kerk van Christus (vgl. 1 Kor 3:1-8). Hoe beleef mense ons wanneer ons verskil? Sien hulle bloot vleeslikheid in al ons tegniese korrektheid? Hoe beleef die teëparty ons wanneer ons verskil?

Daar was volgens oorlewering eenmaal 'n teologiestudent wat 'n leespreek van 'n beroemde prediker vir die gemeente voorgehou het. Om homself waarskynlik ook 'n bietjie te beskerm, het hy in sy eerlikheid erkenning gegee aan die outeur van sy leespreek. Die beroemde prediker was daardie Sondag self in die erediens en het blykbaar na die tyd teleurgesteld na die student gegaan en vir hom gesê: "Broeder, as jy dit op die wyse voordra wat jy dit gedoen het, moet asseblief nie sê dat dit my preek is nie." Ons behoort onsself af te vra of Christus nie dalk ook die volgende vir ons sou sê nie: "Indien dit die wyse is waarop jy/julle My waarheid voorhou, moenie sê dat dit van My afkomstig is nie."
Die Grieke het reeds daarop gewys dat daar logika, etiese geloofwaardigheid en passievolle oortuiging nodig is om werklik te oortuig (logos, ethos, en pathos). 'n Bietjie anders gestel, ook met erkenning aan die Grieke: Daar is inhoud, maar ook vorm in alles wat ons doen en sê. Vorm en inhoud behoor mekaar altyd te komplementeer. Sterk oortuigde mense is maklik geneig om vorm en inhoud van mekaar los te maak - om logos en pathos te oorspeel en ethos te onderspeel. Weereens: As jy besonder sterk oortuiginge het, lees hierdie skakel en oordink dit met hand in eie boesem. Wees dan eerlik. Was jou eerste reaksie bloot "ja, maar ..."? Wanneer die liefde van Christus ons nie dring in ons oortuiginge nie, sal sterk oortuiginge wat selfs bereid is om die brandstapel daarvoor te trotseer, ontnugter wees oor die beloning. Lees maar weer 1 Kor. 13:3 en 2 Kor. 5: 14, 20, 21. Daarom is dit so belangrik dat Christus in ons gestalte sal kry. Die outeur wat hierdie gestalte-woorde uitgespreek het, kon in dieselfde brief ook geweldig sterk oortuig en selfs skerp wees (vgl. Gal. 4:19; 1:8-10; 5:12-13; 6:1-5). Wanneer ons die genoemde tekste nagaan, moet ons erken: Die skerp toonaard is erg aangetas deur die liefde van Christus. Is ek en jy ook so aangetas?