Gedagte vir kinders: Daar is ’n groot verskil tussen
ware en valse godsdiens.
Oorsig: Jesaja vertel dat die Here hom geroep het om hard, uit die keel uit (volle bors- NAB), te roep en niks terug te hou nie. Hy moes sy stem soos ’n basuin (ramshoring) verhef en dit behoorlik laat hoor. Hy moes aan God se volk hulle oortredings en sonde verkondig (v.1). Hulle was wel vol van godsdienstige dade. Hulle het skynbaar (1) die Here elke dag gesoek, (2) graag kennis van sy wil opgedoen, net soos (3) ’n nasie wat geregtigheid doen (4) en die reg van God nie verlaat het nie, en (5) wat vra na sy verordeninge. Ja, hulle het (6) graag genader tot God (v.2). En tog het hulle beleef dat die Here hulle nie raaksien nie, en dit terwyl hulle gevas het en bekommerd was. Die probleem was hulle motiewe en dade. Hulle het in hulle vas geleentheid gesoek om sake te doen, arbeiders vermoei, getwis en selfs met die vuiste geslaan. Hulle vas was nie bedoel om hulle stem in die hoogte te laat hoor nie (v.3-4).
Die Here verduidelik dan dat vas nie bedoel is om jou bloot te
kwel en jou hoof te buig en in sak en as te gaan sit nie (v.5). Nee, dit gaan
eerder daaroor dat die boeie van goddeloosheid losgemaak, verdruktes se juk afgehaal,
en elke slawejuk permanent stukkend gebreek word (v.6). Positief gaan dit om honger
mense te voed, arm en daklose mense blyplek te gee, en mense sonder klere te klee
en jou eie mense se nood raak te sien (v.7). Dit is ware godsdiens en daarmee word
beloftes gegee: (1) ’n Nuwe begin (lig wat soos son deurbreek), (2) skielike genesing,
en (3) die Here se geregtigheid en heerlikheid voor en agter jou (v.8). Jy beleef
(4) gebedsbeantwoording en (5) dat die Here duidelik lei. Dit alles gebeur waar
verdrukking, vingerwys en leuens ophou en minderbevoorregtes gehelp word. (6) Lig
skyn oor jou (v.9-10). (7) Die Here lei jou en versadig jou siel in dor plekke
en (8) maak jou gebeente sterk. Jy is (9) ’n goed besproeide tuin en (10) standhoudende
fontein (v.11). Diegene wat uit jou voorkom, sal (11) ou puinhope herbou, jy sal (12) ou
fondamente van vorige geslagte oprig, en jy sal genoem word: Herbouer en
hersteller van mure en paaie sodat daar gewoon kan word (v.12).
So ’n lewe gaan ook saam met verlustiging in die Sabbat. Dit
beteken dat jy nie die fokus van aanbidding wegneem deur gewone sake nie, die
dag hoog hou, nie jou gewone gang gaan of geleentheid daarvoor soek nie, en nie
onvanpaste taal spreek nie. Jy gebruik die dag positief om jou te verlustig in God
en beleef so dat jy opgehef word om uit te styg en die erfdeel van en beloftes
aan Jakob geniet. Die Here bevestig ook self sy beloftes hieroor (v.13-14).
Besprekingsvraag: Wat is die tekens hier van valse godsdiens teenoor ware
godsdiens?
Insig: Die gedaante van godsaligheid (2 Tim. 3:5) is so skrikwekkend
leeg – net ’n uiterlike doppie wat vinnig sal kraak. Ons word opgeroep om ondersoek
in te stel na moontlike Fariseër-gedrag wat hierdie gedaante voed: Binne die
verbond met vaste kerkgewoontes en tog steeds met jou hart weg van God af (vgl.
Mt. 15:7-8; Jes. 29:12). Ons Skrifgedeelte wys op drie seine van valse godsdiens.
Daar is (1) ’n soort godsdienstigheid, selfkastyding, selfmisgunnende vas wat steeds
nie op God gerig is om die stem in die hoogte te laat hoor nie (vgl. Mt. 6:2-4;
16-18). Dit kom (2) ook na vore in die wyse waarop ons ons medemens hanteer,
veral hulle wat onder jou gestel is. In ’n gekerstende omgewing moet ons steeds
waak teen ’n soort verburgerliking van die godsdiens wat net uiterlik is, maar
wat waarheid wys wanneer ons onderlinge sake doen nie. Dan verloor Kerk en Volk
die innerlike krag. Die derde sein is wanneer
ons aanhoudend beleef dat die Here ons nie raaksien en ons gebede verhoor nie. Ongelukkig
kan ons so doof wees dat die profetiese amp uit volle bors moet roep en
konfronteer. Dan moet ons hoor: Dit kan ook ’n tipe dwelm wees om naby die kerk
en sy aktiwiteite te wees, maar sonder vrug of gees (vgl. Jak. 2:26). Dan ontwikkel
ons ook ’n verkeerde siening van God en godsdiens (Godsbeeld en godsdiensbeeld).
Hierdie volk het eintlik heidense beeld van God - asof Hy suinig is en jy
jouself eers moet pynig om so sy arm te draai of manipuleer om tog ietsie vir jou
te gee, en dan hoor Hy nog nie. En so verval ons hele godsdiens in dwaling.
Jesaja kontrasteer egter duidelik ’n
godsdienstige vas sonder vreugde met die ware godsdiens van verlustiging. Die
beloftes is so heerlik vir elkeen wat die vermaning hier hoor en tot God nader met
die bedoeling om verlustiging in Hom en sy bevryding en wil te vind en dit ook
na jou medemens toe uit te leef. Egte aanbidding van God en aktiewe
geregtigheid en barmhartigheid teenoor ons medemens gaan altyd saam. Dit staan
in die teken van die jubeljaar in die Ou Testament wanneer alle skuld afgeskryf
is en God se bevryding op besondere wyse uitgeleef is (Lev. 25:8-55). Dit wys heen
na Christus wat die groot bevryding in ons lewe ingebring het en laat ons besef
dat dit net vir ons blywend kan waar wees omdat Christus die ware godsdiens in
ons plek uitgeleef en vir ons gebrek aan ware godsdiens versoening gedoen het. In
Hom het die lig opgegaan en het die herbouing van die puinhope, ook van my en
jou, begin. In Hom kan die heerlike beloftes van ware godsdiens en lig en
vryheid en vreugde en verlustiging en verhoring van gebede en oorwinning in ons
waar word.
Laat ons dan in Hom tot God nader
om ons stem in die hoogste ter laat hoor, en sy reg en barmhartigheid aan die wêreld
weerkaats. Dit is die heerlike erfdeel van die Kerk as sy liggaam. So
kan die Kerk weer soos ’n stad op ’n berg wees. So kan mense ook begeer om met ons saam te gaan omdat hulle sien dat die Here
met ons is en dat die krag van godsaligheid ’n werklikheid is.
Werke geraadpleeg:
Tim
Chester, Isaiah for You.
J. Alec
Motyer, Isaiah, Tyndale Old Testament Commentaries
Paul D
Wegner, Isaiah, TOTC.
John N
Oswalt, NIV Application.
John
Bergsma, The Word of the Lord. Year A.
Matthew Henry.