2019/03/07

Weggee-tekens van regverdiging

Die waarde van die groot ou geeste is dat hulle altyd nuwe toepassings vind. Dit is ook die geval met die bekende, dog onderwaardeerde lering van oom Luther. Die regverdiging deur die geloof in Christus word maklik abstrak herhaal, maar dit vind nuwe, lewende toepassings in 'n era van ongekende selfregverdiging. En waar sien ons dit deesdae uitspoel? Natuurlik nêrens anders nie as op die nimlike "fake books en flash books" van die lewe. Want sien, so dui meer as een teoloog aan, dit is daar waar mense deesdae dikwels regverdiging soek. Dit gebeur veral wanneer die regverdiging voor God, vertikaal, vergete raak. Die ignorering daarvan keer egter met weerwraak terug. Nou word die volle gewig op horisontale verhoudings, dikwels virtueel, geplaas om daardie regverdiging te bied waarna ons as mense nou eenmaal dors. Die "hou van" op vuisboek en fris-lyk-boek beteken dan oneindig baie, want sien, so word ek nou geregverdig deur ander. 

Die omgekeerde is ook waar. Op min ander plekke kan die val van held tot hel so vinnig registreer. En om "lady" Gagga in haar onlangse oomblik van waarheid aan te haal: sosiale media kan maklik die toilet van die internet wees.


Anders gestel, regverdiging deur ander en veroordeling deur ander raak baie akuut wanneer die regverdiging deur God uit die oog verloor word. Die oplossing is egter nie om die horisontale en virtuele werklikhede weg te neem nie. Dit is trouens nie moontlik nie. Dieselfde Luther het lankal hierna verwys toe hy oor groter werklikhede opgemerk het dat mense skeef trap met vroue en met sterre (nie mense-sterre nie, maar van die hemelruim self). Mense kan met vrouens in ontug lewe en die sterre aanbid, het oom Martin gesê. Sal ons daarom die sterre uit die hemelruim pluk en vrouens van die aardbol wegvee? het hy opgevolg. Die antwoord is duidelik. Daarom het hy die antwoord al lankal vooruitgeloop op die vraag: Bedoel jy nou dat ons die internet uit die kuberruim moet uitruk? Nee, dit kan maar rustig die plek inneem naas die wonderlike werklikhede van vroue en sterre.

Dit maak ons wel bewus waarom die dominis van die platteland steeds 'n sentrale verwysingspunt in die dorp kan wees, ook al dink sommige dat almal deesdae geleerdheid het. Die rede is dat die pastor loci insig het, of behoort te hê, in die soeke na regverdiging en hy kan vir mense verduidelik en waarsku teen die neiging tot selfregverdiging, valse regverdiging, en jaloesie en oordeel wat nuwe ruimte via kuber-faam en e-toilette kry. En hy behoort vir mense te kan wys hoe oom Martin nie net lankal die eerste ou was wat sonder net-verbinding viraal uitgebreek het nie, maar ook dat sy insig nuwe relevansie kry in ons eeu. Die Duitse teoloog, Oswald Bayer, een van die Lutheraanse teoloë wie se werke maar pas eers meer bekend word in Engels, het 'n hele publikasie aan hierdie saak gewy. Die dors na regverdiging sit diep en selfregverdiging is steeds een van die groot weggee-tekens dat die regverdiging nie in Christus gesoek word nie. Daarom, laat mense lank genoeg wegbly van die goeie ou kerk en laat die kerke al kleiner word, en die weggee-teken, ook op Facebook en ander plekke, gaan groei. Die naampie daarvan is selfregverdiging. En wanneer die regverdiging in mekaar gesoek word en dit nie gekry word nie, sal angs nie afneem nie, maar toeneem. Om te seg, soos te veel tendensieuse teoloë vandag teoretiseer, dat mense se vrae anders is as in Luther se tyd, is daarom slegs gedeeltelik waar. Die groot vrae is altyd geldig en kry altyd nuwe relevansie. Daarom sal die goue oues en die ou-ou tyding altyd weer waardeer word, lank na die kleiner vrae ook al weer aan beweeg het na nuwe vrae. Nêrens is die lank-lewe ode so gepas nie as wanneer ons die regverdiging buite onsself, in Christus, ontdek. Dit bring ook die egte regverdiging van die self in 'n hele nuwe omgewing.