Gedagte vir kinders: Dit is wonderlik om deur God se Woord gevoed en
gelei te word
Oorsig: Ps. 119 gaan oor iemand wat liries is oor God se wet (torah - onderrigting) en daaroor in gesprek is met die Gewer daarvan. Dit is gerangskik aan die hand van die 22 letters van die Hebreeuse alfabet en elke letter van die alfabet het dan agt verse wat met daardie letter in die Hebreeus begin om te praat met God oor sy wet. Dit gaan dus in ons taal oor die A tot Z van God se wet, in gebed. Deur die eeue het mense dikwels gemaak asof God se wet net veroordelend is en dat daar min vreugde te vind is in die God van die Ou Testament en in sy wet. Soos die boek Hooglied, maak ook Psalm 119 dit duidelik dat dit ’n totaal verkeerde siening is. Hier is belydenis, maar ook verlustiging in die oortreffende trap oor God se wet. Want torah gaan eintlik oor God se omvattende onderrigting aan Israel.
Ons lees in vers 1 dat opregtes van weg, soos in Ps. 1, beskryf word as welgeluksalig, en dat hulle in die wet (torah) van die Here wandel – dus ’n hele manier van lewe (wandel). Die beskrywing van sulke mense word dan uitgebrei en hulle word ook beskryf as hulle wat sy getuienisse (edot – statute) bewaar en Hom van ganser harte soek (v.2). Hulle soek dus die Here self deur sy Woord en kyk nie bloot vas na die Woord nie. Hulle word ook verder beskrywe as diegene wat (negatief gestel) geen onreg (ongeregtigheid) doen nie, maar (positief gestel) in sy weë wandel (v.3 – vgl. v. 1).
Die Psalmis gaan hierna voort om met die Here te praat. Hy erken dat God
sy bevele (piqqudim - voorskrifte) gegee het om dit trou (met
getrouheid) te onderhou (v.4). Maar dan maak hy ’n uitroepende wens. Was sy weg
maar vas om God se insettinge (choqim - dekrete) te onderhou. Dan sou hy
nie beskaamd gestaan het as hy op al God
se gebooie (mitsvot - bevele) let nie (v.6). Hy stel verder dat Hy God ook
(positief) sal loof met ’n opregte hart as hy God se regverdige bepalinge
(verordeninge/oordele - mishpatim) leer. En dan erken hy dat hy dit nie
kan doen sonder God se nabyheid en genade nie. Hy spreek die voorneme uit dat
hy God se insettinge (choqim- dekrete) sal onderhou, en vra dat God hom
nooit (geheel en al) sal verlaat nie. Wanneer ons die res van die Psalm lees
sien ons dat die volgende woorde ook saam met bogenoemde verskillende woorde gebruik
word om God se wet te beskrywe: Woord (dabar) en Woord/belofte (imra).
Daar is dus altesaam agt verskillende woorde en in vyf groeperings van Ps. 119 word
al agt soorte beskrywings gebruik, maar elke groepering gebruik ten minste
telkens, soos hier, ses van hierdie beskrywings.
Besprekingsvraag: Is God se wet nog nodig vir Christene as hulle nie onder die wet is nie?
Insig: Ps. 119 word geplaas tussen die Hallel-psalms (113-118) wat veral
met Paasfees, en die bedevaartsliedere (120-134) wat veral met die Huttefees in
verband staan. Die fees tussen Paasfees en die Huttefees is Pinkster (Lev.23)
en Ps. 119 staan inderdaad met Pinkster in verband. Wanneer ons besef dat
Pinkster 50 dae na Paasfees is en dat die Israeliete ongeveer 50 dae na
Paasfees by Sinai was (vgl. Ex.19:1), besef ons dat Pinkster en die wet nog
altyd noue bande gehad het. Pinksterfees beteken vir Christene dat die wet van
God in hulle harte vreugdevol brand – ’n baie gepaste beskrywing van Ps. 119. Daarom
is Ps. 119 steeds kosbaar, omdat ons dit nou in Christus en die Gees as mense van die nuwe verbond lees. Die wet
is in Christus nie opgehef nie, maar vervul. Dit staan in die nuwe verbond
geskrywe in gelowiges se harte (Jer. 31:33). Dit is die enigste manier hoe ons
waarlik opregtes van weg kan word wat van binne uit in die wet van die Here
wandel en Hom van ganser harte soek. Sulke mense se harte resoneer daarom steeds
wanneer hulle God se wet ekstern, buite hulleself, hoor.
Hierdie resonansie word versterk wanneer die verskillende kleure van die
lig van God se Woord ons deurstraal. Die bedoeling is dat al die skakeringe van die Woord ons soos 'n vloedgolf sal tref en dat ons van Woord-dinamika deurdronge sal wees. Die wet (torah) gaan oor God se omvattende
onderrigting (vgl. Joh:15:25) tot seën en dit verander ons na binne (opreg) en
na buite (wandel – vgl. v.1). Sy getuienisse (edot – statute) dui op sy Wese
en is bedoel dat ons Homself van harte daardeur sal soek (v.2). Sy bevele (piqqudim)
gaan oor definitiewe, dog wyse voorskrifte, wat ons menswees en behoeftes ken.
Dit wek vertroue en roep getroue onderhouding by ons op (v.4). Insettinge (choqim
- dekrete) gaan oor die vastheid en permanensie van God se wil en roep
sekerheid by ons op. God se gebooie (mitsvot - bevele) dui op volle gesag
en vra respek en gehoorsaamheid. Sy verordeninge (ordinansies/oordele - mishpatim)
dui op sy opdragte en oordele by ongehoorsaamheid. Sy Woord (dabar) en
Woord/belofte (imra) dui op sy Openbaring in enige formaat, die skeppende
krag daarvan, en dat dit die toekoms oopmaak. Daarom is hier sprake van klaagliedere
oor sonde, maar ook jubeling oor God se
openbaring.
In die eerste agt verse is daar ’n dalend-stygende lyn te bespeur. Dit
toon ons die weg na die geseënde lewe met God deur sy Woord: (1) Erken en sien
en begeer dat die welgeluksalige lewe langs die weg van God se wet gebeur
(v.1-3). (2) Erken jou eie tekortkominge en swakheid (v.4-6). (3) Kyk dan weer
na die lieflikheid van God se Woord (v.7) en (4) verbind jou daaraan terwyl jy, soos Spurgeon dit stel, God in Christus om sy vuur aanroep (v.8). Want Jesus Christus is die doel van
die wet en Hy is die ook Welgeluksalige wat reeds in ons plek hierdie weg van
God gestap het. In Hom kan ons nou met brandende harte die salige weg van die
Woord bewandel.
Werke geraadpleeg
John Gill
Matthew Henry
Jason Byassee, Brazos Kommentaar
Geoffrey Grogan, Psalms
Derek Kidner, Psalms
Walter Brueggemann, Psalms
Spurgeon, Treasury of David
Tim en Kathy Keller, The Songs of Jesus
Trevor Laurence oor die verband tussen Pinkster en Sinaï, by https://cateclesia.com/2020/05/27/pentecost-sinai-and-gods-harvest/
PS: Vir ’n
vergelyking tussen die gang van vers 1-8 met elemente wat in die mistieke
tradisie gevolg word, waarskynlik ook na aanleiding van gedeeltes soos hierdie,
vgl. Jason Baxter in An Introduction to Christian Mysticism, p. 140-141. Baxter
se verwysing daar na lectio, meditatio,
oratio, en contemplatio kom baie
ooreen met die gang van hierdie eerste agt verse hier.
Let ook daarop dat Lutherane uit die skolastieke tradsie in dispuut is met radikale Lutherane oor die wet se derde funksie. Skolastieke Lutherane is van mening dat daar onderskei met word tussen die wese van die wet en die funksie van die wet. Daar is wel die aanklagende funksie van die wet, maar die wese van die wet is groter en daarom kan ook Lutherane aan die wet as lieflike lering en regulering van dankbaarheid vashou.
Responsoriese
Psalm
Psalm 119:1-2,
4-5, 17-18, 33-34
R: Welgeluksalig is die opregtes wat in die
wet van die HERE wandel!
Ps 119:1 Welgeluksalig is die opregtes
van weg, wat in die wet van die HERE wandel.
Ps 119:2 Welgeluksalig is die wat sy
getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek;
R: Welgeluksalig is die opregtes wat in die
wet van die HERE wandel!
Ps 119:4 U het u bevele gegee om dit
trou te onderhou.
Ps 119:5 Ag, was my weë maar vas om u
insettinge te onderhou!
R: Welgeluksalig is die opregtes wat in die
wet van die HERE wandel!
Ps 119:17 Doen goed aan u kneg, sodat ek
kan lewe; dan wil ek u woord bewaar.
Ps 119:18 Open my oë, dat ek kan sien
die wonders uit u wet.
R: Welgeluksalig is die opregtes wat in die
wet van die HERE wandel!
Ps 119:33 HERE, leer my die weg van u
insettinge, sodat ek dit tot die einde toe kan bewaar.
Ps 119:34 Gee my verstand, dat ek u wet
kan bewaar, ja, dit kan onderhou van ganser harte.
R: Welgeluksalig is die opregtes wat in die
wet van die HERE wandel!