2011/08/24

"Empires", nasiestate en volkere

In sy kompakte werk, Peoples and Empires, gee Anthony Pagden 'n insiggewende historiese oorsig oor die wêreldgeskiedenis deur die lens van "Empires". Hierdie geskiedenis strek vanaf die Griekse Ryk tot en met vandag. Redelik aan die einde van sy werk (vgl p.162, 166) praat hy oor die fenomeen van volkskap dwarsoor die wereld.

Pagden praat onder meer oor die feit dat dat volkere oor die wêreld heen die les op 'n harde manier moes leer nadat hulle van imperialisme bevry is - dat anti-kolonialisme en kollektiewe identiteit nie dieselfde ding is nie. Dit is  eenvoudig nie so maklik om van iemand 'n burger van 'n bepaalde nasiestaat te maak as jy volkereverskille in ag neem nie, sê Pagden. Vry vertaal sê hy verder die volgende:

As die eerstydse imperialistiese bewind eers afgeskud is en die nuwe nasies in aansyn geroep is, kompleet met hul eie nuwe kollektiewe identiteit soos vertoon in vlae, nasionale liedere, nasionale geldeenhede en posseëls - as die politieke elite eers na vore getree het of haastig bymekaargemaak is, as dit alles eers klaar is en die meerderheid setlaars wat nog iewers gehad het om heen te gaan, "huis toe" gegaan het - dan tree die ou skeidslyne wat die "empire" probeer smoor het weer na vore. Ook die nuwes tree na vore wat noodwendig en soms bewustelik geskep is en dit splyt die "nuwe" nasies verder in al hoe kleiner nasionale en etniese groeperinge: Indië, toe Pakistan, Nigerië, Ciprus, Indonesië, Maleisië, het almal sedert die einde van die Britse bewind verdeel en onderverdeel. Dieselfde het gebeur met Viëtnam en baie dele van Sentraal-Afrika na die uitwerping van die Franse, sowel as dele van Wes-Afrika na die vertek van die Portugese.

Pagden maak dan die volgende uitspraak: Nuwe nasies kan met penstrepe in aansyn geroep word. Nuwe volkere neem baie langer om tot wasdom te kom.

'n Bietjie verder aan stel Pagden ook dat volkere voortgaan om oorweldigend aan hulself in nasionale terme te dink. Vervolgens weereens 'n oërek uitspraak: Hulle wat nie so redeneer nie, is gewoonlik, soos hulle nog altyd was, die rykes, die bevooregtes, die intellektueles ... Vandag word hierdie sentimente verteenwoordig deur die internasionale bankiers en hulle vriende, eerder as onder die nou dikwels dun gesaaide parogiale inteligensia. Hoe dit ook al sy, die kosmopolitaanse gees was oor die algmeen oral 'n luukse wat net die aristokrasieë van een of ander soort regtig kon bekostig.

En nou die kampioen oogrekker. In die volgende paragraaf stel Pagden: En tog, ten spyte van al die voortgang van nasionale sentimente, is daar tekens dat net soos volkere eens hulself tot "empires" omvorm het en van daar weer terug na nasies, word hulle nou in baie dele van die wereld weer volkere.

Hier is iemand aan die woord wat in tyd en ruimte 'n historiese navorser is en op sommige plekke blyke daarvan gee dat hy nie veel weet oor die essensie van Christenskap nie. Maar weet hy net so min van die opkomende volksbewussyn in die wêreld? Soos hulle sê: Stof tot nadenke.