Lees:
Luk. 13:1-9
Gedagte vir kinders: Wie die
Here se roepstem hoor, moet duidelik antwoord en vrugte dra.
Oorsig: Die Here Jesus was met sy apostels
op pad na Jerusalem om die groot versoening tussen God en mense deur sy kruis
heen te bewerk. Op pad daarheen het Hy oor baie dinge van God se koninkryk
gepraat. Hy het ook wonders gedoen en vrae wat opgekom het hanteer. Een so ’n
geval het plaasgevind toe mense vir hom berig gebring het van die Romeinse goewerneur,
Pontius Pilatus, wat in daardie tyd daar aangestel is. Hy het deur sy soldate sekere
Galileërs in die tempel doodgemaak terwyl hulle offers gebring het. So het die
bloed van die mense gemeng geraak met die offers van die diere (v.1). Daarmee
het hulle deur geweld duidelik maak wat met enigeen gebeur wat die Romeinse mag
probeer teengaan.
Die Here
Jesus het hierop geantwoord deur vir die mense te vra of hulle dink dat hierdie
Galileërs met wie dit gebeur het, groter sondaars was al die Galileërs uit die Noorde
van die land omdat hulle so moes omkom (v.2). Hy het self geantwoord dat die
antwoord nee is, maar hulle moes tog die regte boodskap hieruit kry. Hulle moes weet dat almal wat hulle nie
bekeer nie, net so sal omkom (v.3). Die Here het hierna ’n verdere voorbeeld
bygevoeg wat ook met ander mense as die Galileërs gebeur het. Daar was 18 mense
op wie die toring van Siloam in daardie tyd geval en hulle gedood het. Hy het
gevra of ook daardie mense meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem
woon (v.4). Weer eens was sy antwoord nee. Ook hier was boodskap dieselfde. As
mense hulle hul nie bekeer nie, sou hulle almal net so omkom. Die tragiese
gebeure was dus wel ’n vingerwysing na die tragiese einde van die tweede dood
na hierdie dood (vgl. Op. 22:11-15) as hulle hul nie tot die lewende God bekeer
nie (v.5-6).
Hierna het
die Here Jesus ’n gelykenis vertel. Daar was ’n man wat ’n vyeboom in sy
wingerd gehad het. Dit het waarskynlik daar gestaan omdat die grond so vrugbaar
daar was. Die man het daarom gekom en vrugte daaraan gesoek, maar niks gekry
nie (v.6). Toe het hy vir die tuinier gesê dat dit nou al drie jaar is wat hy
kom om vrugte daaraan te soek en niks kry nie. Die tuinier moes dit daarom uitkap
omdat dit net die grond onvrugbaar maak. Die tuinier het egter gepleit dat hy
dit nog een jaar moes laat staan totdat dit hy weer gespit en mis gegooi het.
As dit dra dan vrug dra, goed, maar indien nie, kon dit die volgende jaar
uitgekap word. Die vyeboom staan vir Jerusalem en vir elkeen tot vandag toe wat
nie reageer op die boodskap van Jesus Christus en die bewys daarvan lewer deur
vrug te dra wat by die bekering pas nie.
Besprekingsvraag: Wanneer is teenstand teen
die woord bekering geldig en wanneer nie?
Insig: Erge lyding en rampe gebeur in
hierdie lewe en gelowiges is nie gevrywaar nie. Die Galileërs uit die noorde het
moeite gedoen om in Jerusalem te gaan offer, en kyk wat gebeur. Ons moet waak
teen enige goedkoop oplossing wat ’n direkte verbintenis maak tussen iemand se
geestelike toestand en rampe wat hulle wel tref. Elke slegte ding wat gebeur hoef
ook nie aan persoonlike sonde toegeskryf te word nie. Dink aan Job en die
worstelinge in Prediker. Selfs die lydingsvraag word egter in goedkoop
oplossings (via John Stuart Mill) uitdagend gestel: Of God is nie goed nie, of
Hy is nie almagtig nie. Hierdie tipe gesindheid openbaar geen insig in die
heiligheid van God en die sonde wat aan ons vaskleef nie. As God heilig is en
ons sondig, moet daar noodwendig hartseer in die wêreld wees totdat alles
verlos is. Ons worstel steeds hieroor, maar uiteindelik berus ons dat God
soewerein is en alles ten goede kan laat meewerk. En ons moet eerder oplet na wat
sonde in die hierdie wêreld gedoen het.
Christus
wys in sy antwoord duidelik daarop dat tragiese gebeure nie net gebeur met sekere
soorte mense nie. Sy antwoord maak ook duidelik dat ons nie bloot na die graad
van iemand se sonde moet kyk nie, maar eerder na ’n gevalle werklikheid wat ons
roep tot verootmoediging en inkeer. Lyding en rampe toon aan dat ons kwesbare sterflinge
is wat raad moet hê met die dood. Al sou ons nie baie seerkry of doodgaan deur
skielike lyding of ramp nie, gaan ons elkeen sterwe en as ons nie die bekering
tot God in Christus ken nie, sal ons uiteindelik net so tragies omkom in die
tweede dood, vir altyd weg van God. Daar is iets baie erger as die eerste dood.
Daarvan was die verbondsoordele wat oor Israel gekom reeds ’n teken. Daarom moet
die verbondskind en ’n verbondsvolk sekerlik altyd hier begin en vra of God se
verbondsoordele moontlik wel van toepassing is. Want die vyeboom was dikwels
die beeld vir Israel (vgl. Ps. 80:9-19; Jes. 5: 1-7; Jer. 8:13; 24:1-10; Hos.
9:10,16-17; Mig. 7:1; Mt. 21:18-19; Mk. 11:12-14, 20-21). Hulle het egter nie
vrugte gedra in Christus se bediening nie en in 70n.C. sou die verbondsoordeel
van God losbreek toe Jerusalem en die tempel verwoes is (vgl. Lk. 21:5-7). Die
hele Israel is egter nie vir altyd verlore nie (Rom. 11:12,14,26-27). Ons moet wel
die vingerwysing hoor van tragiese gebeure wat heenwys na ’n slegte einde wat
vermy moet word.
Ons moet
egter ook op die hoopvolle antwoord ag slaan. Daar kan ook iets wees soos
tragiese gebeure met ’n goeie einde. Maar dan moet ons hoor dat Christus die
woord bekering herhaaldelik gebruik. In samehang met genadetyd en vrugdra. Ware
bekering wys noodwendig in die vrugte wat ons dra (vgl. Hd. 26:20; Tit. 2:11-14).
’n Afvallige samelewing wil dit nie hoor nie. Byna alles moet nou eerder
verklaar word in terme van slegte ervarings, persoonlikhede, pluralisme,
gelykheid van opinies, en watter ander vyeblaar-verskonings ook al,
godsdienstigheid ingesluit. Juis daarom het Christus gekom. Juis daarom het ons
bekering in Hom nodig. Die goeie nuus is dat Hy deur sy versoening ook bekering
skenk (Hd. 5:31).
Werke geraadpleeg:
Bergsma, J.
The Word of the Lord. Year C.
Bock, D.L.
Luke: NIV Application Commentary.
France,
R.T. Luke: Teach the Text Series.
Sproul,
R.C. Luke: An Expositional Commentary.
Moontlike skema:
Tragiese gebeure en goedkoop oplossings
Tragiese gebeure en 'n slegte einde.
Tragiese gebeure en 'n goeie einde.