Lees:
Openb. 7:9-17
Gedagte vir kinders: Die Here sal eendag alle
trane van sy kinders afdroog.
Oorsig: Ons verneem in hoofstuk 5
dat alleen die Lam die Verbondsboek van God en die seëls kon oopmaak. In
Hoofstuk 6 verneem ons dan wat alles gebeur wanneer ses van die seëls oopgemaak
word. En dan vertel Johannes in hoofstuk 7, voordat die sewende seël oopgemaak
word, eers twee keer wat “ná hierdie dinge” van die ses seëls gebeur het
(v.1,9). Johannes beskryf eers die uitverkore verlostes op aarde in Israel
voordat die ou verbond tot ’n einde gekom het in 70n.C. met die val van
Jerusalem en die tempel (die volheidsgetal van 144 000 wat neerkom op
12x10x10x10 vermenigvuldig met 12x10x10x10 - v.1-8). En daarna sien hy ’n groot
menigte verlostes in die hemel wat niemand kon tel nie uit al die nasies,
stamme, volke en tale en wat verwys na al die verlostes oor die wêreld wat saam
met Israel reeds deel is van die verlostes.
Hierdie verlostes het
gestaan voor die troon en voor die Lam (vgl. Op. 5:6) en hulle was bekleed met
wit klere en met palmtakke in hulle hande (v.9). Die menigte verlostes het met
’n groot stem geroep dat die verlossing (heil) aan hulle (“onse”) God behoort
en aan die Lam (v.10). Hierop het al die engele wat rondom die troon en die
ouderlinge (wat al die gelowiges verteenwoordig) en die vier lewende wesens
(gerubs) gestaan het, voor die troon op hulle aangesig neergeval en God aanbid.
Hulle het gesê: Amen! En toe het hulle die sewevoudige lof aan God gebring: Die
lof en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag
en die sterkte tot in alle ewigheid. Hulle het dit toe weer met Amen bevestig
(v.11-12).
Een van die ouderlinge het toe vir Johannes gevra wie diegene met die wit klere is en waarvandaan hulle kom. Johannes het vol respek geantwoord dat die ouderling dit weet en toe het die ouderling geantwoord dat dit hulle is wat uit die groot verdrukking kom en wat hulle klere wit gemaak het in die bloed van die Lam (v.14). Daarom kan hulle nou voor die troon van God wees en Hom dag en nag in sy tempel dien. Daar word ook die belofte bygevoeg dat Hy wat op die troon sit, sy tent oor hulle sal oopspan (v.15). Die belofte word ook verder uitgebrei dat hulle nie meer honger en nie meer dors sal hê nie en dat die son of enige hitte nooit op hulle sal val nie (v.16). Die rede is dat die Lam wat in die middel van die troon is, hulle sal laat wei en na lewende waterfonteine sal lei. En God sal alle trane wat daar ook oor die verlede mag wees, van hulle oë afvee (v.17; vgl. Jes. 25:8).
Besprekingsvraag: Wat is die verband tussen die heerlike beloftes hier en
die Ou Testament?
Insig: Johannes gee ons ’n kyk
op die toekoms van die Kerk. Ons hoor dat geredde mense afkomstig is uit alle
nasies en stamme en volke en talle, dit wil sê mense uit al hierdie groepe. Die
feit dat hulle onderskei kan word, laat ons selfs ook vermoed dat iets van die
onderskeide tussen volke en nasies ook eenmaal in verheerlikte vorm aanwesig
sal wees, maar dan as ’n heerlike verskeidenheid in die eenheid in Christus.
Dit waarin almal een is, is die wit klere. Hulle het hul klere gewas het en wit
gemaak in die bloed van die Lam. Dit klink teenstrydig, maar dui so aan dat
ware reiniging net deur die bloed van Christus gebeur. Elkeen wat in Hom glo en
na Hom toe kom om gewas te word in sy bloed van versoening, mag rein wees (vgl.
Jes. 1:18; Hebr. 9:14; 1 Jn. 1:7; Ps. 51:7). Sulke mense glo in Hom en die
offer wat Hy gebring het en dit gee hulle grond om te staan voor sy troon.
Hulle kom uit die groot verdrukking, die tydperk tussen sondeval en voleinding
waarin gelowiges dikwels moet ly vir hul geloof.
Tog is hul toekoms
heerlik. Hulle verkry toegang om God priesterlik en onafgebroke in sy tempel te
dien. Die oopgespande tent dui op sy verbondsgemeenskap en intieme
tabernakelteenwoordigheid (vgl. Jes. 4:5-6). Die versorging en beelde uit
Israel se woestynlewe dui op gelowiges wat na hul moeilike aardse pelgrimstog,
eenmaal in die beloofde land volledig rus en troos sal vind. Daar is geen stryd
om oorlewing nie. Honger en dors en die skroeiende son van woestynomstandighede
val weg. Christus, die Lam, is ook die Herder, en die beeld van groen weiding
sluit aan by Ps. 23. Daar is ook lewende waterfonteine, simbool van lewe en
paradystoestande. En trane op aarde, word vir altyd afgedroog (vgl. Jes. 25:8;
Jes. 49:10).
Die engele wat begerig
was om insig hierin te kry (1 Pt. 1:12), bring sewevoudige lof in aanbidding,
soos die ontelbare menigte (Op. 5:12). Lof (eulogia): Letterlik goeie spraak.
Dus lof van goeie woorde oor God as bron van alles wat goed is. Heerlikheid
(doksa): Die glans en reputasie van Hom wat uitredding gebring het. Wysheid
(sofia): Goddelike kennis in God se Raad van verlossing. Danksegging
(eucharistia): Letterlik goeie gawe. Dus vrye dankbaarheid van skepsele wat
onvermydelik is in die lig van God se oorwinnende dade. Eer (time): Aansien wat
erken word vanweë God se voorsiening in sy verlossing. Krag (dunamis): God se
almag en sy vermoë om effektief op te tree teen opposisie. Sterkte (Ischys):
Vermoë - God se vermoë om in die geskiedenis die menigte te red uit die kloue
van die vyand. Hierdie sewevoudig lof is tot in alle ewigheid en dit word
bevestig met Amen. Hy is al hierdie bewondering waardig.
Geraadpleegde werke:
John Bergsma. The Word of the Lord. Year C.
Michael Barber. Coming Soon. Unlocking the Book of Revelation.
Douglas Wilson. When the Man Comes Around: A Commentary on the Book of
Revelation.
Michael Bull. Moses and Revelation.
James Jordan. The Vindication of Jesus Christ.
Robert, L. Thomas. Revelation: An Exegetical Commentary