Onderstaande is afkomstig uit klasnotas van prof. Roelof Maré, waar hy weer gebruik maak van die werk van wyle prof. Willie Jonker. Ek kon nie op die amptelike blad oor prof. Jonker se werke onderstaande stuk terugvind nie, en deel daarom hierdie juweel uit sy nadenke oor Apologetiek vanuit eie bronne.
1. Die doel van die
Apologetiek moet altyd wees dat rekenskap daarvan gegee word dat ons glo en
waarom ons glo.
2. Die Evangelie word
as die waarheid verkondig. Daarvan word getuienis gegee, soos die dissipels van
die Here Jesus gedoen het.
3. Geloof is nie iets
wat niks met verstand en rede te doen het nie. So getuig Paulus dat hy woorde
van waarheid en gesonde verstand spreek (Hand. 26:25-26).
4. Rede en ervaring
beklee wel 'n plek in ons verantwoording van ons geloof, maar dit is nie twee
groothede wat ongelowiges moet oortuig en die waarheid van die geloof moet of
kan bewys nie. Dit is vir 'n gelowige nie absurd om te glo (soos Bonaventure
gesê het: credo quia absurdum) nie. Apologetiek is die verantwoording van ons
geloof oor die redes waarom ons glo en oor die konsekwensies van ons geloof.
5. Die gelowige voer
self 'n stryd teen versoekinge en aanvegtinge tot die einde van sy lewe. Daarom
is Apologetiek ook van groot nut vir die gelowige self.
Ons is mense, sondaars. Ons ken ook vertwyfelinge. Die volmaaktheid kom eers eenmaal. Vrae wat in die gelowige se hart leef, moet deur die Apologetiek indringend en sistematies deurgedink en nagevors word.
Ons is mense, sondaars. Ons ken ook vertwyfelinge. Die volmaaktheid kom eers eenmaal. Vrae wat in die gelowige se hart leef, moet deur die Apologetiek indringend en sistematies deurgedink en nagevors word.
6. Apologetiek bied ook
dieselfde verantwoording, versekering/bevestiging/ bemoediging wat dit vir die
gelowige self inhou, aan die ongelowige met sy vraagtekens oor die geloof. Ons
beleef solidariteit met die ongelowiges – ons is mede-sondaars. Al verskil is
dat ons genade ontvang het. Daarom kan ons hulle nie verag nie. Ons kan hul
probleme begryp, omdat ons ons eie daarin herken. Ons getuig teenoor hulle van
die waarheid van die Evangelie. Net soos hulle sien ons ook waarom die geloof
vir die natuurlike mens dwaasheid is, maar (dit getuig ons) ons is teen onsself
in oortuig van die wysheid van die Evangelie. So trag ons nie om die
Evangelie vir hulle aanvaarbaar te maak deur dit by innerlike kwaliteite van
die mens te laat aansluit nie, maar ons getuig slegs van die openbaring van God
waardeur Hy beslag op ons gelê het.
7. Ons tas nie die
Evangelie af tot een of meer kernwaarhede wat kan inpas by bepaalde behoeftes
of ervarings van die ongelowige nie – ons kom onbevange met die volle
Evangelie. "Ons konfronteer die totale mens met die totale Evangelie"
(Jonker:28). God open harte vir sy Woord, deur sy Gees, waar dit Hom behaag.
8. Die Apologetiek
moet natuurlik kennis neem van die ongelowige tot wie hy hom in die proses van
rekenskap rig. Barth se reaksie teen die inagneming van die ongelowige, is te
ver gevoer. Die apologeet se kennisname van die situasie en denke, ens. van die
ongelowige mag nie lei tot aanpassing van die Evangelie nie. Te midde van
kennisname van watter bedenkinge ook al teen die geloof, gee die Here krag om
ons in die geloof te bewaar. Ons hoef nie noodwendig self ongelowig te word,
soos Barth te kenne gee nie. Het ons dan nie self sóveel van die bedenkinge
teen die geloof in ons eie harte beleef en hulle in die krag van die Heilige
Gees oorwin nie? Daarom kan ons juis van die Evangelie getuig en die oortuigingswerk
aan die Here oorlaat. Barth se
waarskuwing dat die Evangelie nie aangepas moet word nie, moet ons deeglik ter
harte neem. Ons misken die Apologetiek as afsonderlike vakgebied egter nie
(anders as wat Barth wel doen).
9. Die apologeet gaan
nie te werk met 'n krampagtigheid omdat hy met sy argumente geloof moet
bewerkstellig of die geloof 'n staanplek moet gee nie. Hy werk as iemand wat
die sekerheid van die geloof ken. Hierdie sekerheid val nie weg by die aanhoor
van aanvalle op die geloof nie. Die geopenbaarde waarheid is groter en sterker
as enige moontlike argument wat teen die geloof ingebring kan word. God laat
Homself nie onbetuig in hierdie wêreld nie (Rom. 1:18 e.v.). God is ons ook voor! Voordat
ek met ‘n ongelowige wat Hy uitverkies het, in gesprek tree, was God reeds met
hom besig.
10. So gesien, is ons
Apologetiek nie net verdediging van die geloof nie, maar tegelyk aanval op die
ongeloof. Die geloof vra ook vrae aan die ongeloof! Hoe het Christus self nie
soms vraestellers se vrae omgedraai om hulle te konfronteer nie. Die ongelowige
moet homself verantwoord oor wat hy gedoen het met die Evangelie wat ons aan
hom gebring het. (Dit is 'n metode wat Thielicke as die juiste metode vir die
Apologetiek voorhou.) Die apologeet mag nie vreesagtig en verskonend wees nie.