2011/07/20

Verantwoordelikheid van spraak

Die onlangse herrie wat losgebars het rondom die Anton van Niekerk sage wat begin het met sy herbevestiging dat ons as wit mense met enorme skuld sit, is ter sake. Tim du Plessis het reeds in sterk taal  en deur beelde van 'n uitskelparade en prekerige vermanings gemaan oor woorde wat die teenoorgestelde uitwerking kan hê. Vuisvoos Afrikaners is meer as vies.

Die filosoof Pieter Duvenhage se woorde reeds in 2003 verduidelik op gesofistikeerde wyse wat Du Plessis in sy straatwys-styl profeties (in hierdie geval) aanhangig gemaak het:

In die tweede plek kan 'n mens in 'n tipe moralisme verval wat 'n kreatief politieke meelewing vanweë 'n oordrewe skuldbewussyn onmoontlik maak. Hier is natuurlik die gevaar van suiwering ... en 'n voorbeeld, in 'n mate, is Antjie Krog se Country of my skull.

Eerstens konteks: Duvenhage praat oor die WVK en wys op drie maniere om op die verlede te reageer - 1. ontken die verlede se foute; 2. beskuldig die verlede; 3. wees krities betrokke vanuit die hede op die verlede en meet dit heeltyd aan verskillende standpunte.

Dit is veral Duvenhage se uiteensetting van die tweede punt wat ek hier wil uitbou: 'n Oordrewe bombardering met skuld bewerk bloot 'n nuwe vorm van moralisme. Dit heet liberaal-demokratiese wettisisme. Soos dit nog altyd met enige vorm van wettisisme die geval was, kan dit nie bevrydend werk nie. Kreatiewe meelewing word heeltemal gesmoor. Mense wat voel dat hulle nie kan asem kry nie, doen vreemde dinge. Diegene wat in die naam van vryheid van spraak liberaal-demokratiese wettisisme wil bedryf, moet kennis neem. Moet net die liberaal-demokrate van die gevare van wettisisme kennis neem? Nee, almal behoort, maar die feit is dat die LD's die dominante narratief het met  - reg of verkeerd - die grootbroer posisie in Suid-Afrika. Vryheid van spraak in belang van hierdie heersende diskoers moet daarom spesiaal op die gevare van 'n tipe wettisisme en 'n oordrewe skuldkompleks attend gemaak word.

Om nou binne so 'n klimaat met betrekking tot die ongelukkige voorval van die Stellenbosch gebeure bloot te fokus op onvolwassenheid, fundamentalisme en die bedreiging van vryheid van spraak, mis die groter prentjie.
Die punt is dat die wet en verhoging van die skuldkompleks nog nooit iemand vrygemaak het nie. Die wet op sigself bewerk juis die teendeel. Gaan lees maar weer Romeine 7. In Romeine 7 is egter sprake van God se wet en dit is 'n vraag met watter norm prof. Van Niekerk meet as hy praat van "enorme skuld" en van "histories benadeeldes". Net so terloops - dui hierdie uitsprake nie maar net op 'n ander weergawe van onverbiddelike fundamentalisme nie?

Nietemin, indien hier wel van 'n na-aper normatiwiteit sprake is, bly dit waar: Geen wet kan op sigself ooit bevryding bewerk nie, al het jy hoeveel vryheid van spraak. Slaan maar met jou weergawe van die wet hoeveel maal oor die kop, jy sal baie dinge sien soos byvoorbeeld op Stellenbosch, maar kreatiewe meelewing is nie een daarvan nie. In die Skrif funksioneer die wet as tugmeester na Christus. Hy maak vry en skryf die wet op die tafel van ons harte. Maar die wet self gaan dit nooit - hoor mooi - nooit regkry nie. Daarom moet ons eenvoudig wat die normatiwiteitsvraag betref, twee sake baie duidelik uitklaar: (1) Is my normatiwiteit werklik afgelei uit die Skrif en (2) indien wel, funksioneer dit bevrydend of as sieldodende standaard? Die Boodskapper het onlangs in die Junie-uitgawe oor kinderopvoeding die groot vraag gevra: Moet my kind bloot die standaarde ken, of moet ek my kind begelei om die standaarde te omhels? Die vraag behoort ook in die sentrum te staan van hierdie gesprek. Die dominante LD-diskoers moet hierdie vraag enige dag net so belangrik ag as die vryheid van spraak kwessie. Ja, natuurlik is daar so iets as opstandelinge teen God se wet wat Christus ook wil kruisig. Maar ons moet baie seker maak op die linker en regterflank of ons waarlik in sy voetspore volg en of ons Hom bloot vir ons doeleindes wil inspan.

Vryheid van spraak kan nie losgesien word van verantwoordelikheid van spraak nie. Dit is die les wat ek vir myself in die Stellenbosch voorval leer terwyl ek betreur wat daar gebeur het. Laat ons dit maar na alle kante toe toepas. En terwyl ons nou poog om na alle kante toe toe te pas, diegene wat vanweë 'n keelvol gevoel oor die opdringerge skuldbomme oproerig wil raak: Dit is begrypbaar by die voetvolk, maar nie verskoonbaar by leiers nie. Veral leiers behoort ag te slaan op gedeeltes soos 1 Pet. 2:15-17: 3:15-17.

'n Les vir ons almal, watter weergawe van wet jy ook al aanhang is: Bied jy in jou beskouings ruimte aan jou teëparty om kreatief mee te werk? Of werk jy bloot beskuldigend mee aan 'n skuldkompleks met jou weergawe van wat wet is? Niemand gaan so vry word nie. Baie gaan wel kloustrofobies raak en benoude dinge begin aanvang. Dit is waarom ons God se weergawe van die wet so nodig het, tesame met sy oplossing. Hulle noem dit die evangelie. Dit is net God se Woord op die ritme van wet en evangelie wat linkse sowel as regse benoude spronge effektief met 'n ware alternatief kan afweer en nuwe harte gee.

Vryheid van spraak is nie die eindoel nie. Dit is die middel tot die doel - vryheid van optrede met God se wet in jou hart. Hiervoor is verantwoordelikheid van spraak by ons almal nodig. Galbraak-sessies saam met ouens in jou eie klein kringetjie bewerk nie ware vryheid nie. Dit laat jou net tydelik beter voel. Daarom is egte evangelieprediking in ons land so broodnodig. Tesame met evangeliese ondertone in al ons gesprekke en skrywes. En kom ons besin gerus maar weer oor opsie 3 wat Duvenhage hierbo voorgestel het. Ek sou "krities" net vervang het met "waarderend-krities" en iets wou byvoeg oor die WB-bril (WB staan vir wêreldbeskouing) wat jy op jou gesig het in die hede.