Gedagte vir kinders: Die Here kan in moeilike
omstandighede wonderlike uitkoms bring.
Oorsig: Nadat Moses die volk Israel deur die Rooi See gelei het, het
die Here hulle begin beproef. Hulle was wel gered uit Egipte, maar in die skool
van die woestyn moes hulle geloof nog baie gesuiwer word. Ons lees net na die
wonderlike verlossing by die Rooi See en die bevestiging dat God self stry vir
sy volk en dat Moses waarlik sy kneg is, dat die volk gou ongelowig raak by die
eerste krisis. By Mara is die water bitter (Ex. 15:22-27). Later raak hulle
honger (Ex. 16:1-36), en toe hulle by Rafidim op bevel van die Here kom, die
gedeelte wat ons vandag lees (Ex. 17:1-7), was daar geen water om te drink nie
(v.1).
In plaas daarvan dat die volk in die geloof hierop reageer,
twis die volk toe met Moses. Hulle eis toe dat Moses en die ander leiers vir
hulle water moet gee om te drink. Moses het hulle toe gevra waarom hulle met
hom twis. Dit was mos die HERE wat hulle tot daar gelei het, en waarom wou
hulle dan die HERE versoek, met ander woorde op hulle voorwaardes toets asof Hy
Homself nie genoeg bewys het nie (v.2). Maar die volk het sterk gesug (gesmag)
na water en daarmee saam teen Moses gemurmureer (“gemoan”). Hulle het gevra
waarom Moses hulle dan uit Egipte uitgelei het om hulle, hul kinders en hul
vee, van dors te laat omkom (v.3).
Moses het toe die HERE aangeroep. Hy het gevra wat hy met die volk moet doen, want hulle was op die punt om hom te stenig (v.4). Die HERE het toe vir Moses geantwoord dat hy voor die volk moes uittrek en van die oudstes in Israel moes saamneem. Hy moes ook sy staf neem waarmee hy die Nyl geslaan het (v.5). Die Here het gesê dat Hy daar by die rots op Horeb sou wees en daar moes Moses met sy staf op die rots slaan. Dan sou daar water uitkom sodat die volk kon drink. Moses het toe so gedoen voor die oë van die oudstes van Israel (v.6). Ons lees in die Psalms dat daar behoorlik water uitgestroom het: “Hy het 'n rots oopgemaak, en waters het gevloei; dit het geloop deur die dor plekke - 'n rivier!” (Ps.105:41) “Hy het rotse gekloof in die woestyn en hulle oorvloedig laat drink soos uit watervloede ... soos riviere.” (Ps. 78:15-16). Moses het daardie plek toe Massa (versoeking) en Meriba (twis) genoem omdat die kinders van Israel daar getwis het en omdat hulle die HERE versoek het (v.7). Hoe het hulle die HERE versoek? Deur te vra of die Hy werklik in hulle midde is. Ja, hierdie plekke moes Israel herinner dat hulle die Here versoek het terwyl Hy soveel wonders aan hulle in Egipte en by die Rooi See en ook daarna gedoen het. En tog was die HERE hulle genadig.
Besprekingsvraag: Waarom kan Paulus in 1 Kor. 10:4 sê dat die rots heenwys na Christus?
Insig: Ons is maar maklik net soos Israel
- die een oomblik jubelend oor God se groot dade, en die volgende oomblik
murmurerend by die eerste groot uitdaging. Die dors brand hier en emosies wat hande
uitruk kom maklik hiermee saam. Basiese behoeftes soos honger en dors kan ons
vinnig intens en vol eise maak. En ’n sekere aanname vererger dit verder:
Waarom moet verlostes van God dikwels soveel uitdagings hê? So asof alles in ’n
verloste mens se lewe glad moet verloop – net teerpad sonder slaggate hemel
toe. Maar die God wat wonderwerke in Egipte en by die Rooi See verrig het, laat
sy kinders ook deur herhalende beproewings gaan om hulle te suiwer van Egipte. Ouers
behoort ook hieruit iets te leer oor kinders wat te gemaklik grootword. Daar is
baie meer heiliging nodig in ons lewe as wat ons wil erken.
Waarvan moet ons gesuiwer word? Van funksionele ateïsme. Ons
kan sê ons glo, maar as ons by die eerste opdraande twyfel of God in ons midde
is, tree ons nie waardig ons roeping op nie. Ons moet ook gesuiwer word van
eiebelang wat net nie verder as ons eie nood kan kyk en God se groter plan met
ons en die wêreld sien nie. Ons moet ook gesuiwer word van twis en sondebokke
soek op ander plekke as ons eie sonde. Positief gestel, ons moet daarin groei
om God se teenwoordigheid, sy voorsienigheid, sy beloftes, midde ons
omstandighede te glo en uit te leef. Dan gaan ons meer soos Moses as die volk
na God, met nood, sonder houding.
Moses wys hierin vooruit na Christus. Ja, die hele gedeelte
spreek van Hom. Want ons het iemand nodig wat vir Israel en ons kan intree
omdat Hy die pad van beproewing en versoeking gestap en vir ons oorwin het. Christus
eer die waarskuwende Woord oor versoeking en weerstaan die satan wanneer hy Hom
wil aanhits om God te beproef (vgl. Deut. 6:16; Mt. 4:6-7). Christus is soveel meer
as Moses. Hy gee meer as manna - Hy word die Brood van die lewe (vgl. Joh. 6).
Hy gee meer as water – Hy word die Rots wat vir ons geslaan is en ons drink
almal nou nog uit die lewende water van sy Gees wat uit Hom stroom (1 Kor. 10:1,4).
Hoe kan water uit ’n rots op Christus wys? Omdat alles in Christus verbind is,
en omdat die strome water uit die rots groter en heerliker was as wat ons besef
(vgl. Deut. 32:13; Ps. 78:15-16; 84:6; 105:41; Jes. 43:20). En Christus is nog
heerliker - die bron van die Kerk se lewe. Moses se staf van oordeel word
gebruik om sondaars se dors te les. So kan die oordeel wat oor Christus gegaan
het ook ons dieper dors steeds les. Daarom moet ons vandag as ons sy stem hoor,
die harte nie verhard nie, maar ons eerder beywer om in sy rus in te gaan (Ps.
95:7-11; Hebr. 4:6-13).
Werke geraadpleeg
Matthew Henry
John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.
A.B. Simpson, Christ in Exodus.
Rushdoony,
RJ. Exodus: Commentaries on the Pentateuch, Volume 2.
Tony
Merida, Exalting Jesus in Exodus: Christ Centered Exposition.
Michael
Morales, Exodus Old and New: A Biblical Theology of Redemption.