Gedagte vir kinders: Die Here lag en spot met mense wat
teen Jesus Christus planne maak.
Oorsig: Psalm 2 vorm saam met Psalm 1 ’n inleiding/toegang tot die Psalms. Psalm 1 begin met die woord “welgeluksalig” en Psalm 2 eindig met die dieselfde woord. Psalm 1 praat oor een mens, maar Psalms 2 brei dit uit en praat met al die nasies. Psalm 1 praat oor die mens wat God se woord “oordink”, en Psalm 2 gebruik dieselfde woord vir mense wat teen God saam planne “bedink”. Ons kan Psalm 2 basies in vier dele van drie verse elk verdeel. Die eerste deel (v.1-3) beskrywe die opstand van die nasies en hulle konings en regters. Die vraag word gevra waarom die volke en nasies so woel en nietige dinge bedink. Dit word dan verder beskrywe as dat hulle konings en vorste saam planne maak teen die Here en sy gesalfde Koning. In Israel het die gesalfde (Messias) gedui op die koning uit die nageslag van Dawid, maar het ook heengewys na die groot Koning wat uiteindelik uit Dawid se nageslag gebore sou word. Die nasies wou die HERE en sy gesalfde se bande en toue stukkend ruk en afgooi.
In die volgende deel (v.4-6) hoor ons God se antwoord op die dwase planne. Die Psalmis sê dat Hy wat in die hemel woon, hieroor lag en dat die Here met hulle spot. Hy wys dan daarop dat Hy sulke mense sal aanspreek in toorn en met sy grimmigheid verskrik en sal sê: “Ekself het my Koning gesalf oor my heilige berg Sion.” Sion was die berg waarop Jerusalem en die tempel gebou was en het gestaan vir God se oplossing vir die wêreld. In die derde deel (v.7-9) hoor ons wat God se Gesalfde gehoor het oor God se besluit toe Hy Hom gekroon het: “U is my Seun wat ek vandag self verwek (gegenereer) het. Vra my en ek gee nasies as jou as jou erfdeel en die hele aarde (die eindes daarvan) as jou eiendom (besitting). Jy sal hulle verpletter met jou ystersepter (NAB) en hulle stukkend slaan soos ’n erdepot.”In die laaste gedeelte (v.10-12) is die aandag weer op die
konings en regters van die aarde en hoor ons watter waarskuwing en raad vir hulle
gegee word. Die konings en regters van die aarde word vermaan om verstandig te
wees en hulle te laat waarsku. Hulle moet drie dinge doen – die Here (1) met ontsag
(vrees) dien, (2) met bewing (toe)juig, en (3) die Seun soen (kus) soos die
gebruik van erkenning en versoening in die Midde-Ooste was. Die rede is sodat
die Seun, die Koning en Gesalfde, nie toornig sal word en hulle op hul pad sal
vergaan nie, omdat sy toorn gou kan ontvlam teen opstand. Tog eindig die Psalm
ook met ’n heerlike belofte. Welgeluksalig (die hoogste vorm van geluk) is
elkeen wat by hierdie Seun skuil.
Besprekingsvraag: Hoe behoort ons samesweringsteorieë te beoordeel?
Insig: Psalm 2 is saam met Psalm 1 ’n
kragtige inleiding tot die Psalms. Dit laat ons besef wie is waardig om toe te
tree en die lofsange van Israel te laat weerklink. Ps. 1 maak ons bewus van fokus
en dit wat ons nie behoort aan te trek nie. Ps. 2 maak ons bewus van stryd en dit
wat ons nie behoort te intimideer nie. Ps. 1 is sterker op die persoonlike en
Ps. 2 ook op die groter nasies en volke gerig. Psalm 1 maak ons bewus van morele
gedrag en wysheid en, en Psalm 2 van die Messias in wie hierdie dinge sin kry. En
natuurlik dat aardse magte soos Herodes bedreig voel wanneer die heerskappy van
die Messias te naby hulle belange kom. AB Simpson is van mening dat die eerste
drie verse die probleem skets en dat ons die Vader (v.4-6) en die Seun (v.7-9)
en die Heilige Gees (v.10-12) in die daaropvolgende gedeeltes hoor. Ten diepste is dit waar, maar dan moet ons dit
nie los van die historiese verbande doen waarin dit staan nie.
Ons moet die woord Messias hier
teen die agtergrond van die verbond met Dawid waardeer. God het aan Dawid
beloof dat daar altyd ’n gesalfde (messias) koning uit sy nageslag op die troon
sal sit (vgl. 2 Sam. 7:13-14,16,19). Mettertyd het dit duidelik geword dat die
konings uit sy nageslag nie volle reg kon laat geskied aan die Dawid-ideaal nie,
en ná
die ballingskap het die mense al hoe meer begin uitsien na die Gesalfde uit
Dawid se nageslag wat nog sou kom. En toe die engel na Maria kom, het sy die
belofte ontvang dat daar Een sal kom om op die troon van Dawid te sit en dat
daar geen einde aan sy (Jesus Christus) se heerskappy sal wees nie (Luk.
1:32-33). Boonop gebruik die Vader dele uit Ps. 2 by die doop van die Here
Jesus toe Hy amptelik met sy bediening begin (Mk. 1:11). Dit word bevestig tydens
sy verheerliking op die berg (Mk. 9:7). En in Handelinge (Hand. 4:25; 13:33) en
Hebreërs en Johannes (Hebr. 1:5; 5:5; vgl. 1 Joh. 5:9) hoor ons verdere
bevestiging. Daarom kan ons nou ook waardeer dat die geskiedkundige ontstaan in
die beloftes aan Dawid, en die vervulling daarvan In Jesus Christus, nie los
van mekaar staan nie. Dit help ons om die bevredigende antwoord te gee op die
vraag van die Here Jesus aan die Skrifgeleerdes in Jerusalem, net voor sy kruisiging:
“Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?" (Mt. 22:42). Ja, Hy is
Dawid se Seun, maar ook die eniggebore Seun van die Vader en die Messias wat
sou kom om ons te verlos en te lei.
Die boek Openbaring bevestig verder
ook dat ons in Psalm 2 met ’n Christologiese interpretasie van die geskiedenis
te make het. Christus, ons Koning, is die sin van die geskiedenis. Ons hoor van
oproer en opstand en sameswering, maar ons verneem ook van sy toorn. Ons verneem
van politieke magte (Op. 19:19), maar ons verneem ook van sy ystersepter (Op.
2:27; 12:5; 19:15) en ons verneem van die groot oorwinning en dat almal
welgeluksalig is wat by Hom skuil. Die lewe is nie maklik nie en vol uitdagings
aangesien daar diegene is wat Christus se sagte juk as hard beskou, dit wil
afruk, en selfs sameswerings smee om self die troon te bestyg. Dit is egter
nietig, net soos die bravade van afgode nietig is. In moeilike tye wanneer
mense kort-kort die einde voorspel, moet ons versigtig wees om nie meer eer aan
sameswerings te gee as aan God en sy Gesalfde nie. Intussen word alle rebelle,
ook onder konings en regters, opgeroep (in die krag van die Heilige Gees) om
verstandig te wees, opstandige planne te laat vaar, en versoening te soek met
die Seun. Hy is die Welgeluksalige by wie ons kan skuil om self ook welgeluksalig
te wees.
Werke geraadpleeg
John Gill
Matthew
Henry
Jason
Byassee, Brazos Kommentaar
Geoffrey
Grogan, Psalms
Walter
Brueggemann, Psalms
AB Simpson, Christ in the Psalms
Notas: John Gill verduidelik in Hand 13:33 hoe Ps. 2:7 tog van toepassing kan wees op Christus wat ewig is: "but the reason why these words are applied to the resurrection of Christ, allowing them to be so, is not because he was then begotten as the Son of God, but because he was then manifested to be the eternally begotten Son of God; things are said to be, when they are only manifested to be; so Christ is said to be that day begotten, because he was "declared to be the Son of God with power, by the resurrection from the dead", Rom 1:4 Hence these words are applicable to any time or thing wherein Christ is manifested to be the only begotten Son of God, and accordingly are applied to different times and things; see Heb 1:3."
Matthew Henry verduidelik dieselfde saak by Hand. 13:33 so: "When his eternal generation is spoken of, it is not improper to say, This day have I begotten thee; for from everlasting to everlasting is with God as it were one and the same eternal day. Yet it may also be accommodated to his resurrection, in a subordinate sense, “This day have I made it to appear that I have begotten thee, and this day have I begotten all that are given to thee;” for it is said (1Pe 1:3) that the God and Father of our Lord Jesus Christ, as our God and Father, hath begotten us again to a lively hope, by the resurrection of Jesus Christ from the dead."