“In werklikheid is daar net twee soorte mense; diegene wat dogma aanvaar en dit weet, en diegene wat dogma aanvaar en dit nie weet nie. – GK Chesterton
Ons het die vorige keer by oom Ches geleer dat daar romanse in die algemene en ontwyfelbare Christelike geloof is. In hierdie aflewering gaan ons net na 'n eerste lokprent oor oom Ches se voorwaardes vir romantiek kyk. Die eerste saak is so voor die hand liggend dat ons dit maklik kan mis. Dit is dat nie net die Credo nie, maar elke siening en elke filosofie ook op dogma van een of ander aard gebou is. Mense sê maklik dat hulle nou vry is van die dogma van die Kerk, maar oom Ches het nie hiervoor geval nie.
“In werklikheid is daar net twee soorte mense,” sê oom Ches: “diegene wat dogma aanvaar en dit weet, en diegene wat dogma aanvaar en dit nie weet nie.”[i] Op ’n ander plek sê hy in dieselfde trant: “Die spesiale kenmerk van die moderne wêreld is nie dat dit skepties is nie, maar dat dit dogmaties is sonder om dit te weet...Hulle vryheid bestaan daarin om eers vrylik ’n geloofsbelydenis aan te neem, en dan vrylik te vergeet dat hulle dit aanneem. Kortom, hulle het altyd 'n onbewuste dogma; en 'n onbewuste dogma is die definisie van 'n vooroordeel... hulle het nog altyd die einste feit of fantasie vergeet waarvan hul hele teorie afhang.”[ii]
Wanneer ’n mens oom Ches se hoofstuk 8 in sy boek Orthodoxy oor die romanse
van die geloof lees, is dit duidelik dat hy oortuig is dat die dogmas van moderne
filosofieë ware vryheid op die langtermyn aan bande lê. Oom Ches verhang die
bordjies en toon aan in watter onuitgespreekte dogma die twyfel dikwels groei. Hy
wys byvoorbeeld daarop dat iemand wat twyfel aan die bestaan aan God, se twyfel
maarnet in ’n ander dogma gegrond is wat hom nie toelaat om te glo nie: “Die
twyfel van die agnostikus was slegs die dogmas van die monis.”
Iemand soos die bekende Jordan Peterson illustreer hierdie geheime grond in
ons eie tyd ook betekenisvol wanneer hy die DIG-dogmas se bedekte fascisme
ontbloot (Die akroniem, DIG, staan vir diversiteit, inklusiwiteit en gelykheid
en word in Engels deur Peterson en ander teenstanders daarvan afgekort as DIE).
En omdat die nuwe dogmas nie werklik tot vryheid lei nie, kan dit daarom ook
nie ware romantiek aanmoedig nie. Die eerste voorwaarde wat oom Ches dus
aandui, is dat jy ’n dogma benodig wat ware romantiek kan laat gedy, ook op die
langtermyn. Oom Ches stel dit op teenoor mode-sienings met versteekte dogmas
wat tot in ons dag gewild is, maar reeds in sy tyd aanspraak gemaak het om ware
vryheid te bring. Hy gaan onder meer in op monisme en panteïsme, waarby ons nie
nou in diepte gaan stilstaan nie., maar wat baie nou aansluiting vind in
hedendaagse New-Age benaderings. Chesterton het toe alreeds aangetoon dat dit
juis die mode-sieninge is wat ware vryheid en romantiek inperk. Dit het oom
Ches egter ook uitgebring by die identifisering van die ruimte vir egte
romantiek.
Oom Ches voer aan dat die hele verskynsel van die roman juis aangevuur is
deur die vrymakende dogmas van die Christelike geloof. Want, sê oom Ches
opgesom in eie taal, hier word nog geglo dat daar 'n wonderlike werklikheid met
’n wonderlike verhaal van die lewende God buite onsself is. Dit gaan oor Hom wat
self in ons geskiedenis verlossend ingekom het. Dit veroorsaak glinsterende oë
by die heiliges, al is die liggaam ook uitgeteer, omdat daar ’n daadwerklike
wegkyk van die self is om die verlossing buite jouself in God en sy dade en
woorde te vind, saam met soveel ander mense. Die ander mense is ook interessante
mense wat glad nie soos jyself is nie. En bo alles kan jy in verwondering wees
oor die God wat nie net heel anders as jy is nie, maar die Gans Andere wat ons
tog deur sy Seun en sy Gees in sy gemeenskap van liefde intrek.
Oom Ches is van mening dat dit juis die dogmas van die Christelike geloof is
wat ware vryheid en romantiek bring. Om die waarheid te se, hy is van mening
dat dit juis die robuuste handhawing van hierdie dogmas is wat al die kleur
veroorsaak. Net in sy vorige hoofstuk, voordat oom Ches voluit ingaan op die
romanse van die geloof, het hy reeds hierop begin sinspeel. Hy wys daarop egte romanse saamhang
met keuses waarin ewige konsekwensies opgesluit lê. Dink maar in ons eie tyd
net weer aan daardie bekende uitspraak van generaal Maximus aan die begin van die film, Gladiator: “Wat
ons in lewe doen, eggo in die ewigheid.” Werklike drama en werklike romanse kan
nie daarsonder nie. Mense wat die werklikheid van die verbond hoog ag, behoort Oom
Ches toe te kan gee as hy dit so verduidelik:
“En die gevare, belonings, strawwe en vervullings van 'n avontuur moet
werklik wees, of die avontuur is net 'n verskuiwende en hartelose nagmerrie ...
As ek uitdaag, moet ek gedwing word om te veg, of daar is geen poësie in
uitdaag nie. As ek belowe om getrou te wees, moet ek vervloek word as ek ontrou
is, of daar is geen lus in die belofte nie...Daarom moet selfs die wildste
romanse se resultate eg wees; resultate moet onherroeplik wees. Die Christelike
huwelik is die groot voorbeeld van 'n werklike en onherroeplike resultaat; en
daarom is dit die hoofonderwerp en middelpunt van al ons romantiese skryfwerk.”
Die romanse bly dus op spoor deur definitiewe keuses en definitiewe dogmas.
Dit beteken dat ons werklik met nuwe oë na die woord dogma sal moet kyk.
Enersyds sal ons die onbewuste dogmas van die tydsgees duideliker voor oë moet
kry. Mense soos genoemde Jordan Peterson help ons vandag baie hiermee. Die DIG-dogmas
word aan die meeste universiteite in ons land as evangelie aangebied. Ons sal
’n duideliker oog moet ontwikkel oor die dwang en nuutspraak soos wat Orwell
dit aangedui het, wat daardeur aan ons opgedring word. Ook die nuwe stel 10 gebooie
aan die hand van die DIG-dogmas behoort uitgeken te word as verplasing van die
10 gebooie van God. En ons sal ook die bekoorlike drama van die kerk se dogma
moet herontdek. Die kollega en tydgenoot van C.S. Lewis, Dorothy Sayers, wat
self diep teue gedrink het by oom Ches, het by geleentheid die volgende bekende
woorde oor dogma gesê:
"Ons word voortdurend verseker dat die kerke leeg is omdat predikers
te veel op dogma aandring - vervelige dogma soos mense dit noem. Die feit is
presies die teenoorgestelde. Dit is die verwaarlosing van dogma wat tot verveling
lei. Die Christelike geloof is die opwindendste drama wat ooit die verbeelding
van die mens verbyster het - en die dogma is die drama."[iii]
Sayers gaan dan voort om daarop te wys dat dogma sentraal staan in die vraag na wie Jesus as die Christus in die belydenis van die Kerk is. Sy wys dan ook op die fassinerende en dramatiese Persoon van Jesus Christus wat in die dogma van die Kerk bely word. Op my radar het ek 'n aantal jare gelede aan die hand van reformatoriese teoloë soos Kevin Vanhoozer en Michael Horton, met hierdie herontdekking van die drama in dogma van Sayers bekend geraak. Die drama-beeld het dan ook 'n goeie, en ek wil byvoeg boeiende effek, in beide Vanhoozer en Horton se teologie tot gevolg. So gebruik Horton byvoorbeeld 'n treffende struktuur van vier D's om die groot temas van sy sistematiese teologie te benader: Drama, dogma, dissipelskap, doksologie. Goeie dogma trek altyd hierdie ander D’s saam. Oom Ches herinner ons dat dogma onvermydelik is. En hy het moeite gedoen om in sy tyd reeds aan te toon dat die dogma van Christene vol avontuur is. Daarom is ware romanse ook nie ver van Christene af nie. Dit is in hulle mond en hulle hart om dit te glo, te bely en te leef.
[i] G.K.
Chesterton in Fancies Versus Fads.
[ii] G.K.
Chesterton, “The Debate on
Spiritualism (March 15, 1919),” The Collected Works of G.K. Chesterton, Vol. XXXI: The
Illustrated News, 1917-1919, Ed. Lawrence J. Clipper (San Francisco:
Ignatius Press, 1989), 31: 441.
[iii]
Sayers, D. The Greatest Drama ever Staged, in: Letters to a Diminished Church.