2024/09/19

Here, kom my ongeloof te hulp!

Lees: Mark. 9:14-29

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus kom mense te hulp wat Hom in hulle swakheid aanroep. 

Oorsig: Nadat die Here Jesus verheerlik is op die berg en drie van sy dissipels dit gesien het, het Hy saam met hulle teruggekeer na sy dissipels. Daar het ’n groot klomp mense om die dissipels vergader en daar was ook skrifgeleerdes wat met die dissipels argumenteer het. Die skare was dadelik, toe hulle Hom sien, verbaas en het na Hom gehardloop en gegroet (v.14-15). Hy het die skrifgeleerdes toe gevra waarom hulle met die dissipels argumenteer (redetwis). Een uit die skare het toe geantwoord: Meester, ek het my seun met ’n stomme gees na U gebring. En waar die gees die seun ook aangryp, (1) skeur hy hom en (2) hy kry skuim in die mond en (3) hy kners met sy tande en (4) word styf. En ek het u dissipels gevra om hom uit te dryf, en hulle kon nie.” (v.16-18). Normaalweg kon hulle, maar nie hier nie.    

Die Here Jesus het hom toe geantwoord: “O, ongelowige geslag, hoe lank sal ek by julle wees, hoe lank sal ek julle verdra? Bring hom na my toe.”(v.19). Hulle het die seun toe na Jesus gebring en toe die seun Hom sien, (1) laat die gees hom stuiptrekkings kry, en (2) hy val op die grond neer en (3) rol rond met skuim in die mond (v.20). Die Here Jesus vra toe vir die pa hoe lank dit al is wat dit die seun oorgekom het. Hy het toe geantwoord dat dit van sy kinderdae af was. Hy het uitgebrei en vertel dat die gees die seun selfs dikwels in die vuur en die water gegooi het om hom dood te maak. En toe voeg die man by: “Maar as U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons.” (v.21-22). Die Here Jesus het toe gesê: “’Wat dit betref – as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo.” Die vader van die kind het toe dadelik met trane uitgeroep: “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!” (v.23-24).

Toe die Here Jesus sien dat ’n skare saamstroom het Hy die onreine gees bestraf en gesê: “Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou, gaan uit hom uit en kom nooit weer in hom nie.” Nadat die gees (1) deur die seun geskreeu het, het hy hom (2) baie stuiptrekkings laat kry en toe (3) het hy uitgegaan. Die seun het gelyk (4) of hy dood is en die mense het ook gesê dat hy dood is. Maar die Here Jesus het hom (1) by die hand gegryp en (2) hom opgerig. En toe (3) het die seun opgestaan. (v.25-27). Toe die Here in die huis kom, vra sy dissipels Hom afsonderlik waarom hulle die gees nie kon uitdrywe nie. Die Here Jesus het toe gesê: Hierdie geslag (genos: KJV:soort) kan deur niks anders uitgaan as deur gebed (en vas – 53 vertaling) nie (v.28-29).  

Besprekingsvraag: Watter basiese patroon vir bediening kan ons uit hierdie gedeelte aflei? 

Insig: Ons vind die samehang van heerlike bergtop-ervarings met groot uitdagings in die dale, meermale in die Woord van God. Dink aan Moses wat van die berg afkom en die goue kalf onder die volk vind. Dink aan Die Here Jesus wat na sy doop en die stem uit die hemel, net daarna in die woestyn die satan moet trotseer. Hier is Hy pas verheerlik op die berg en die stem uit die hemel bevestig weer eens dat Hy groter is as dienaars uit die Ou en Nuwe Testament. Maar net hierna is daar die laaste genoemde groot demoniese uitdaging in Markus voor sy kruisiging. Laat ons daarom bedag wees op uitdagings na besondere hoogtepunte, maar laat ons ook Hom raaksien wat nou reeds verheerlik is in ons skynbaar hopelose situasies. Ons lees hier van uiterste gebrokenheid - ’n seun wat van kinds af verskeurd en doodsoekend is, en ’n kragtelose Kerk met twis met ander leiers in hul kragteloosheid. Kortom, hier is sprake van diegene wat die verheerlikte Christus moet verdra: ’n ongelowige geslag. Die goeie nuus is dat Hy ons wel verdra, en dat Hy selfs sy lewe oorgegee het sodat ons nie net verdra kan word nie, maar kinders van God wat groei in hulle geloof. Daarom word ons ook opgeroep om nie maar net te bly waar ons is nie, maar om hier ag te gee op sy antwoord en sy openbaring sodat ons geloof versterk kan word.

2024/09/16

Reinheid en onreinheid begin in jou hart

Lees: Mark. 7:14-23

Gedagte vir kinders: Mooi en lelike dinge begin in jou hart. 

Oorsig: Tydens die Here Jesus se bediening het sy woorde en dade bekend geword aan die godsdienstige leiers in die hoofstad van Jerusalem. Hy het egter dikwels daar in Galilea in die noorde waar Hy grootgeword het, bedien, en daarom kon hulle nie in alles vanuit Jerusalem ’n oog oor Hom hou nie. Op ’n stadium het hulle lede van die strengste godsdienstige party, die Fariseërs, asook sommige Skrifgeleerdes wat die wet ywerig saam met hulle eie mondelinge tradisie daaroor gehou het, Hom kom besoek.

Hulle sien toe dat die dissipels nie water op hulle hande gegiet het voor ete nie en daarom volgens hul rituele onrein was. Hulle het dit afgekeur (v.2). In die Ou Testament sien ons dat net die priesters onder sommige omstandighede sulke voorskrifte gehad het (Ex. 30:17-21; Num. 18:11-13). Maar in daardie tyd het die Fariseërs en die al die Jode nie geëet as hulle nie deeglik hande gewas het nie, omdat hulle vasgehou het aan die gewoontes (oorlewering/tradisie) van die ou mense (v.3). So wou hulle kontak met die heidenwêreld beperk. Nadat die Here Jesus hulle persoonlik geantwoord het (v. 4-13), het Hy die hele skare na Hom geroep om sy antwoord vir almal te verduidelik (v.14): Geen kos wat van buite af in mense ingaan, maak onrein nie, maar eerder die dinge wat van iemand se hart uitgaan. Elkeen wat ore het, moes hoor (v. 15-16).

Toe Hy weg van die skare in ’n huis gekom het, het sy dissipels oor sy gelykenis gevra (v.17). Hy het toe gevra of hulle ook so sonder verstand was. Hulle moes begryp dat alles wat van buite af in die mens ingaan, nie ingaan in die hart nie, maar in die maag en heimlik uitgaan en al die voedsel rein maak (v. 18-19). Hy het toe verduidelik dat net dit wat uit die mens se hart uitgaan, ’n mens onrein maak (v.20). Hy het toe op 12 kenmerke gewys wat van binne kom, uit die hart, en mense onrein maak: Slegte gedagtes, egbreuke (owerspelle), hoererye (porneia), moorde, diefstalle, hebsug (slegte begeertes/bedrog), boosheid, losbandigheid, afguns (bose oog), lastering, hoogmoed, dwaasheid (ligsinnigheid). Daarmee het die Here Jesus nie net die oorlewering van die ou mense oor allerhande wassinge vir gewone mense wat nie in die Bybel was, verwerp nie, maar het Hy ook duidelik gemaak dat ook sekere seremoniële wette uit die Ou Testament wat na Hom heengewys het, na sy kruis nie meer sou geld nie.

Besprekingsvraag: Waarom was daar eksterne rituele en seremonies in die Ou Verbond? 

Insig: Die Here Jesus maak dit hier duidelik dat Hy gesag het om ’n nuwe bedeling aan te kondig. Dit gaan nie daaroor dat Hy maar bloot, soos mense ook vandag, die Ou Testament bevraagteken en daarmee sanksie gee aan elke rebel wat elke heersende orde uitdaag nie. Nee, Christus eer en bevestig juis die diepste bedoeling van die wet, maar maak ook duidelik dat die koninkryk van God in Hom werklik naby gekom het. Ja, ’n nuwe era sou deur Hom aanbreek. Soos wat Noag en sy nageslag na die sondvloed toegelaat is om, anders as Adam en Eva (vgl. Gen. 1:29-30), die vleis van diere te eet (vgl. Gen. 9:3), so sou mense, nadat Jesus Christus gekom het, toegelaat word om voortaan enigiets met danksegging te kon eet (1 Tim. 4:1-4). Daarom moet ons sy saamroep van die skare verstaan as ’n verklaring wat tot vandag toe in ons ore weerklink: Hy openbaar die diepste bedoeling van die wet, wys die vervulling in Hom aan en toon ook aan waar onreinheid eintlik setel.