Gedagte vir kinders: Kinders van die Here is gelukkig
omdat God hulle vergewe het.
Oorsig: Hierdie Psalm van Dawid word ’n onderwysing genoem (vgl. Ps. 42, 45). Ons hoor hier wat die diepste rede is vir ’n mens wat welgeluksalig is. Dit is een wie se oortreding teen God vergewe is. Die Psalmis verduidelik dan verder dat dit gaan oor iemand wie se sonde bedek is (v.1). Net daarna word dit verder verduidelik met ’n ander woord vir sonde en oortreding en dit is ongeregtigheid. Dit gaan oor iemand aan wie die HERE die ongeregtigheid nie toereken nie. Hier word ook bygevoeg dat dit iemand is in wie se gees geen bedrog is nie (v.2). Omdat dit hier oor vergifnis gaan, beteken “geen bedrog” hier in die eerste plek iemand wat geen sonde probeer toehou nie, maar dit eerlik na God se lig bring sodat Hy dit kan vergewe.
Die Psalmis verduidelik dan wat met hom gebeur het. Hy het
stilgebly (geswyg ) oor sy sonde en toe het sy hele liggaam (gebeente
uitgeteer) en emosies (in my gebrul) die hele dag teen hom getuig (v.3). Die
Here se hand was swaar op hom en sy binneste (murg) het uitgedroog soos wanneer
die somerson in die Midde-Ooste alles laat verdor. Die woord “sela” hierna dui
op ’n ruspose wat bedoel dat daar nagedink moet word oor dit wat sopas gesê is
(v.4). En dan vertel hy van die ontknoping van die situasie. Hy het sy sonde
aan die HERE bekend gemaak en nie bedek nie. Hy het sy oortreding aan die HERE
bely en so het die HERE die ongeregtigheid van sy sonde vergewe. En weer roep
hy ’n sela-oomblik uit (v.5). Hy getuig dan dat elke vrome die HERE daarom sal
aanbid in ’n tyd wanneer Hy te vinde is en dat ’n oorstroming van groot water -
’n teken van die moeilike tye (chaos) - nie aan so iemand sal raak nie (v.6).
Die Psalmis bely dan die HERE ’n skuilplek vir hom is en dat Hy hom bewaar van
benoudheid. Meer nog, die Here omring Hom met vrolike liedere van bevryding.
Sela (v.7).
Hierna hoor ons die woorde van die Here wat ons leer en raad
gee oor die weg wat ons moet gaan, terwyl sy oog op ons is (v.8). Jy moet nie
soos ’n perd of muilesel wees wat geen verstand het en wild optree asof jy
verwilderd is van God, en ’n toom en teuel nodig het om enigsins gestuur te
word in God se rigting nie (v.9). Die Psalmis getuig dan dat die goddelose baie
smarte het, maar dat hy wat op die Here vertrou, sal beleef dat God hom (soos vroeër
met die gesange van bevryding) nou ook met goedertierenheid omring (v.10). En
dan roep Hy die regverdiges op om bly te wees in die Here en te juig. Hy
versterk dit deur ’n oproep aan die opregtes van hart om te jubel in die HERE
(v.11).
Besprekingsvraag: Hoe verduidelik Paulus Psalm 32 se begin in Romeine 4:6-8?
Insig: Ons verneem in die Psalm van
twee soorte lewens. Die een is ’n skadu van die ander. Ons begin by hierdie
skaduwee. Hier word gelewe vanuit eiegeregtigheid (die teenoorgestelde van
v.3-5: sonde word bedek en daaroor geswyg) en eiewilligheid (vgl. v.9 se
verwildering: tome en teuels is nodig voor God se pad geloop word). Dit is ook
duidelik in ’n wêreld wat ontkersten: Outonomie (outo + nomos
beteken letterlik eie wet) is aan die orde van die dag en daar is ’n stilte
(v.3:”swyg”) oor sonde en deesdae selfs aggressie wanneer die woord sonde
gebruik word. Die feit is egter dat sonde ’n onvermydelike konsep is en dat die
veroordeling oor sonde diep in ons harte teen ons getuig. Alternatiewe woorde
soos “haatspraak” en “laster” en “patologies” en “oneties” is vandag ook dikwels
maar net plaasvervangers vir die woord sonde en dikwels op grond van ’n
eiewillige standaard.
Ons Skrifgedeelte wys egter op die heerlike, welgeluksalige,
alternatief. Dit gebeur egter nie noodwendig in jou slaap nie. Daar kan selfs
psigosomatiese toestande volg wanneer ’n mens probeer swyg oor jou sonde of dit
wil wegsteek. Die liggaam, die siel, en die emosies is nie gemaak om rustig te
bly wanneer sonde nie hanteer word nie. Wanneer ons egter ons sonde na God in
Christus bring, volg heerlike gevolge: Ons word omring deur vrolike sange van
bevryding sowel as deur die barmhartigheid van die Here (v. 7,10). Dit lei ook
tot onderrigting van ander (vgl. v.8-11; Ps. 51:11-15). Die grondslag van
saligheid word nie gevind in die stand van volmaaktheid/perfeksie van ons lewe
nie. Die fondasie van ware vreugde is vergifnis.
Die Nuwe Testament help ons om die Ou Testament in Christus
op ’n verdiepte wyse te waardeer. Paulus help ons eksplisiet met die
interpretasie van Psalm 32. Onder leiding van die Heilige Gees toon hy aan dat hierdie
Psalm ons leer hoe ons geregverdig word by God sonder werke (Rom. 4:6-8). Dit
gaan in Psalm 32 nie oor ’n sondelose mens wat welgeluksalig is nie, maar oor ’n
sondige mens wat welgeluksalig is omdat hy eenvoudig, sonder verdienste, vergewe
is. Hoe het dit gebeur? Deur die drama van vergifnis en versoening (vgl. Brueggemann). Hy het sy
sonde nie langer bedek nie, maar bely voor God. Die goeie nuus van die evangelie
gaan daaroor dat God ons sonde bedek in Christus. Let op: Hy bedek ons sonde
(v.1) wanneer ons dit nie meer self wil bedek nie (v.5), maar na Hom toe bring.
Die Psalmis doen dit uiteindelik so voluit dat hy sy sonde sommer met drie soorte
name noem (oortreding, sonde, ongeregtigheid). Die gevolg is selfs dat daar
“geen bedrog” in die siel is nie. Dit is weg omdat sonde eerlik voor God
gebring word om te vergewe en te reinig (1 Joh. 1:9).
Werke geraadpleeg
Patrick
Reardon, Christ in the Psalms.
E
Charry, Brazos Kommentaar
Geoffrey
Grogan, Psalms
Walter
Brueggemann, Psalms
Tim
en Kathy Keller, The Songs of Jesus