Pinkster is ’n gevaarlike fees wat ons elke jaar vier. Die Bybel leer dat waar die
Heilige Gees werksaam is, daar dikwels opskuddings en vervolgings plaasvind.
Die Gees van God het nie gekom om ons mak te maak nie, maar vol lewensdurf en
planne om gevaarlike wapens in God se koninkryk te wees (vgl. Rom. 6:13).
God
se Gees het gekom om ons van vreesagtigheid vry te maak. Dit bly een van die
mees vertroostende, mees uitdagende, mees gebalanseerde uitsprake – om te hoor
dat God ons ’n gees van krag, liefde en selfbeheersing gegee het (2 Tim. 1:7).
Sommige praat baie van krag, ander van liefde, en ander van selfbeheersing. Om
egter hierdie drie eienskappe in harmonie uit te leef, is ’n saak wat net die
Gees van God in ons kan bewerk. Die goeie nuus van Pinkster is dat God hierdie
bekragtiging reeds in Christus en sy Gees aan ons gegee het. Die vraag is
daarom opnuut of ons dit nog in hierdie Gees waag met die Here.
Dit is ook ’n
ontblotende vraag of ons regtig wil hê dat die Heilige Gees kragtig onder ons
sal werk. Want sien, waar die Gees werksaam is, gaan ons in die spervuur
beland, eerstens by God wat ons nie gaan los soos ons is nie, en tweedens by
mense wat hul eie bydraes gaan maak om ons te vorm.
Sommige gaan rede vir
kritiek soek, en ander rede vir saamgaan en saamwerk, omdat hulle kan hoor en
sien wanneer die Here met ons is. Is ons hiertoe bereid?
Dit is moeilik om so
’n vraag in die algemeen te beantwoord. Laat ons daarom realisties besin oor
Hom wat vlees geword het om konkreetheid aarde toe te bring. Jesus Christus
het, gesalf deur die Gees, vir ons die opperste Beeld geword van wat dit
konkreet beteken om met die Gees van God vervuld te lewe. Hy het saam met
regses en linkses, slegtes en goeies, geëet en gedrink. Sy grootste
teenstanders was behoudende sowel as liberale kerkmense van aansien, veral dié
wat bedreig gevoel het as sekere gedragskodes nie stiptelik nagekom is nie. Hy
moes die etiket van vraat en wynsuiper verduur omdat Hy die genade van God op
die onwaarskynlikste plekke bedien het. Diegene wat die persoon van ’n mens
aangesien het, was maklik sy grootste vyande. Die Seun van God het egter,
gesalf deur die Heilige Gees, die evangelie verkondig aan mense wat ongesteld
was en ’n Geneesheer nodig gehad het. Hy het nie gekom om regverdiges te roep
nie, maar sondaars tot bekering. Is dit nog wat ons onder vervulling deur die
Heilige Gees verstaan?
In die proses het ons Here Homself ook op ’n baie
besondere wyse opgestel teen die tradisies van sy tyd. Diegene wat met al hul
tradisies en gewoontes die Woord van God kragteloos gemaak het, het Hy met die
skerptste woorde veroordeel. Dit wat met die Woord in ooreenstemming was, het
Hy beaam, maar telkens gemaan dat die geregtigheid dieper moes gaan as bloot
uiterlike presisie. Wat opmerklik is in die boek Handelinge, is dat die
teenstand, ook ná die uitsorting van die Heilige Gees, weereens deurgaans gekom
het van mense wat gevoel het hul tradisies word bedreig.
Waaroor ons in Pinkster weer van harte moet selfondersoek doen, is of ons gewoontes en
tradisies in diens van of dalk in die pad van die koninkryk van God staan. Die
nuwe wyn wat Christus gebring het, kan nie in ou leersakke geberg word nie. Dit
het natuurlik eerstens betrekking op die Ou Testament wat vervul is, maar daar
is ook ’n toepassing vir ons tradisies. Die vraag is of ons tradisies gevorm
word en groei deur die Gees van Christus.
Hoewel hulle dit dalk nie aanvanklik
so bedoel het nie, het twee wyse manne uit ons Afrikaner-verlede reeds
belangrike bakens ingeslaan oor die weg waarop tradisie nie teen die Gees nie,
maar saam met die Heilige Gees werk. Die een persoon was die gewaardeerde
president Paul Kruger met sy bekende woorde oor “neem uit die verlede”. Dit wat
goed was in die verlede moet geïdentifiseer word, maar dan moet daarop
voortgebou word. Hierdie uitspraak impliseer twee dinge: Daar is ’n standaard
buite die tradisie wat kan help om te bepaal of iets goed is. Tradisie is
verder ook iets wat moet groei. In hierdie verdere uitbou van lewende en
God-erende tradisie is dit mos onmoontlik dat Christene die werk en leiding van
die Woord en Gees buite rekening kan laat. Oom Paul kan eintlik nie werklik
sonder Pinkster aangehaal word nie.
Die ander wyse man wat raak woorde oor
tradisie geuiter het, was N.P. van Wyk Louw. In lyn met oom Paul se
gedagtegang, het hy op sy eie manier verdere beligting gegee. Hy het gestel dat
ons nie sonder tradisie of bloot in ’n tradisie moet lewe nie, maar eerder
vanuit ’n tradisie. Die waarde van Louw se bydrae lê daarin dat dit juis die
moontlikheid bied om, terwyl jy aan jou tradisie vashou, oop te wees vir die
werking van God se Woord en Gees in die hede. Ons groei nog al die pad verder!
In hierdie benadering lê ontsaglike potensiaal opgesluit. Die belangrikste rede
hiervoor is dat so ’n vanuit-benadering regtig rekening hou met die werking van
die Gees in die verlede sowel as in die hede. Hierdie benadering bied die
geleentheid om liberale kerke te vermaan wat die goeie uit die tradisie wil
loslaat. Die
vanuit-benadering bied egter ook die geleentheid om makgemaakte tradisionalisme in kerke te troef; te troef met die werking van die Gees wat vernuwend pols teen dit wat
die voortgang van God se koninkryk probeer strem. Want “julle sal my getuies
wees ... tot
aan die uiterste van die aarde.” Pinkstervisie kan nooit ontrou of smal of eng wees nie.
Die aarde behoort mos aan die HERE en die volheid daarvan.
Hierdie artikel het oorspronklik verskyn in die Die Boodskapper, April 2015. Klein redaksionele wysigings is aangebring.
êïëó Óáúêëé