Lees:
Openb. 21:9-14,21-27
Gedagte vir kinders: Dit is
wonderlik om in die Here se lig te lewe.
Oorsig: In Openb. 21 is Johannes besig om ’n glorieryke beeld van die Nuwe
Jerusalem te beskrywe. Ons hoor in v. 9 dat een van die sewe engele met die
sewe skale en sewe plae na Johannes gekom het, soos voorheen (vgl. Op. 17:1),
en hom weer geroep het om om iets aan hom te toon. Die vorige keer was dit die
oordeel van die ou Jerusalem wat uitgebeeld word as die groot prostituut. Hier is
dit nou sodat Johannes die bruid, die vrou van die Lam kon sien. Johannes is
toe in die gees weggevoer na ’n groot en hoë berg en vandaar het hy die bruid
en daarom die Kerk, as nuwe Jerusalem gesien wat uit die hemel neerdaal (v.10).
Hierdie stad het die heerlikheid van God (shekina-glorie), gehad en sy lig was soos ’n kristalhelder jaspissteen. Dit het ’n groot en hoë muur gehad met 12 poorte (vgl. Es. 48:31-34) en 12 engele en die name van die 12 stamme van Israel was daarop geskrywe. Die 12 poorte was gelykop verdeel na al die windrigtings, dus 3 poorte in elke rigting (v. 11-13; vgl. Luk. 13:29). Die muur van die stad het ook twaalf fondamente gehad en daarop was die 12 name van die apostels van die Lam (v.14; vgl. Mt. 16:18; Ef. 2:20). Ons hervat by vers 21, maar dit is tog belangrik om ook te verneem van die edelgesteentes (v.19-20) en dat Jerusalem in v. 15-16 beskryf word as ’n kubus, soos wat die allerheiligste deel van die tempel ’n kubus in die Ou Testament was (vgl. 1 Kon. 6:20). Die Kerk is dus nou deel van die Allerheiligste.
Ons verneem dat die twaalf poorte elk uit een pêrel was. Die straat van
die stad was suiwer goud soos deurskynende glas. Johannes meld dan dat hy nie
daar ’n tempel gesien het nie, want die Here God, die Almagtige, asook die Lam,
was self die tempel (v. 21-22). Die stad het daarom ook nie die son of maan
nodig nie, aangesien die heerlikheid van God dit verlig en omdat die Lamp self
sy lamp is (vgl. Jes. 60:19; Joh. 8:12). Johannes sluit dan verder aan by Jes.
60 en stel dat die nasies van die wat gered word, in die lig daarvan sal wandel
en dat die konings van die aarde hulle eer en heerlikheid daarin sal inbring
(v.23-24; vgl. Jes. 60:3,10,13). Die poorte sal bedags nooit gesluit word nie
en dit sal nooit nag wees nie, en dan word herhaal dat hulle die heerlikheid en
eer van die nasies daarin sal bring (v. 24-26). Johannes meld egter ook wat nie
daar sal inkom nie: Iets wat verontreinig, en iets wat gruwelikheid en leuens
doen. Net diegene wie se name geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam,
met ander woorde die uitverkorenes wat gewas is in die bloed van die Lam, sal
daar inkom (v.27).
Besprekingsvraag: Wat beteken dit om nou reeds vrye toegang tot God
in Christus te hê?
Insig: Die glorieryke visie op die Kerk van Jesus Christus word hier verstommend
beskrywe. Ons leer so om groter waardering te kry vir die aard van die Kerk as
bruid van Christus en wat haar toekoms is. Die nuwe Jerusalem as bruid se
skoonheid word hier in teenstelling met die skoonheid van die ou Jerusalem as
prostituut beskrywe. Die verskil is dat hierdie skoonheid as heilig en heerlik
voorgestel word (vgl. Ps. 84:2). Dit gaan ons verstand te bowe om te besef dat
die nuwe Jerusalem beskrywe word met die tipe afmetings van die Allerheiligste
in die tempel. Dit dui op vrye toegang tot God en dat die gemeenskap so intiem
is dat daar van eenwording met die Allerheiligste sprake is. Reeds in die Ou Testament
word God dikwels as toevlug en as rus vir die siel beskrywe (vgl. Jes. 8:14; Ps.
2:12; 63:9; 90:1). Eendag nog meer!
Dit is ook insiggewend om raak te sien hoe die vervulling van die paradys
en tabernakel aan die orde kom. Die kosbare edelstene vind ons terug in die
konstruksie van die tabernakel en drag van die hoëpriester (Ex. 28:17-20,29;
39:10-13). Dit bevestig die identiteit van die hemelstad self as tempel en die waarde
van God se kinders daar binne-in. Hierdie gesteentes is ook geassosieer met Eden
as die eerste heiligdom (vgl. Es. 28:13). Daarom kan ons die hemelse Jerusalem
beskou as die plek waar God se kinders die roeping van Adam hervat en verder voer
deur as ’n koninkryk van priesters in sy teenwoordigheid te lewe (Op. 1:5-6). Dit
begin nou reeds vir elkeen wat deel is van die Kerk.
Kenmerkend van die Kerk is hier die heerlike poorte wat in alle rigtings
uitgaan. Christus het reeds gewys hoe mense sal aankom van oos en wes en van
noord en suid en aansit in die koninkryk van God (Luk. 13:29). Die Kerk is
werklik algemeen. Maar ons moet ook raaksien dat name van die poorte die name
van die 12 stamme van Israel is. Dit bevestig dat God se uitnodiging en beloftes
in en deur Israel gekom het. Die 12 apostels as fondamente bevestig verder die voortgang
en vervulling hiervan in Christus in die nuwe verbond. God bou sy Kerk op die vaste
fondamente van Christus en die getuienis van sy apostels. Hierdie evangelie gaan
in alle rigtings uit en elkeen wat wil, mag die water van die lewe verniet neem
(vgl. Op. 22:17). Maar daar word ook vermeld wat nie by die bruid van Christus gevind
word nie. Die geluksalige toestand word onder meer beskrywe as die afwesigheid
van nag (v.25). Dit word ook beskryf as die afwesigheid van onreinheid, gruwels,
en leuens. Op positiewe wyse word dit beskryf as vol lig en heerlikheid. En die
nasies en konings bring eer aan die Kerk as bruid.
Geraadpleegde werke:
John Bergsma. The Word of the Lord. Year C.
Michael Barber. Coming Soon. Unlocking the Book of Revelation.
Douglas Wilson. When the Man Comes Around: A Commentary on the Book of
Revelation.