2019/06/04

Paulus en prudentia

Ons werk tans aan 'n publikasie, Woord in die Hart, deel 3. In hierdie publikasie wat huisgesinne wil help om rondom die Woord te vergader, word 'n vraag behandel oor Paulus se benaderings tot Joodse gebruike en spesifiek met betrekking tot  besnydenis in die geval van Titus en Timótheüs. Hieronder volg die vraag en die antwoord uit 'n deel wat fokus op Handelinge 21:10-34 waar Paulus bereid was om selfs die koste op hom te neem van 'n gelofte wat saam met Joodse Christene gemaak is.

Besprekingsvraag: Vergelyk Handelinge 21:10-34 met Galasiërs 2:3-5 en ook met Handelinge 16:1-3. Was Paulus nie inkonsekwent in dit wat hy oor die besnydenis vir mense geleer het nie? Wanneer staan gebruike en gewoontes van mense in die pad van die evangelie en wanneer kan ons dit toelaat?

Insig: Paulus het van Tarsus na Antiochíë en vandaar na die res van die destydse bekende wêreld op sy sendingreise vertrek. Oral het hy die evangelie van Jesus Christus verkondig en baie mense, Jode sowel as heidene, het tot geloof gekom. In dieselfde tyd het daar in Jerusalem ook duisende Jode tot geloof gekom wat in hulle leefstyl baie nou aangesluit het by die gebruike van die Jode waarmee hulle grootgeword het. Een van die groot uitdagings waarmee Paulus te make gehad het, was om te verduidelik wat die verskil is tussen die ou verbond, waar almal soos die Jode moes word om deel van die volk van God te wees, en die nuwe verbond waar gelowige Jode en heidene nou saam deel van die volk van God uitmaak (vgl. Efés. 2:11-22; Rom. 9-11). Met Paulus se aankoms in Jerusalem het hierdie strydvrae opnuut na vore gekom.

2019/06/03

Apologetiek volgens W.D. Jonker

Onderstaande is afkomstig uit klasnotas van prof. Roelof Maré, waar hy weer gebruik maak van die werk van wyle prof. Willie Jonker. Ek kon nie op die amptelike blad oor prof. Jonker se werke onderstaande stuk terugvind nie, en deel daarom hierdie juweel uit sy nadenke oor Apologetiek vanuit eie bronne.

1. Die doel van die Apologetiek moet altyd wees dat rekenskap daarvan gegee word dat ons glo en waarom ons glo.
2. Die Evangelie word as die waarheid verkondig. Daarvan word getuienis gegee, soos die dissipels van die Here Jesus gedoen het.
3. Geloof is nie iets wat niks met verstand en rede te doen het nie. So getuig Paulus dat hy woorde van waarheid en gesonde verstand spreek (Hand. 26:25-26).
4. Rede en ervaring beklee wel 'n plek in ons verantwoording van ons geloof, maar dit is nie twee groothede wat ongelowiges moet oortuig en die waarheid van die geloof moet of kan bewys nie. Dit is vir 'n gelowige nie absurd om te glo (soos Bonaventure gesê het: credo quia absurdum) nie. Apologetiek is die verantwoording van ons geloof oor die redes waarom ons glo en oor die konsekwensies van ons geloof.
5. Die gelowige voer self 'n stryd teen versoekinge en aanvegtinge tot die einde van sy lewe. Daarom is Apologetiek ook van groot nut vir die gelowige self.

2019/03/07

Weggee-tekens van regverdiging

Die waarde van die groot ou geeste is dat hulle altyd nuwe toepassings vind. Dit is ook die geval met die bekende, dog onderwaardeerde lering van oom Luther. Die regverdiging deur die geloof in Christus word maklik abstrak herhaal, maar dit vind nuwe, lewende toepassings in 'n era van ongekende selfregverdiging. En waar sien ons dit deesdae uitspoel? Natuurlik nêrens anders nie as op die nimlike "fake books en flash books" van die lewe. Want sien, so dui meer as een teoloog aan, dit is daar waar mense deesdae dikwels regverdiging soek. Dit gebeur veral wanneer die regverdiging voor God, vertikaal, vergete raak. Die ignorering daarvan keer egter met weerwraak terug. Nou word die volle gewig op horisontale verhoudings, dikwels virtueel, geplaas om daardie regverdiging te bied waarna ons as mense nou eenmaal dors. Die "hou van" op vuisboek en fris-lyk-boek beteken dan oneindig baie, want sien, so word ek nou geregverdig deur ander. 

Die omgekeerde is ook waar. Op min ander plekke kan die val van held tot hel so vinnig registreer. En om "lady" Gagga in haar onlangse oomblik van waarheid aan te haal: sosiale media kan maklik die toilet van die internet wees.

2017/02/21

Teologiese sterre - stigters of getuies?

Dit maak nogal 'n verskil of jou teologiese sterre deel van 'n groter konstellasie vorm en of hulle eintlik planete word waarom jy weer en weer wentel. In die teologie is daar sekerlik vir beide benaderings 'n plek, op voorwaarde dat die Son van Geregtigheid die eintlike verwysingspunt bly. En tog is dit so dat egte katolisiteit nie maar net wil wentel rondom een ster nie, maar die volheid in die oog wil kry. Jy kan nie anders as om vanaf 'n bepaalde ster te lanseer nie, veral as dit so 'n soliede een is, maar uiteindelik is daar tog verdere vistas moontlik. 

In my eie tradisie het ek al gewonder watter verskil dit in aanpak sou maak indien Johannes Calvyn byvoorbeeld nie as enigste basiese verwysingspunt gebruik word nie (dikwels ook meer volgens hoorsê), maar konsekwent eerder as deel van 'n groter skare kerkvaders. Skaars was hierdie gedagtes koud, toe ek onlangs op 'n besinning van Nicholas Healy in verband met Thomas Aquinas afkom. Healy neem die Franse reformatoriese Rooms-Katoliek, Henri de Lubac, se deelnemende interpretasie van Aquinas oor natuur en genade in beskerming teenoor sy onlangse neo-Thomistiese kritici. Formidabele figure soos Lawrence Feingold, Ralph McInerny, Reinhard Hütter en Stephen Long getuig dat De Lubac se deelnemende Thomas-vlag nie die volle Aquinas-lading dek nie. Thomas se tekste oor natuur en genade word, veral deur Feingold se bydrae, tot op mikro-vlak oopgedek. Volgens getuies kan De Lubac se interpretasie van Thomas nie hierdie mikroskoop-behandeling deurstaan nie. Sy sogenaamde horisonverskuiwende interpretasies van die man van Aquino wat hom nie dualisties wil verstaan oor natuur en genade nie, maar eerder as 'n paradoksale eenheid, moet gevolglik met 'n rooi gesig agter gelaat word. 

Nie so vinnig nie, maan Healy egter. Hy is van mening dat daar benaderings in die interpretasie-metodiek is wat uit die oog verloor word wanneer die kamera te veel op nabyskote die aandag vestig. Luister 'n mens na Healy, besef jy vinnig dat sy woorde op meer as een groot kerkfiguur van toepassing gemaak kan word:

"De Lubac interprets Thomas as an authoritative witness to a tradition that precedes him. This is the reason why de Lubac is constantly citing earlier voices in the tradition—Irenaeus, Augustine, Gregory of Nyssa, Maximus the Confessor, Bernard of Clairvaux, Anselm — precisely in order to shed light on the teaching of Thomas Aquinas. And this is the reason why de Lubac’s writings on nature and grace are saturated with references to Scripture. Feingold, on the contrary, simply begins with Aquinas and then microscopically traces the tradition of commentary on Aquinas’s writings. In other words, Feingold takes Aquinas as constituting a tradition.

2017/01/07

Baie meer as nuwe keuses

In Hand. 5:31 kry ons een van daardie verse wat te min aangehaal word. Oor die Logos van die heelal, Jesus Christus wat mens geword het, word die volgende gesê: "Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk."

In die eerste plek is dit gepas om iets oor die vertaling te sê. Hoewel nie volmaak nie, is ek van kop tot tone ’n ondersteuner van die 53-vertaling. Dit het te make met grootword, met melodieuse taal, met Langenhoven en met die beeld van hoë definisie televisie. Ander dag dalk meer daaroor. Vir nou is dit genoeg om net kennis te neem dat daar redes is waarom jou ondersteuningsvlakke maar hoog kan wees vir hierdie topverkoper. In tye van hooggety wonder ek selfs of die vervlakking in ons land nie deels te make het met lae definisie Bybelvertaling wat die ontginning van Bybelskatte kortwiek nie. Maar nou-ja, kom ons fokus dan nou op die hoë definisie wat ons hier vind.


Die verhoogde Heiland skenk bekering en vergifnis van sondes aan Israel, en per implikasie ook aan ons. Wat ’n bemoediging! Enigeen wat al erns gemaak het met bekering weet dat dit ’n weerbarstige saak is. Daar is die kwessie van motiewe wat maar moeilik is om te peil; daar is die halfhartigheid, en dan is daar natuurlik ook die onvermoë. Enigeen wat die populêre keuse-retoriek volg en maak asof dit bloot oor keuses gaan, het duidelik nog nie die rol van omgewing en kondisionering en swakheid van wilskrag verreken nie. Laat ons dit daarom maar weer weergalm: Augustinus het in die kerkgeskiedenis nie om dowe neute swaarde met Pelagius gekruis nie. Ons het baie  meer as nuwe keuses nodig. 

Ons teks sê dat ons Jesus Christus nodig het, selfs vir ons bekering. Vir die van ons wat suspisie het oor ons eie vermoë tot bekering is dit goeie nuus.

2016/06/23

Skrywers en die spreek in tale

Skrywers spreek dikwels in tale. Sekerlik nie heeltemal op dieselfde manier as wat sommige as die ware Jakob sal beskou nie, en tog ook nie heeltemal verstoke daarvan nie.

Die verskynsel van glossolalie is, so seg die antropoloë vir jou, 'n algemeen menslike verskynsel. Onder die (in)druk van die regte gemoedsaandoeninge vind 'n katarsis plaas wat eksessiewe taal via die tong loslaat. Strome van lettergrepe stort eenvoudig oor die lippe soos die gemoedsdrif in tong en klank oorspoel.

Skrywers ken iets hiervan. Ook hulle moet soms eers soos befaamde glossolale onder die regte toestande verkeer voordat hulle 'n woordkabaal loslaat. Soms benodig ook hulle eers die inspirerende taal van 'n ander, in hierdie geval die taal van 'n ander skrywer, om hul eie tiktonge los te maak. En wanneer hulle dan in hierdie bui kom, begin hulle om in vervoering te tik, soms met byna net stuurbeheer oor die woordgletsers wat oor die bladsye en skerms stort.

Noem dit muse as jy wil. Noem dit bloot a-ha as jy dit met jou woordstyl mak wil maak, maar die skrywerskworum is nou eenmaal temperamenteel en hulle ken daardie besondere oomblikke van aandoening waar moet-skryf so natuurlik soos buig voor die Koning is. Menige skrywer sal daarom ook in hul eerlike oomblikke bely dat hul al agtergekom het watter blootstelling makliker die sneller in hul woordstorms aftrek. In sulke tye ry jy die golf en die euforie ry vir jou, so bloots, dat jy wonder of seiljag of vryval ooit aandoenliker kan wees as die ervaring van 'n skryfdriftige, in volle vaart voor 'n rekenaarskerm.

En tog is die woordsmit met meer as glossolalie besig. Want die skryfkuns nooi juis uit om die wêreld te interpreteer, en tot stigting van die leser te vertroos, te vermaan en te bemoedig.

2016/05/10

Nee vir links-regs marse

Elke keer, net soos wat dit lyk of die laaste blogskrif gaan verjaar, vind daar 'n terugkeer plaas. Nou-ja, kom ons kyk of opvolgskriffies dalk hierdie keer langer volgehou kan word.

Hierdie inskrywing gaan hopelik nog uitdy. Dit gaan oor die links-regs retoriek. Onlangs meld 'n verlangse vriend dat daar daar 'n verskil is tussen die regse idioom en die konserwatiewe idioom. Vir sommige mag dit dalk nuus wees, maar ek vermoed konserwatiewes voel hierdie verskil lankal aan. Bring 'n mens dit in verband met die groot voorspraakmaker vir die konserwatiewe gedagte, Russell Kirk, besef jy dat hy dit eintlik al lankal gesê het. 

Kirk het graag daarop gewys dat die konserwatiewe gedagte nie 'n ideologie is nie. Onlangs het Bradley Birzer 'n nuwe biografie oor Kirk laat verskyn. Enkele indrukke  daaroor kan hier gevind word. Wat insiggewend is, is dat die skrywer van die artikel, Samuel Gregg van Acton-faam, spesifiek by die links-regs mars aanhaak. Hy wys op bevatlike wyse op drie redes waarom Kirk wars gestaan het oor hierdie manier van dink:

1. Links-regs denke hang vir Kirk nou saam met ideologie, en ideologie - in sy linkse of regse gestalte - is 'n tipe omgekeerde godsdiens. Die hemel word op aarde gesoek en dan word daar, veral aan die linkerkant, maar ook op die regterkant (nasionalisme in onderskeid van patriotisme), mettertyd verval in allerhande dwingende wyses waarop die sogenaamde hemel deurgevoer moet word.