Kersfees het nie net een stel
remme nodig nie. Ons is nogal goed bekwaam om die voorremme aan te slaan as dit
kom by die kommersialisering van kersfees. As ons egter nie daarteen waak nie,
kan ons die agterremme verwaarloos wat net so sterk teen iets anders moet rem:
streng en stroewe gesigte in die feestyd. Om met strak gesigte die tongskote te
laat klap teen kommersialisering, kan óók dui op ’n gebrek aan waardering vir
die evangelie.
Kerstyd herinner ons aan die mees dramatiese gebeure in die
geskiedenis van die mensdom – dat die God van die heelal geopenbaar is in die
vlees (1 Tim. 3:16). Dit het die begin van ’n salige wending aangekondig wat
ons lewens van dienskeg-wees na kind-wees, van bedelaars na koningskinders,
verander het. Dit het aan ons bevestig dat die stoflike waarde het en dat God
se verlossing ook atome insluit. In hierdie wêreld van ons wat so gekraak en
gebroke is, en tog nog soveel tekens van skoonheid vertoon, het God deur sy
Seun die grootste moeite denkbaar kom maak. Hy het alle messias-komplekse
beskaam toe Hy aan ons die ware Messias gegee het om op die regte tyd op te
daag.
God het hierdie wêreld van koggelmanders en klippe, van kremetarte en
dolfyne, van atoom-fisika en sondige mense, so liefgehad dat Hy sy eniggebore
Seun gegee het om dit te red. Hierdie oorwinning deur ’n kruisdood en ’n
opstanding uit die dood sou egter net kon gebeur as die Messias ook eers as
mens gebore word. In die geskiedenis van die mensdom is daar nooit so iets gesien
nie. In hul wildste drome kon selfs die Jode nie hierdie wending vooraf met
begrip voorspel nie; dat God ná soveel gesante, uiteindelik sy eie Seun stuur
(vgl. Mk. 12:6) om te verseker dat verlossing nie ’n moontlikheid nie, maar vir
altyd ’n werklikheid is.
Die beste verhale, so het die kenners lankal
aangetoon, vertoon ’n wending wat jy nooit vooraf heeltemal kon sien kom nie.
Nádat die wending plaasgevind het, kyk jy egter met verwondering terug en sê:
dit kon op geen ander manier werklik bevredigend uitwerk nie. Hierdie kenmerk
van die beste verhale is natuurlik geskoei op die grootste en beste verhaal
ooit. Nadat Jesus Christus gekom het, besef ons dat Hy die die verpersoonliking
van salige wendings is. Dit kon inderdaad op geen ander wyse gebeur het nie.
Daar was reeds baie skaduwees en tipes in die Ou Testament, ja, maar sonder die
verrassende ontknoping daarvan in die Nuwe Testament, sou ons nie met
versadiging “a-ha” kon sê nie. En ons wat anderkant die kruis en die leë graf
met ’n nog groter prentjie leef, mag onder leiding van die Gees selfs
“a-ha-leluja” uitroep. “Die grootste en beste verhaal,” so mag elke gelowige
jubel, “het ook mý verhaal geword, want mý verhaal is ingetrek in die wending
wat Jesus Christus gebring het.”
Die goeie nuus van hierdie verhaal lê juis in
die stowwerige werklikheid daarvan in die geskiedenis. Dit het konkreet in tyd
op hierdie planeet gebeur en het gevolge vir elke mens, maar ook elke stukkie
stof, want Christus se menswording en menswees het bewys dat God en materie nie
vyande is nie. Omdat Christus gekom het, kan die wyn in jou glas en die
skaapboud op jou kerstafel weer werklik in die Naam van God geniet word. Omdat
Christus se verlossing alles nuut maak, kan die roomsnor van ’n laggende kind
jou dankbaar maak dat kersfees baie plek het vir sulke materiële mensies.
Kinders wat nog hul poeding kan geniet en boonop met taai sjokolade-hande een
van die aarbeie in hul poeding met jou wil deel, is baie goeie remme teen strak
gesigte wat in alle erns steeds die punt van Kersfees kan mis.
Die
verbuikerskultuur het inderdaad in ons huise en winkelkatedrale en kerke
ingesluip, maar misbruik en verbruik het nog nooit dankbare gebruik en genot
opgehef nie (1 Tim. 6:17). Gierigheid word nie hokgeslaan deur suinigheid, suur
gesigte en toe hande nie. Gierigheid kan maak dat jy óf baie koop óf baie
inhalig is. Beide simptome verraai ’n hart wat verkleef is aan die gawe in
plaas van die Gewer. Gierigheid word daarom eintlik net hokgeslaan deur
vrygewigheid. Dit is juis waartoe God in Christus ons kom bevry het. Kom ons
erken dit maar: Die rede waarom ons so maklik koorsig koop of suinig is, is dat
ons nie werklik vertrou dat die Vader self ons eintlike bron van oorvloed is en
altyd sal sorg nie. Is dit nie ook waarom ons dalk voor 2015 huiwer nie? Die
boodskap van kersfees kom verseker ons juis van die teendeel. God het reeds sy
vrygewigheid en oorvloed deur die koms van sy Seun bevestig. Hy het deur Hom
ook bevestig dat ons in ’n wêreld leef waarin die opstanding altyd triomfeer oor
die dood. Zerosom-denke hou nie rekening met die vrygewige God wat van laastes
eerstes en van eerstes laastes maak nie.
Ons het nodig dat die boodskap van
Kersfees ons so dankbaar en vrygewig sal maak dat ons heenwysers sal wees na
God se vrygewigheid en oorvloed, ook in 2015 (vgl. 1 Tim. 6:17-19). Ons het die
boodskap van Kersfees nodig om ons van spandabelrigheid, maar ook van
inhaligheid te bevry. Ons Here Jesus het in sy aardse bediening daarop gewys
dat gierigheid ook na vore tree as jy ’n skynbaar regverdige dispuut met jou
familie oor erfporsies het. In sy verduidelikende gelykenis het Hy selfs
gewaarsku teen planne vir aftrede wat net te ywerig en voortreflik is (Lk.
12:13-21). Vir ’n kerkverband met baie senior mense is dit ’n tydige woord. Kyk
gerus ook na allerhande verdere moontlike tekens van gierigheid in ons
Smeltoond-rubriek.
Ons moet ons definitief uitspreek teen die kommersialisering
en sekularisering van Kersfees, maar laat ons ons ook uitspreek teen diegene
wat oorvloed en vrygewigheid wil inperk. Die soet gedagtes van die Kersboodskap
behoort geniet en gedeel te word. Roomsnorre, narre en narratiewe van goedheid
en guns, vaar dikwels beter om die goeie tyding van groot blydskap, wat vir die
hele volk sal wees, met ander te deel. Die banket van die evangelie is bedoel
om ook in hierdie Kerstyd en in die nuwe jaar sy spoor om ons laggende monde te
wys. ’n Vrygewige Kersfees en nuwe jaar word u toegebid.
Redakteursartikel, Die Boodskapper, Desember 2014.