Lees:
Luk. 13:18-35
Gedagte vir kinders: Jesus Christus roep elkeen persoonlik om
op sy roepstem te antwoord.
Oorsig: Die Here Jesus was op pad na
Jerusalem waar Hy deur sy sterwe en opstanding sou seker maak dat die koninkryk
van God in mense se lewens ’n werklikheid word. Om iets hiervan te verduidelik,
het Hy onder meer die gelykenisse van die mosterdsaad en die suurdeeg vertel
(Luk. 13:18-21; vgl. Mt.13:31-33). Hierdie gelykenisse gaan daaroor dat die
skynbare klein begin van God se koninkryk uitbrei tot iets baie groot. By die
mosterdsaad gaan dit spesifiek oor hoe groot en wyd dit uitbrei en by die
suurdeeg hoe diep dit inwerk in alles.
In daardie
tyd het iemand vir Christus ook gevra of die wat gered word, min is (v.22-23).
Die Here Jesus het nie direk op hierdie vraag geantwoord nie, waarskynlik omdat
ons so maklik daaroor kan praat asof dit net ’n syfer is. Hy het eerder
geantwoord dat hulle elkeen self hard moes stry om in te gaan (v.24). Dit
beteken nie dat hulle moes werk vir hulle verlossing nie, maar wel om moeite
maak om God se weg van verlossing te waardeer. Hulle moes dit doen op ’n wyse dat
hulle nie bloot weet van Christus nie, maar so dat Hy, die eienaar van die
huis, hulle sou ken as deel van sy eregaste (v.25). Die Here Jesus verduidelik dan
dat dit nie genoeg was dat hulle selfs in sy teenwoordigheid geëet en gedrink
het nie. Dit gaan daaroor of Hy hulle ken omdat Hy in ’n egte verhouding met
hulle is. Anders is hulle, selfs naby aan Hom, steeds werkers van
ongeregtigheid (v.27). Die smart sal vir sulke mense baie wees wanneer hulle
hul bekende voorvaders en profete in die koninkryk sien, maar self uitgedryf
buite toe. Meer nog, allerhande mense sal uit alle oorde van die aarde kom en
wel aansit in die koninkryk. Maar hulle moes weet dat die gangbare verwagtinge
omgekeer sal word (v.28-30.)
Die Fariseërs het toe na Jesus gekom en Hom gewaarsku om daar te vertrek omdat Herodus Antipas Hom wou doodmaak (v.31). Die Here Jesus het egter geantwoord dat Hy sy werk van duiwels uitdryf en genesing sou klaarmaak en dat Hy wel sou vertrek na Jerusalem om daar te sterf, soos dit met baie profete die geval was (v.32-33). Hy het deur die verwysing na drie dae ook reeds gesinspeel op sy opstanding uit die dood. Hierna het Hy getreur oor Jerusalem en twee keer die naam uitgeroep. Hy wou Jerusalem met sorg bymekaar maak soos ’n hen haar kuikens, maar hulle wou nie (v.34; vgl. Dt. 32:11; Rut 2:12; Jes. 31:5). Die gevolg hiervan sou wees dat die tempel verwoes sou word.
Daar sal egter ’n dag kom wat hulle Hom die woorde van Ps. 118:26 sal toeroep: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here (v.35).
Besprekingsvraag: Wat is die diepste rede hier vir Jerusalem
se oordeel?
Insig: Die koninkryk van God word nie
sigbaar op die wyse wat die Jode of ons dit dikwels verwag nie, maar die
gelykenis van die mosterdsaad en suurdeeg bevestig dat die effekte daarvan oor
tyd heen geweldig is – ekstensief en intensief. Die boom met skuiling vir die voëls
herinner aan Nebukadneser se boom wat skuiling vir die nasies gebied het (vgl.
Dan. 4:10-12). God se werk deur Jesus Christus in Jerusalem (sy sterwe, opstanding,
hemelvaart) is geweldig. Ons sien vandag reeds duidelik die effek daarvan in
die uitbreiding van die Kerk oor die ganse aarde asook watter koninkrykswerk
daardeur aangevuur word. Wanneer ons ook hoor in v.26 van mense wat sal kom van
oos en wes en van noord en suid om aan te sit in die koninkryk van God, besef
ons dat ons nie klein moet dink oor God se werk in Christus op aarde nie.
En tog, te
midde van die groot werk moet ons ook die waarskuwing hier hoor. Jerusalem het
haar lank verwagte Messias nie herken nie. Jy kan nie maar net op hoorafstand
van Jesus Christus wees nie. Ons kan nie
maar gesus wees in die feit dat Jesus Christus se Naam selfs by ons eet en
drink-gewoontes genoem word nie. Ons moet Hom persoonlik ken. Dit beteken dat
Hy jou by jou Naam ken en jy dit erken. Dit beteken dat ons in die krag van die
Gees die saak met Hom persoonlik uitgemaak het en dat ons ons Heiland nie van
hoorsê ken nie. As ons iets hiervan wil leer, kan ons kyk hoe die aartsvaders
en die profete met God omgegaan en van Hom gepraat het, want ons hoor dat hulle
wel binne die koninkryk was (v.28).
Die
uitnodiging tot die bruilofsmaal van die Lam is groot en wyd, maar ons hoor ook
hier dat niemand sonder ’n bruilofskleed daar tuishoort nie (vgl. Mat.
22:1-14). Die koninkryk kom kragtig, maar nie sonder God wat roep en mense wat
wil nie. Die hart van Christus in die waarskuwing is merkwaardig. Dit is nie
dat Hy na sy mensheid op aarde nie wou bymekaar maak nie. Hy roep selfs twee
maal “Jerusalem” en dit herinner aan die Dawid wat sy seun Absolom se naam uitgeroep
het (2 Sam. 19:4). Daar is smart. Dit is nie dat Christus wíl oordeel nie. Die rede vir die oordeel
is duidelik: Hulle wou nie. Elders verklaar Christus dit ook uit ander hoek: Omdat
die Vader hulle nie getrek het nie (Joh. 6:44). Dit is deel van die misterie
van die uitverkiesende genade van God. Enersyds is dit so dat God gelowiges onweerstaanbaar
na Hom trek. Andersyds moet ons ferm stel dat ongelowiges nie wil of wou nie.
Niemand sal vir die God die skuld kan gee nie. Die uitnodiging is duidelik: “En
laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem,
verniet.” (Op. 22:17).
Werke geraadpleeg:
Bergsma, J.
The Word of the Lord. Year C.
Bock, D.L.
Luke: NIV Application Commentary.
France,
R.T. Luke: Teach the Text Series.
Sproul,
R.C. Luke: An Expositional Commentary.