Gedagte vir kinders: Gestuurdes
van die Here wys nie na hulleself nie, maar na Jesus Christus.
Oorsig: Johannes begin sy Evangelie
deur te vertel van die Woord, Jesus Christus, wat in die begin by God was en
self ook God was (v.1-4). Hy vertel dan dat daar in Hom die lig van die lewe
was. En dan slaan die evangelieskrywer oor om te wys op ’n man wat deur God
gestuur was en wie se naam Johannes (die Doper) was. Johannes was self nie die
lig nie, maar moes kom om van die lig, Jesus Christus, te getuig (v.6-8).
Johannes het begin deur die wêreld in opskudding te bring deur mense tot
bekering te roep en hulle te doop in die Jordaan, ver weg van Jerusalem waar
die tempel was. Dit het herinner aan Esegiël (36:25) se belofte dat die Here
eendag skoon water op hulle sou giet dat hulle rein kan word. Johannes was
boonop aangetrek soos Elia (vgl. 2 Kon. 1:8) en die mense het gewonder of hy
die Elia is wat die Here belowe het deur Maleagi (Mal. 3:1; 4:5) en wat voor
Hom sou uitgaan.
Die Jode het toe uit Jerusalem priesters en Leviete gestuur
om hom te vra: Wie is u? (v.19). Johannes het dit toe baie duidelik erken dat
hyself nie die Messias (die Christus) is nie (v.20). Hulle vra hom toe of Hy
Elia is (vgl. Mal. 4:5) en of Hy die profeet is (vgl. Dt. 18:15-22). Telkens
het hy nee geantwoord (v.21). Dit is dus duidelik dat Johannes oor drie sake
pertinent nee geantwoord het: Hy is nie die Christus, of Elia self wat weer
opgestaan het, of die Profeet wat Moses belowe het nie. En toe vra hulle hom
wie hy dan wel is sodat hulle antwoord kan gee aan die wat hulle gestuur het
(v.22).
Johannes het toe geantwoord dat hy die stem is van een wat
roep in die woestyn soos die profeet Jesaja (40:3) het: Maak die pad van die
Here reguit. Dit beteken dat hulle gereed moes maak om die Here te ontvang
(v.23). Die wat gestuur was, was uit die Fariseërs. Dit was ’n beweging wat die
toewyding aan God onder die mense wou vernuwe, maar hulle het dit gedoen deur allerhande
bykomstige dinge uit hulle tradisie by die Here se Woord te voeg. Hulle vra hom
toe waarom hy die mense doop as hy dan nie die Christus of Elia of die profeet
was nie (v.24-25). Johannes het hulle toe geantwoord dat hy wel met water doop,
maar dat onder hulle Iemand staan wat hulle nie ken nie. Hierdie een het na hom
gekom, maar het voor Hom geword en hy is nie eens waardig om sy skoenriem los
te maak nie (v.26-27). Dit alles het gebeur in Betábara aan die oostekant van die Jordaan waar Johannes besig
was om te doop (v.28). Dit is waar die volk aanvanklik in die land Kanaän
ingekom het.
Besprekingsvraag: Watter redes
was daar om Johannes die Doper as eg te beskou?
Insig: Jerusalem, met hul Sanhedrin en die gestuurde priesters en Leviete en Fariseërs in die agtergrond, neem kennis dat daar ver by die Jordaan iets aan die gang is. As geestelike leiers was hulle veronderstel om die tekens te onderskei. Hulle moes tog voorgeloop het om na te speur oor die koms van die Messias en sy boodskapper met optrede wat daarmee in lyn is. Mag en posisie en eie tradisies en gebruike wat die Woord ontkrag, lei egter tot geestelike blindheid en kollektiewe illusies.
Die doop was alreeds bekend deur die wassinge
van die Ou Testament en het gedui op reiniging en vernuwing (vgl. Num. 8:7;
19:19; Sag. 13:1; Es. 36:25). Dit is boonop saam met die besnydenis gebruik om
proseliete in te lyf in Israel. Maar nou doop Johannes die volk? Hulle moes tog
iets kon aflei uit (1) Johannes se kleredrag, (2) Jesaja 40:3 wat hy aanhaal, (3)
die volk en hulleself wat nie gereed is nie, (4) die nederige wyse wat Johannes
homself voorstel, (5) die boodskap wat hy verkondig, (6) die Messias na wie hy
heenwys, en (7) die plek en (8) naam waar Johannes dit doen (Betabara beteken
oorgang).
Dit is opvallend hoe duidelik
Johannes verklaar wie hy nie is nie. Gesante van die Here moet seker maak dat
mense dat mense nie te veel van hulle dink nie en dat die duiwel hulle ook nie
meer van hulself laat dink nie (vgl. Hd. 14:14-15; 2 Kor. 1:24; 12:6). Daar kan
’n geestelike hoogmoed ontstaan waarin gesante iewers langs die pad nie meer
nederig en diensbaar is om mense effektief te kan help nie omdat hulleself te
belangrik is. Elke gesant moet besef dat jy nie iemand anders se probleme self kan
oplos, of hul sonde kan reinig en wegneem, of iemand effektief kan vernuwe nie.
Hulle kan wel soos Johannes die weg na die Messias aanwys en Hom bedien wat
gekom het en weer sal kom.
Gesante moet egter ook seker maak dat
mense dat mense nie te min van hulle dink nie. Hoewel Johannes uniek is leer
ons by hom oor die regte gesindheid. Hy weet wie hy nie is nie, maar ook wie hy
is en waarvoor hy geroep is. Daarom roep hy ook (v.23) onverskrokke uit omdat
sy boodskap so belangrik is. Sy hele bediening is daarop gemik om (1) mense op
te roep om hulle lewens gereed te kry vir (2) die koms en grootheid van die
Messias. Hierdie Messias moet meer word, maar hy, en ons, minder (Joh. 3:30). Die
rede is dat mense self met die Here Jesus verder moet gaan. Johannes ag die
Messias so groot dat hy homself nie eens waardig ag om sy geringste slaaf te
wees wat sy skoenriem losmaak nie. En tog doen hy ook deeglik sy bestemde deel.
Hoe groter die Messias in ons oë is, hoe heerliker is die kleinste voorreg
(vgl. Ps.84:11). Johannes is nie Elia nie, maar kom wel in die krag en die gees
van Elia, en dit is opvallend dat ander geloofwaardiges eerder so oor hom
getuig (vgl. Mal: 4:5; Luk. 1:17; Mat. 11:14; Spr. 27:2). Die Gees van Christus
is nou op Christene om dit voort te sit in die nuwe verbond en met nederigheid
Hom te verkondig wat gekom het sodat ’n ware Christusfees mag vier.
Werke geraadpleeg
John
Bergsma, The Word of the Lord. Year B.
Frederick
Bruner, The Gospel of John.
Ignatius
Catholic Study Bible.
Matthew Henry. (Hierdie boodskap leen
sterk aan op Henry. Henry se bespreking oor hierdie verse is besonders).