Gedagte vir kinders: Die God wat jou roep om Hom te
volg, gee wonderlike beloftes.
Oorsig: In Genesis 11 lees ons van mense wat vir hulleself ’n naam wou maak met hulle groot projek met die toring van Babel. Die Here het hulle geoordeel deur hulle tale te verwar en toe het die geslagte oor die hele aarde versprei. Ons hoor dan hierna van die stamboom van Sem. Uit hierdie stamboom is Abraham gebore en deur Hom sou die HERE sy plan vir die wêreld in werking stel en wys hoe Hy ’n naam aan iemand gee. Ja, ’n groot naam sou nie gebeur omdat mense dit vir hulleself wou maak nie, maar op die weg wat God daarvoor bepaal het. Deur die martelaar, Stefanus, weet ons dat hierdie besondere pad wat God met die wêreld sou stap deur die volk Israel tot by die Messias, begin het toe God aan Abram verskyn het toe hy in Mesopotamië, in die land van die Chaldeërs, gebly het (Hand. 7:2, 4).
Die Here het hom geroep en gesê om uit sy land, familie en sy vader se huis te
gaan na die land wat die Here vir hom sou wys (v.1). Saam met hierdie geweldige roeping,
het die Here ook besondere beloftes gemaak. Hy het gesê (1) dat Hy Abram ’n
groot nasie sal maak en seën. Hy sou ook (2) Abram se naam so groot maak dat hy
’n seën vir ander sou wees (v.2). Die HERE het verder onderneem om (3) hulle te seën
wat Abram sou seën, en elkeen te vervloek wat hom sou vervloek. Hy het nog verder
bygevoeg dat (4) in Abram al die geslagte van die aarde geseën sou word (v.3). Dit
sou gebeur omdat die Messias uit sy nageslag (Gal. 3:14) sou kom.
Uit Gen. 11:31 lei ons af dat Abraham se vader, Tera,
aanvanklik saam gegaan het tot by Haran, en daar het hy gesterwe. Maar in
Hoofstuk 12 lees ons dat Abraham ook daar uit Haran weggetrek het soos die Here
gesê het (v.4). Sy gestorwe broer se seun, Lot, het saam met hom getrek en
Abram was 75 jaar oud toe hy uit Haran vertrek het, tesame met sy vrou Sarai wat 65/66 jaar oud was (vgl. Gen. 17:1,17). Hulle het al hulle besittings en slawe wat
hulle in Haran bymekaar gemaak het, geneem en
getrek en in die land Kanaän gekom (v. 5). Abraham het tot by Sigem
getrek by die terpentynboom wat More genome word en tussen die Kanaäniete gaan
woon (v.6). Daar het die HERE weer aan Abraham verskyn en gesê dat Hy aan sy nageslag
die land sou gee. Toe het Abram daar ’n altaar vir die HERE gebou wat daar aan
hom verskyn het (v.7). Hy het daarvandaan ook verder suid getrek en oos van
Bet-el tent opgeslaan tussen Betel en Ai
(v.8). Ook daar het hy vir die HERE ’n altaar gebou en die Naam van die HERE
aangeroep. Daarna het hy al verder na die Suidland weggetrek (v.9).
Besprekingsvraag: Hoe troos God se beloftes ons wanneer die geloofspad moeilik raak?
Insig: Die geseënde weg op aarde,
loop nie langs Babelse projekte (mikro of makro-skaal) waar jy alleen of saam
met ander, naam probeer maak nie. Nee, die geseënde weg is die pad waar God op
sy voorwaardes seën bewerk wat bedoel is vir al die geslagte van die aarde. Die
roeping van Abram was die begin daarvan en loop deur Israel. Die belofte aan
hom bevat reeds in sy kern die Mosaïese verbond (groot nasie - Ex.19-24), die
Dawidiese verbond (groot naam - 2 Sam. 7:9; Ps. 89:3-4; 132:11-12), en die nuwe
verbond (al die geslagte van die aarde -
Mt. 1:1; Hand. 3:25-26; Gal. 3:14). Die roeping en beloftes aan Abram
verteenwoordig dus die weg van ware godsdiens en die verbonde waarin die geloof
rein bewaar is totdat die Messias sou kom. En deur die Messias sou die nuwe
verbond na al die nasies oopbreek met Abraham nou die vader van alle gelowiges
(geseëndes) van alle tye (Gal. 3:29; Rom. 4:11-12).
God se openbaring in Israel moet daarom nie gering geskat word
nie. Dit gaan oor God se definitiewe openbaring te midde van soveel afgodery en
verdraaiing. Abraham word uit hierdie afgodery geroep (vgl. Josua 24:2) en hy
word geleidelik van land, familie en vader se huis gespeen. Dit gebeur nie
oombliklik nie. Abraham moet geduldig die weg stap totdat sy vader dood is en
Lot ook ander keuses maak, en ook die geboorte van ’n eie seun uitbly. Maar hy
plant sy geloofsvlag tog reeds berekend in die middel van die beloofde land in
Sigem. Dit was tussen die berge Ebal en Gerísim , die plek waar beslissings oor seën en vloek later gemaak
sou word (Deut. 11:29,30). Daar sou Joshua ook later sy oproep maak om te kies wie
om te dien (Jos. 24), en daar sou Salomo se koninkryk tragies in twee verdeel
(1 Kon. 12). En Abraham bou daar en elders reeds altare, sy groot nalatenskap.
Dit verteenwoordig openbare aanbidding van die lewende God en vandag is kerkgeboue
steeds veronderstel om sulke openbare simbole te wees – simbole van aanbidding
van die lewende God teenoor afgode.
Abraham verteenwoordig die avontuur van die geloof waar ons
God se pad van seën volg. Die Kerk mag saam met Abraham daarop reken dat hul vyande
nie sal standhou nie, en mag ook nou ’n seën vir die nasies wees. Abraham gehoorsaam
deur die geloof en is reeds in sy tyd seën vir die nasies (vgl. Gen.14,18), maar
uiteindelik word die seën onmeetbaar in Christus wat uit sy nageslag gebore is
as die Seun wat voorsien is in ons plek (vgl. Gen. 22). Die Kerk is volledig gegrond
in hierdie seën van Hom wat gekom het om ons in sy groot Naam te laat deel. Die
Kerk as die liggaam van Christus is nou die besondere kanaal van seën aan die
nasies.
Werke geraadpleeg
John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.
Brueggemann,
W. Genesis: Interpretation, A Bible Commentary for Teaching and Preaching. (Brueggemann se nadenke aan
die einde oor insluiting en uitsluiting wat mekaar veronderstel is die moeite
werd om oor verder te besin.)
Meredith Kline, Genesis: A New
Commentary
AB Simpson, Christ in Genesis. (Simpson
se uitleg van die uniekheid van Israel se roeping deur hul vader Abraham, is
die moeite werd om na te gaan.)
Rushdoony,
RJ. Genesis: Commentary on the Pentateuch.
Kidner,
D. Kidner Classic Commentaries.
Ignatius
Catholic Study Bible, The Book of Genesis.
Peter Leithart (aanhaling êrens): Die wêreld is nie gered toe God Abraham gekies het nie. Maar toe God Abraham gekies het, was redding net 'n kwessie van tyd.