Gebed is een van die mees anti-sekulêre dade wat ons kan
pleeg. Dit is die vernaamste deel van ons dankbaarheidslewe en ’n kragtige
manier om nie ’n Godvergeter te word nie (vgl. Ps. 50:22,23; HK 45, antwoord 116).
Gebed is ’n besondere middel waardeur ons nie net die vyand verslaan nie, maar voor
alles intieme gemeenskap met God beoefen.
Dit is maklik om in die eggo-kamers van behoudendes klaagliedere
te sing oor die sekulêre wêreld. Dit is skynbaar moeiliker om oor te gaan tot
die grootse antwoord daarop - gebed tot die Drie-enige God. Die Gees van gebed
is by uitstek die wyse waarop die gees van Godvergeters in ons samelewing
bestry kan word. Deur gebed word die sekulêre gees in die eerste plek uit ons
eie harte gehaal en gehou. Om dit te begryp moet ons iets meer begryp van die
daardie mag waaroor die kerkvader Augustinus soveel insig gehad het – die mag
van begeerte.
Gebed en begeerte
Ps. 52:9 is een van die minder bekende tekste in die Woord
van God wat ons oor die mag van begeerte onderrig. Dit handel oor die goddelose
Doëg, die Edomiet, oor wie die volgende gesê word: “Kyk, die man wat God nie
tot sy toevlug gemaak het nie, maar vertrou het op die grootheid van sy rykdom,
sterk was in sy begeerlikheid!”
In hierdie Psalm leer ons dat die diegene wat nie hul toevlug
tot die lewende God neem nie, deur hul slegte begeertes op sleeptou geneem word.
Die uiteinde hiervan is dat God hulle uiteindelik omverwerp en ontwortel.
Godvergeters is daarom eintlik nie vry nie. Nee, hulle word deur hul begeertes
meegesleur; hulle word die slawe van allerhande soorte slegte begeertes wat
hulle in die ongeluk stort. Die teenkant daarvan is om God jou toevlug te maak.
Wanneer ons hierdie teks in verband bring met die bekende Psalm 37:4, kry ons verdere
lig: “en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou
hart.”
Uit hierdie vers sien ons dat daar ook iets soos goeie
begeertes kan wees. Maar hoe gebeur dit? Ons sou die twee teksgedeeltes saam so
kon verklaar: slegte begeertes kry die oorhand wanneer ons nie ons toevlug tot
God neem nie. Wanneer ons egter ons toevlug tot Hom neem en ons in sy teenwoordigheid
en sy wil verlustig, gebeur daar iets wonderliks in ons harte. Ons word vernuwe
na God se beeld. Ons begeer al hoe meer wat in lyn is met God se wil en ons
beleef hoe hy ons ook verhoor wanneer ons iets vra volgens sy wil. Die goeie begeertes
van ons hart word vervul, maar dan as ’n sekondêre saak wat plaasvind wanneer
ons in gemeenskap met God leef. Dit gebeur nie los van gebed nie. Die Psalms wat
hierdie gemeenskap met God so voortreflik verwoord, is deurdrenk van gebede.
Indien ons dus iets wil beleef van goeie begeertes wat die slegte begeertes uit
ons harte verdryf, moet ons weet dat dit nie los van gebed gebeur nie. Gebed is
’n besondere venster waardeur die Lig in ons lewens instroom om die duisternis
te verdryf.[i]
Gebed en gemeenskap
Gebed is die opperste uitdrukking daarvan dat ons dit erken
en geniet dat ons waarlik die Vader in die hemel het en dat hemel en aarde in beginsel
in Christus versoen is (Kol 1:20). Ons is nie aan onsself oorgelaat nie. Daarom
is dit ook belangrik dat ons sal leer dat die stryd teen ’n heidense en
sekulêre samelewing begin by gemeenskap met God. Ons moet leer om nie met 'n heidense
of sekulêre samelewing te praat as ons nie eers oor die heidense of sekulêre
samelewing met ons Here gepraat het nie. Moses se aangesig het
geblink vanweë sy gemeenskap met God, sodanig so dat die volk nie na hom kon
kyk nie en hy sy gesig moes bedek. Paulus wys ons daarop dat ons in die nuwe
verbond deel is van 'n heerliker bedeling. Ons sien die heerlikheid van God sonder
bedekking in Christus (vgl. 2 Kor. 3:7-18). Die implikasie is dat dit ook op
ons gesigte behoort te wys wanneer ons in die wêreld uitbeweeg. Kan dit anders
wanneer ons die intieme gebedsgemeenskap met die lewende God in Christus en
deur sy Gees beoefen? Sal ons getuienis in die wêreld nie kragtiger daar
uitsien wanneer hierdie gemeenskap met God ’n groter werklikheid is nie?
Een van die maniere waarop hierdie egte gemeenskap na vore
tree, is die verhoring van gebede. Laat ons nie die verhoring van gebede
geringskat nie. Gebedsverhoring is ’n kragtige bevestiging dat ons gemeenskap
met God eg is. Wanneer ons gebedsverhoring beleef, wil ons uitroep: Die Here
leef! Dit bring blydskap in ons lewens in (vgl. Jn. 16:24 ) en die blydskap
versterk ook verder ons getuienis in die wêreld. Dit is belangrik om te onthou
dat hierdie blydskap gegrond is in die Naam waarin ons bid. Die Naam en Middelaarskap
van ons Here Jesus Christus is die rede dat ons gebede hoegenaamd beantwoord
word. In die Naam van Christus het ons ontsaglike posisie en eer en
vrymoedigheid. Die vleesgeworde Christus wat terug is by die Vader is die
waarborg is dat ons nou reeds in Hom in die hemel mag sit en in sy Naam mag
bid. Die verhoring van gebede bevestig dat hierdie toegang, posisie en eer.
Indien daar dus gebrek aan blydskap in ons lewens is, kan ons gerus maar weer
die oproep van Christus hoor: “Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie.
Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.”
Ons is versigtig met hierdie woorde van ons Here aangesien
daar al soveel misbruike rondom hierdie saak ontstaan het. Dit kan so maklik
gebeur dat gebed niks meer word as ’n versoeklys vir eie gewin en ’n tipe
towerstaffie nie. Die antwoord hierop is om nie as gevolg van misbruike die
kragtige woorde van ons Here en asook ander dele soos Jakobus 4:2 af te swak
nie: “... julle het nie, omdat julle nie bid nie.” Weliswaar word daar net in
die volgende vers daarop gewys dat gebedsverhoring nie bedoel is om ons
welluste te bevredig nie, maar dit verander niks aan ’n belangrike rede wat
aangevoer word vir ons gebreke nie – biddeloosheid. Ons Here het op soveel
wyses hiertoe uitgenooi: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal
vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.” (Mt. 7:7). Die worsteling om
gebedbeantwoording is juis een van die wyses waarop God die verbondsverhouding
met Hom versterk. Die beantwoording daarvan is kragtige tekens in hierdie
wêreld dat God ag gee op die gebede van sy kinders. Die Psalms is vol hiervan
en daarom behoort ons ywerig na te gaan watter plek dit inneem in die biddende
gemeenskap met God.
Gebed en middele
Maar hoe beoefen ons gebed op ’n wyse wat werklik gekenmerk
word deur lewende gemeenskap met God en wat met Geesgewerkte krag kan optree
teen ’n Godvergetende samelewing? Die eenvoudigste antwoord is sekerlik dat ons
gereeld met die Woord van God sal omgaan. Die bekende teoloog en Bybelvertaler,
Eugene Peterson, wys daarop dat indien ons gebede dikwels vlak en droog
voorkom, dit is omdat dit uit die grond van die Woord ontwortel is. Soos wat
ons God se Woord bepeins, genereer dit die lewende inhoud vir ons gebed. Hierin
is Martin Luther se eenvoudige raad baie handig en kragtig. Luther stel dat ons
met betrekking tot God se Woord telkens moet vra watter instruksie ons daardeur
kry, waarvoor ons kan dankie sê, wat ons moet bely, en waarvoor ons voorbidding
kan doen.
Kom ons neem die vyfde gebod as voorbeeld. Hier het ons ’n
duidelike instruksie dat ons ons ouers moet eer en ons bid daarom vir die
genade daarvoor. Ons kry daardeur ook aanduiding van waarvoor ons kan dankie sê.
Wanneer laas het ek die Here spesifiek van harte gedank vir die ouers wat hy my
gegee het? Dit bied terselfdertyd die geleentheid vir skuldbelydenis. Het ek byvoorbeeld
nie dalk vergifnis nodig vir die wyse waarop ek my moeder verwaarloos het nie?
En dan is daar natuurlik die versoek waar ek vir iets spesifiek vir my ouers
bid soos hulle gesondheid of finansiële probleme of kwelling oor ’n afgedwaalde
kind. Uit een gebod van die Here is daar dus reeds ’n hele gebedsaksie moontlik
en so kan die hele Woord as gebedsenjin dien.
Ons kan natuurlik ook op hierdie wyse met allerhande bronne
uit ons kerklike skat omgaan. Dink byvoorbeeld aan die Heidelbergse Kategismus
se verduidelikings van die geloof die gebed en die gebod. Ons sou elkeen van
die verduidelikings, in besonder die van die Onse Vader, kon omsit in gebede
wat dankie sê, wat vergifnis vra en wat in die lig daarvan spesifieke voorbidding
doen. Selfs ons Psalm en Gesangeboeke, wat dikwels niks anders as gebede is
nie, sou op nuwe wyses vir hierdie doel gebruik kon word. Daar is eintlik
soveel in ons kerklike skat wat die gebedsdrif kan aanwakker. Ons het beslis
nie ’n gebrek aan materiaal wat ons kan aanspoor om doelgerig in ons gebede voor die aangesig van God te wees
nie.[ii]
Ja, ons gedagtes dwaal maklik, en ja, ons is te gou traag in
die gebed, maar laat ons nie sê dat ons te min middele in die hand het om te
bid nie. Dit gebeur selfs dat ons vanuit ’n skeefgetrekte siening van God se
soewereiniteit biddeloos raak omdat Hy mos in elk geval in beheer is. Die egte
verstaan van God se soewereiniteit spoor ons egter juis aan om te bid. Dit val
op dat ons Here in die Bergrede aan beide die Vader se soewereiniteit vashou en
maan om nie ’n ydele herhaling van woorde te gebruik nie, sowel as aan die
oproep om ’n binnekamer te hê en te bid en te soek en te klop (vgl. Mt. 6:6-13;
32; 7:7-11). Die bewussyn van God se soewereiniteit het eerder met die hoe as
met die dat van gebed te make. Mense wat glo dat God in beheer is, het
vrymoedigheid om in kinderlike eenvoud hul harte uit te stort voor hul Vader in
die vertroue dat die Almagtige op die beste wyse sal antwoord en selfs in die
openbaar sal vergelde. En wanneer Hy in die openbaar vergelde, skyn ons lig
voor die mense, Godvergeters neem kennis, en ons Vader wat in die hemele is
word verheerlik.
[i] Vgl. In
hierdie verband Porfirios se treffende uitspraak: “Moenie veg om die duisternis
uit die kamer van jou siel uit te dryf nie; open eerder ’n klein venster vir
die lig om binne te kom en die duisternis sal verdwyn.”
[ii] Vgl. In
hierdie verband die boeiende bespreking van ’n Lutheraanse werkie van John
Pless wat onlangs verskyn het onder die titel, Praying Luther’s Small
Catechism, waarop die vorige paragrawe aanleun en wat te vinde is by http://www.patheos.com/blogs/geneveith/2017/03/praying-the-catechism/