Dalk sê dit meer van myself as van my stelling, maar ek sal dit nogtans waag. Douglas Farrow is 'n gerekende yster-teoloog van ons tyd. Dit beteken nie dat hy my van sy kritiek op Protestante altyd oortuig nie, maar oor die lakmoestoets van etiese kwessies van die dag, is sy teologiese kleur gunstig. Kortom, hy straal die soort teologiese integriteit uit wat met my praat. Daar is natuurlik agt-silinders soos David Bentley Hart wat nou nie juis hiermee sal saamstem nie, maar nou-ja, iewers moet jy bereid wees om eerder ongewild te wees as ontrou aan hulle wat jou teologiese ingewande in beroering bring. Ek het nog nie volledig by Farrow se 2017-publikasie, Theological Negotiations, uitgekom nie, maar hier is 'n eerste motivering of twee waarom hy my ore laat spits. In sy inleiding stel Farrow die volgende (vertaal in Afrikaans):
"Aquinas is natuurlik altyd onontbeerlik, en dikwels
bevredigend. Waar hy egter nie bevredigend is nie, vind ek myself teruggedryf
na Bybelse motiewe wat beter ontwikkel is in vroeëre denkers soos Irenaeus,
Augustinus en Anselmus. Laasgenoemde het 'n groter rol kom speel
as wat ek verwag het dat hy sou. Anselmus was die eerste een wat die omvang van die
probleem van nominalisme teëgekom en begryp het, daardie filosofiese en
teologiese en politieke beweging wat die Westerse beskawing so dramaties
verander het en voortgaan, soos hoofstuk 7 opmerk, om dit vandag steeds te
doen."
In die genoemde hoofstuk 7, wat 'n besonder digte hoofstuk oor Anlsemus is en waaroor Farrow verwag dat sommige sal meen dat dit eerder 'n aparte boek moes wees, vergelyk hy onder meer die ontologieë van Anselmus en Descartes. In die proses wys hy in treffende eenvoud op die werkswyse van Anselmus (vertaald): "Soos met al sy argumente (selfs dié wat in hipotetiese modus
remoto Christo funksioneer) beweeg dit van openbaring na geloof, van geloof
tot begrip, van begrip tot demonstrasie, en van demonstrasie na genot en
aanbidding."
Die prioriteit van openbaring wat uitmond in genot en aanbidding kom dus van ver af. Hoe dan nou anders as ons enigsins die Psalms met aandag gelees het. Farrow daag blykbaar beide Rooms Katolieke en Protestante sentimente sy boek uit, maar 'n mens kan verwag dat hy, gegewe sy eie tradisie-staanplek, meer RK as GK (Gereformeerd-Katoliek) sal wees. Tog is dit belangrik dat ons sal erken dat dit nie daaroor gaan óf ons onself moet begewe in hedendaagse ekumene, antropologie en soteriologie nie, maar eerder hóé dit vandag daar sal uitsien. Hierin is Farrow 'n belangrike verwysingspuint vir hulle wat 'n behoudend-kreatiewe teoloog verlang vir begeleiding. Hoop om later weer oor hierdie werk te berig.