Wat noem jy "performative contradictions" in Afrikaans? Weersprekende optrede? Of so iets. Enige ander voorstelle in raakvat Afrikaans is welkom. Die uitgesprokenes sal sommer wil praat van Fariseër-gedrag of skynheiligheid op die bodem. Groot woorde hierdie - woorde met drie vingers wat terugwys.
Kom ons fokus so 'n bietjie op 'n minder opsigtelike voorbeeld hiervan: die debat oor Psalmsing onder die van ons wat graag die reformatoriese etiket as 'n ereplaatjie dra. Reformatoriese mense bely graag die genade van God alleen. Ons sou wou byvoeg: in die doksologies hoogste toon moontlik. Ons is mos trots op ons raamwerk van verwondering oor God en sy genade. Daarvan sing die Psalms self, erken ons, in die majeurtoon. Maar kyk net wat doen ons so maklik in die Psalmdebat. Ons pleeg "performative contradiction" - weersprekende optrede. Ons praat oor Psalmsing met 'n ander raamwerk as die een wat ons propageer. Die verwonderingsgloed is dikwels afwesig en nou, in pure steriele argumentasie, word daar abstrak geredeneer oor Psalmsing. Of as daar gloed is, is dit eerder 'n wettiese gloed: "Die Psalms moet gesing word, boet!" Hierdie pro-Psalm wettisisme is so anti-Psalm as wat kan kom.
Laat ek maar bely: Ek is persoonlik pro-Psalms. Ek sou selfs in 'n optog daarvoor wou loop met my "Viva Psalms!" plakaat. En ek sou saamsing in die koor van diegene wat stel dat daar 'n moratorium geplaas moet word op alle verdere aanleer van kerkmusiek totdat die mees gesonge liedere van die geskiedenis almal geken word. Maar ek dink nie dit gaan gebeur deur mense met 'n Psalmboek oor die kop te slaan nie. Dit sal eerder gebeur deurdat mense onder die indruk van die lof, die aanbidding en vreugde van die Psalms gebring word. 'n Goeie beginpunt is om Derek Kidner se immergroen dubbelloop kommentare aan te skaf. Hulle is baie gebruiksvriendelik en kan help om jou deurwerk van die Psalms met gloed te begelei. As die debat oor die Psalms nie ingebed bly in die raamwerk van doksologie en verwondering nie, is ons besig met weersprekende optrede. Iemand behoort op te staan en die teenstrydigheid aan te toon.