In die vorige aflewering is die bekende G.K. Chesterton, Oom Ches soos ons hom maar in die volksmond kan noem, aan die orde gestel. Hy verteenwoordig die heerlike alternatief op die visie van suspisie wat soveel ongeloof by ons in stand hou. In hierdie aflewering gaan ons, soos voorgeneem, fokus op ’n bekende artikel van hom, On running after one’s hat.[i] Hierdie ryk en humorgeurende artikel illustreer op treffende wyse oom Ches se gawe om die wonder in alles raak te sien. Ons weet in teorie dat ons almal veronderstel is om die lewe in groter mate as avontuur te sien. Maar ons het ook iemand nodig wat aan ons die nodige middele gee om ons te help om so te wees. Wel, in oom Ches het ons iemand wat ons hiermee kan help.
Soos vroeër genoem, is London vroeg in die 1900’s oorstroom deur vloedwater. ’n Mens kan jou die ongerief en frustrasie voorstel. Ook die waarde van radio’s en koerante in ’n tyd sonder hedendaagse media. By daardie geleentheid skryf oom Ches toe sy beroemde stuk. En let op die eerste treffende saak wat dalk of dalk nie Oom Ches se idee was nie, maar moontlik die wyse redakteur. Die vloed is op almal se lippe, maar die opskrif sluit aan by die tegniek van vervreemding om jou te help om met ’n verbeeldingryke draai terug by jou ongerief uit te kom.
Oom Ches se inleiding het wel met die deur in die huis geval. Hy is spyt hy
was nie daar toe die ongemaklike vloed plaasgevind het nie, want hy sien meer
as ongerief. Hy beleef selfs dat “woeste afguns” in hom opwel omdat hy nie daar
kan wees nie. Hy wys daarop dat jy nie jou romantieke oog hoef te verloor in
sulke omstandighede nie en dat dit die grootste verskil aan jou uitkyk en
praktyk kan maak. Hoe dan so? Oom Ches verduidelik dat hy sy geliefde distrik
aan die suidekant van London, Battersea, nou naas ander verruklikhede, in
verband kan bring met ’n skielike see van eilande.
Want daar is niks so poëties-perfek soos ’n eiland nie, sê oom Ches, en wanneer
’n distrik oorstroom word, het jy skielik ’n argipel, ’n see van eilande, op
jou voorstoep.
So het Battersea weer onder vloedwater in 2021 gelyk.
Foto-erkening: https://www.dailymail.co.uk/news/article-9825223/Britain-braced-flood-chaos-Storms-wreak-havoc-heavy-rain-HOURS.html
Jy het dan ook waterkanale en bootritte op ’n gondel met ’n visie van
Venesië. En daarmee saam ’n kruidenier wat soos ’n wafferse gondelier pakkies
by plekke moet aflewer. Hy brei later hierop uit deur voorbeelde van ander
lastige nietighede of dan nietige lastighede wat met die geordende oog, geoefen
in verbeeldingryke herkonfigurasie, benader moet word.
Chesterton lei in deur die aardse voorbeeld van ’n hoed wat in die wind
afwaai en waar die meeste van ons dan potsierlik moet nael om dit weer in die
hande te kry (eie byvoeging: met ons boepe en ons “bunyans” of dan knobbels).
Oom Ches merk terloops op dat sulke dinge wat ons maklik as vernederend
beskrywe eintlik maar net komieklik is. Hy sê (vertaald): “Daar is 'n idee dat dit vernederend is om agter 'n mens se hoed aan te
hardloop; en wanneer mense sê dit is vernederend, bedoel hulle eintlik dat dit
komies is. Dit is beslis komies; maar die mens is 'n baie komiese skepsel, en
die meeste van die dinge wat hy doen is komies - eet, byvoorbeeld. En die mees
komiese sake is presies die dinge wat die moeite werd is om te doen—soos die
liefdespel. 'n Man wat agter 'n hoed aanhardloop is nie halfpad so komieklik-lagwekkend
soos 'n man wat agter 'n vrou aanhardloop nie.”
Terug na die hoed wat afwaai. Jy het twee keuses in jou belewenisse van hierdie
soort ongerief, merk oom Ches op. Jy kan bloot gefrustreerd op die ergernis
fokus, of jy kan die jaagtog benader as ’n dinamiese jagtog van ’n wilde dier,
met al die “opwinding, die manlike ywer en die heilige vreugde” daaraan
verbonde. Oom Ches borduur nog verder hierop voort deur jou behoorlik in die
ruimte daarvan te plaas. Hy brei ook uit met ander bekende voorbeelde. Hierdie
ander gesindheid met die regte verbeelding sou ook kon geld vir die vlieg in
jou melk, die kurk in jou wynglas, en die laai wat haak as jy dit oopmaak, sê
oom Ches. Gaan lees gerus sy avontuurlustige voorstelle. Die laai kan ongelowige
moderniste, soos oom Ches hulle beskrywe, baie komieklik en selfs vreemd
gelowig laat klink: “…ek het al sommige mense met heelwat moderne sienings
geken wat, aangedryf deur hul nood, teologiese terme gebruik waaraan hulle geen
leerstellige betekenis heg nie, bloot omdat 'n laai styf vasgesteek het en
hulle dit nie kon uittrek nie.”
Maar oom Ches meen dat so ’n hantering van ’n laai nou regtig net ’n opinie
(“subkjektief en relatief” - waarskynlik ironies in die land van opinies) is.
Oom Ches gee vele beter alternatiewe. Jy kan dit byvoorbeeld mos eerder visualiseer
as gelykstaande aan ’n voortsetting van jou energieke en sinvolle poging om ’n
mede-sterfling uit ’n afgrond in die Alpe op te trek. Trou aan oom Ches se positiewe
uitkyk, het hy ook geen twyfel dat sy vriend wat met hierdie gesindheid by
laaie sukkel, en per implikasie ook sy lesers in London by die vloede, asook ek
en jy met ons eie lastige laaie of vloede, gehoor sal gee aan sy oproep om
anders te kyk, vindingryk te kyk, na ons sones van ongemak nie. Want ongerief,
sê oom Ches, is slegs een aspek, en nogal “die mees verbeeldinglose en toevallige
aspek van 'n werklik romantiese situasie.” En dan dien oom Ches sy bekende
valhou toe:
“'n Avontuur is slegs 'n ongerief wat reg
benader word. 'n Ongerief is slegs 'n avontuur wat verkeerd benader word.”
Hier moet ons dit dalk ook in die
oospronklike Grieks hoor: “An adventure is only an inconvenience rightly
considered. An inconvenience is only an adventure wrongly considered.” Dieselfde ervaring dus, ingemeng met ’n
heel ander gesigspunt, kan ’n heel ander gesindheid en houding en energie tot
gevolg hê. Wanneer ons nie hieraan gehoor gee nie, eindig ons een of ander tyd
by allerhande soorte beraders. En hulle herinner ons dan net op hul eie wyse
aan dit wat oom Ches reeds lankal op die rug van ’n goudglansende tradisie gesê
het. Een van die voordele met oom Ches is dat hy ons met sy talle geskrifte nou
reeds en weer en nog ’n keer kan help met herverbeelding van die werklikheid,
voordat ons geestesgesondheid dalk erg skade gely het. En die wonderlike is dat
sy nimmereindig ryk en kleurvolle verbeelding nie gegrond is op blote interessante
opinie nie. Dit word baie spesifiek ontplooi vanuit geloofsverwondering oor die
Godgegewe en permanente werklikheid wat ons in ontvangs mag neem en wat hemel
en aarde met mekaar in verband bring. Daaraan kan ons saam met oom Ches onsself
telkens weer in die geloof oorgee. Wie dit doen, vind rymende variasie en nuwe
stof tot lof om God en sy wêreld te geniet.
Ons het stewige dosisse hiervan nodig om uit die gate van murmurering, sinloosheid,
en suspisie te kom. Ons het oral meer mense nodig wat ons bedien met so ’n
visie waar jy, soos wat dominees met voornemende egpare skerts, die tydelike
met die heerlike verwissel. Dan doen ons dieselfe dinge met nuwe gesindhede en
word selfs die ou dinge ook nuut. Dan ontdek ons die avontuurlike selfs in
huidige ongerief. Daar is baie skrywers wat sekerlik hiermee kan help. Maar oom
Ches het sy posisie ingeneem waar hy, trou aan sy destydse grootte, twee plekke
volsit. Ek sou aan my lesers wat bietjie meer wou weet, wel verder van oom Ches
kon vertel – as iemand wat ook maar net by perron nommer twee staan. Maar
daarvoor is aanmoediging nodig.
[i] In
All things Considered, beskikbaar by https://en.wikisource.org/wiki/All_Things_Considered/On_Running_after_One%27s_Hat